Woensdag , Maart 27 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Martin Bester verras met ‘n nuwe Afrikaanse reggae-enkelsnit!

Martin Bester verras met ‘n nuwe Afrikaanse reggae-enkelsnit!

Martin Bester wou nog altyd uniek en suksesvol wees in alles wat hy aanpak en sy musiek is geen uitsondering nie. Daarom is dit glad nie vreemd dat hy, met sy jongste enkelsnit, nuwe lewe kom blaas in die Afrikaanse musiekmark nie.

KONINGS, dié veelsydige kunstenaar se splinternuwe vrystelling, is nie net sag op die oor nie, maar sal jou ook onwillekeurig laat saam wieg op die maat van ’n luilekker eiland-wysie. Die liedjie beloof om nie net in ’n japtrap bo-aan elke partytjiespeellys-treffersparade te pronk nie, maar sal ook aanklank vind by oud en jonk.

Volgens Martin, gaan die snit oor die nostalgie van somervakansies uit die verlede. Dit gaan oor vriende, vakansieromanse, kuiers om die vuur, sonsondergange en spesiale herinneringe. “Die genre is Afrikaanse Reggae. By my vertonings doen ek altyd ’n Bob Marley-liedjie en almal sing saam. Dit het ’n goedvoel element en voel soos vakansie en dit is wat ek ook wou skep,” verklap die vermaaklikheidster die rede agter die skep van sy nuutste treffer.

Hierdie meesleurende eilandstyl-liedjie, uit die pen van Martin, Dolf Willemse en Ewald Janse Van Rensburg, lê die kunstenaar na aan die hart omdat hy self spesiale tye gehad het oor Desembervakansies en op ’n kol by ’n vakansieoord gewerk het. “Elke oomblik wat ek voor mense kan optree, konsert kan hou of deur die land kan toer met my musiek, is vir my ’n hoogtepunt. KONINGS is iets heeltemal nuut en anders en ek voel dis die regte tyd vir ’n Afrikaanse Reggae-tune,” sê hy.

Oor die komende musiekvideo mag hy nog nie veel sê nie, maar hy verklap wel dat dit by die see verfilm gaan word.

KONINGS volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers, soos Vir Die Liefde en Sterre wat baie goed ontvang is en steeds gereeld speeltyd oor die radio geniet – plaaslik en selfs in Namibië.

Martin is een van die bekendste radiopersoonlikhede in die land, was al aanbieder van ’n paar televisieprogramme, waaronder Wie’s my Liefie op VIA en het ook klein rolle gehad in Afrikaanse rolprente soos Pretville, Vrou Soek Boer en Sonskyn Beperk. Kinky Robot, die groep waarvan hy die hoofsanger is, is benoem vir ’n SAMA en sy debuut solo-album, Vir Die Eerste Keer, is van die begin af goed ontvang. Die lirieke van Hobie Beach, Kinky Robot se eerste enkelsnit, is ook onlangs ingesluit in ’n Engelse handboek vir graadelfs.

Sy werk het hom al na interessante plekke, verhoë en geleenthede regoor die wêreld gestuur en verlede jaar het hy die land plat te reis met sy Vir Die Liefde-Toer.

Die bedryf het vir Martin Bester geleer om sy instink te vertrou wanneer dit by musiek kom en KONINGS is ’n duidelike bewys dat syne in die kol is. Dié goedvoel-enkelsnit sal luisteraars nie net onmiddellik in ’n vakansie-stemming plaas nie, maar hulle ook vrolik laat saamsing en –wieg op ’n baie besonderse Afrikaanse ritme.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Instagram: @martin.bester

Twitter: @MartinBester

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Deon Groot vier goeie tye!

Ons lewe in moeilike tye, met soveel probleme en bekommernisse en dis dikwels moeilik om …

Nuwe Afrikaanse Duo stel eerste enkelsnit vry!

SKEMER, ‘n nuwe Afrikaanse man- en vrou-duo, het pas hulle heel eerste enkelsnit vrygestel en …