Meerkat Maantuig film aanvaar om by 8 internasionale filmfeeste te wys!

254

Die betowerende film, MEERKAT MAANTUIG, wat landswyd in Suid-Afrika op 16 Maart 2018 vrygestel word, is reeds aanvaar om by agt internasionale filmfeeste te wys.

Die film se skrywer en regisseur, Hanneke Schutte, het die jeugnovella ‘Blinde Sambok’ deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer Riana Scheepers, as uitgangspunt gebruik en dit omskep in ’n kinematiese verhaal wat in die wonderlike woude van Magoebaskloof in Suid-Afrika afspeel.

Die film vertel die verhaal van Gideonette de la Rey, ’n vreesbevange 13-jarige meisie wat glo aan haar familie se generasie-vloek en daarom is sy oortuig daarvan dat sy die volgende persoon gaan wees om ’n voortydige dood te sterf. Bang en desperaat kan sy nie van hierdie storie ontsnap wat haar werklikheid defineer nie. Uiteindelik kan sy slegs haar vrese oorkom deur hulle in die gesig te staar.

Die eerste vertoning van Meerkat Maantuig het plaasgevind by die jaarlike Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad in 2017 waar die film genomineer is vir Beste Kinematografie, Beste Produksieontwerp en Beste Regisseur. Die kinematograaf Willie Nel het die toekenning vir Beste Kinematografie ontvang.

“Die storie leef beslis op tot die estetiese en dit is ’n film wat jou hart steel.” – Jaco Barnard-Naudé, Litnet.

“’n Magiese wêreld gevul met verbeelding en vriendskap met ’n aangrypende, verrassende storie.”  – Leon van Nierop.

In November 2017 het Meerkat Maantuig sy Noord- Amerikaanse premiere by die gesaghebbende Austin Film Festival in Texas gehad. Die regisseur, Hanneke Schutte, het die fees bygewoon en sy was oorweldig deur die positiewe reaksie. Die film het soveel aandag getrek by hierdie fees dat dit ’n addisionele encore Buzz-vertoning ontvang het. Meerkat Maantuig het ook wonderlike resensies by die Austin Film Festival ontvang, insluitend:

“Hierdie Suid-Afrikaanse film kombineer ’n suiwer hart en die handgeslypte aardigheid van Moonrise Kingdom met die donker, emosionele towerkrag van The Secret Garden om ’n aangrypende feeverhaal te vertel.” – Adrian Patenaude.

“Ek was mal oor hierdie film. Dit het my so beïndruk.” – Gadi Elkon, Selig Film News, Dallas.

“Suid-Afrikaanse filmmaker Hanneke Schutte se stil film bied meer diepte en kunssinnigheid as ander verhale oor die jeug en noodlottiges.” – Nathan Matisse, Conde Nast, Ars Technica.

Meerkat Maantuig is ook gelys as die nommer een film op die Amerikaanse filmkritikus Jesse Knight se lys van Top 10 Onuitgereikte Films in die VS.

“Schutte se onmiddellike ‘coming-of-age’ klassieke film is ’n wasige feeverhaal oor hartseer, verlies en vriendskap, met twee van die mees aangrypende kindervertolkings nog ooit. Daar sal trane wees.” – Jesse Knight, VS Filmkritikus.

Die film is ook ingesluit in die US Film Bloggers Bill en Bill Movies se lys van top films van 2017 saam met ’n indrukwekkende lys van lokettreffers en Oscar-genomineerdes.

Die film is amptelik gekies deur ’n lys gesogte filmfeeste, insluitend die Austin Film Festival, Oxford Film Festival, Sedona Film Festival in Arizona, The Kids First Film Festival (die grootste kinderfilmfees in die wêreld), The Bay Area Children’s Festival buite San Fransisco, die Omaha Film Festival, Nebraska, die Calcutta International Cult Film Festival en die GUKIFF International Kids Film Festival in Seoul, Korea.

Kyk die lokprent hier:

MEERKAT MAANTUIG, ’n film deur The Film Factory, is vervaardig deur André en Dries Scholtz, en is tot draaiboek verwerk deur Hanneke Schutte, wie ook verantwoordelik is vir die regie van die film. Die film word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal vanaf 16 Maart 2018 landswyd in teaters te sien wees. Rooi Rose is die trotse mediavennoot van die film.

MEERKAT MAANTUIG Kontak:

Webtuiste

Instagram

Facebook

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie