Vrydag , Julie 20 2018
Home / Movies / MERICAN ANIMALS in plaaslike teaters die naweek!

MERICAN ANIMALS in plaaslike teaters die naweek!

AMERICAN ANIMALS is ’n spanningsvolle en merkwaardige rolprent oor twee universiteitsvriende, Warren Lipka (Evan Peters) en Spencer Reinhard (Barry Koeghan) wat so moeg is vir die eentonigheid van hulle alledaagse bestaan, dat hulle desperaat raak vir ’n bietjie opwinding en besluit om dit vir hulleself te skep deur een van die mees gewaagde kunsboekrooftogte in Amerikaanse geskiedenis uit te voer by die Universiteit van Transylvania in Lexington, Kentucky in 2004. Omdat hulle dit nie alleen kan doen nie, oortuig hulle twee ander vriende, Eric Borsuk (Jared Abrahamson) en Chas Allen (Blake Jenner), om saam met hulle geskiedkundige kunsboeke ter waarde van $10-miljoen te probeer steel, wat almal op die ou einde in die tronk laat beland!

Dié fliek sal by die volgende teaters vertoon word:

Kaap:  Tygervalley, Blueroute, V & A Waterfront (SKT NOUV), Garden route, V & A Waterfront (NM), Labia Orange St.

KZN:  Gateway

Gauteng:  Cedar Square (JHB), Cradlestone (JHB), Brooklyn Nouv (PTA), Rosebank Nouv (JHB), Sandton (JHB), Bedford Square (JHB), Woodlands (PTA), Movies@monte (JHB)

Dié ware verhaal, wat jou van die begin af boei en op die punt van jou stoel hou, is bekendgestel by die Sundance-rolprentfees wat in Januarie 2018 plaasgevind het. Wat dit so besonders maak, is dat die Britse regisseur (wat ook sy debuut maak as narratiewe speelfilmregisseur) en draaiboekskrywer, Bart Layton, dit vertel deur middel van ’n kombinasie van fiktiewe narratief en regte dokumentêrstyl-insetsels vanuit die oogpunt van die betrokke partye, wat dit baie duidelik maak dat alles nie so eenvoudig is soos wat dit mag lyk nie.

Volgens Layton, wat bekendheid verwerf het vir misdaaddokumentêr, The Imposter (2012), waarvoor hy ’n BAFTA-toekenning gewen het, het hy dadelik geweet dat hierdie misdaadverhaal die potensiaal het om ’n goeie fliek te wees. Soos wat hy meer oor die saak gelees het, het hy besef dat daar iets vreemd daaragter moes skuil, omdat dit duidelik is dat die vier nooit hierdie misdaad suksesvol sou kon deurvoer nie. “Ek het besluit om met die regte persone kontak te maak omdat ek wou uitvind hoekom vier intelligente ouens, uit goeie huise, in die eerste plek met so iets sou wou voortgaan,” verklap hy. “Elkeen het ’n ander rede gegee vir hoekom hulle betrokke geraak het en omdat daar ’n algemene gevoel was dat hulle geen merkwaardige lewenservaringe gehad het nie, het hulle besluit om een te beplan deur misdaadflieks te kyk en op die internet navorsing te doen. Met tyd het dit al hoe moeiliker geword om afstand te doen van hierdie fantasie wat geskep is.” Vervaardigers Dimitri Doganis (The Imposter), Katherine Butler (Kill List), Derrin Schlesinger (Four Lions) en Mary Jane Skalski (Pariah) was ook betrokke by hierdie produksie.

Die fliek spog verder ook met ’n uitstekende rolverdeling en het reeds baie lof ontvang vir uitstekende vertolkings deur die hoofrolspelers. Evan Peters, wat bekend is vir die karakter Quicksilver in die X-Men-filmreeks, vertolk die rol van die voorbok, Warren Lipka, in hierdie aksiebelaaide misdaadverhaal, terwyl Barry Koeghan (The Killing of a Sacred Deer) die rol van die kunstige middelklasstudent, Spencer Reinhard, speel. Die voormalige bokser, Jared Abrahamson (Travellers), en Blake Jenner (The Edge of Seventeen) is, onderskeidelik, te sien as Eric Borsuk en fiksheidsfanatikus, Chas Allen.

AMERICAN ANIMALS beloof om kykers in te trek in ’n boeiende spanningsavontuur, wat die lyne tussen fantasie en realiteit aspris laat vervaag om insae te gee in die gemoedstoestand van die jongmense wie se lewens onherroeplik verander is deur ’n ondeurdenkte daad. Wanneer jy die bioskoop verlaat, sal dit wees met gemengde gevoelens… omdat ’n deel van jou sal worstel met die gedagte of die straf regtig gepas was vir die misdaad en of die bietjie opwinding regtig die prys werd was.

Die fliek word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 6 Julie 2018.

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor AMERICAN ANIMALS, insluitend die amptelike lokprent, hou Ster-Kinekor se Facebook-blad dop of volg hulle op Twitter by @SterEnt en gebruik die hutsmerk #AmericanAnimalsSA om oor die fliek te gesels.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook

Instagram: @ameranimals

Twitter: @AmerAnimals

Webblad

Hutsmerk: #AmericanAnimals

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Frankenstein se skrywer kry lewe op die grootskerm!

Sy sal vir altyd onthou word as die skrywer wat Frankenstein aan die wêreld gegee …

Opwindende aksie-riller met Jodie Foster oppad!

Seergekry tydens ’n roof, gehawend na ’n bankroof, of geskiet toe jy ’n duister daad …