Madeliefie Makietie bring hulde aan die harde werk van Agri-werkers

411

Die Matzikama-streek se landbousektor, en veral die agri-werkers in die streek, is vanjaar deel van die fokus van die jaarlikse Madeliefie Makietie-projek.

“Madeliefie Makietie fokus op die bemagtiging en uitbreiding van alle sektore in die Matzikama omgewing en loods inisiatiewe om die sektore uit te brei. Daarom is daar vanjaar fokus op die landbousektor en veral sy werkers, met die doel om te bemagtig,” sê Cindy Schade, skakelbeampte van Madeliefie Makietie.

Die Landbou Gemeenskap Ontwikkeling-organisasie (LGO) bied vanjaar ’n agriwerker-sportdag by Madeliefie Makietie aan. Dit vind op Vrydag, 30 September op die Vredendal Sportgronde plaas.

Die program bestaan uit ’n motiveringspreker vir agri-werkers, gevolg deur speletjies soos domino’s, toutrek en vele ander kompetisies. Talent vanuit die omgewing sal ten toon gestel word deur middel van sang en dans.



Benewens die Agriwerker-Sportdag bied die LGO-organisasie ook ’n produsente-ontbyt die dag aan, waartydens daar ’n landbou-ekonoom en ’n motiveringspreker die produsente sal toespreek. Fondse wat met die ontbyt ingesamel word, sal aangewend word vir die ontwikkeling en opheffing van Agri-werkers en hul gesinne in die Matzikama-streek. Ná afloop van die ontbyt sal produsente die geleentheid kry om die prysuitdeling van die Agriwerkers-sportdag by te woon.

Om die landbou-ondervinding by die fees behoorlik af te rond, sal daar ook ’n landbou-uitstalling wees tydens die fees. Die tydskrif Veeplaas en landbouwebwerf Agriorbit.com is media-borge van die projek.

Kaartjies is beskikbaar by Shoprite/Checkers en House & Home en aanlyn by Computicket. Besoek die amptelike webtuiste van die fees by www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments