Donderdag , Oktober 17 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Maak my President sê Chané!

Maak my President sê Chané!

“Maak my die president van die liefde, lewe en geluk!” vra die pragtige sangeres Chané Valentine in haar splinternuwe trefferliedjie “Die verkiesing”.

Chané is deeglik opgelei in sang, musiek, dans en drama. Sy is ook ʼn gesogte fotografiese model wat al die voorblaaie van uiteenlopende tydskrifte versier het.

Sedert die uitreiking van haar debuutalbum Liefies vir jou in 2012 word haar liedjies op verskeie radiostasies landwyd en, ná oorsese optredes, ook internasionaal gehoor.IMG_7960

Chané, wat Suid-Afrika al talle kere by internasionale sangkompetisies in Wallis, Orlando en Los Angeles verteenwoordig het, as genooide kunstenaar by die Miss Mediterranean-skouspel in Ciprus opgetree het en onder meer met ʼn hoër sertifikaat in musiekvertolking van COPA (Campus of Performing Arts) spog, se musiek word gereeld op radiostasies in Australië en Nederland en op Radio Eurovision International gespeel.

Nou word aanhangers opnuut met haar verfrissende styl bederf. Die nuwe liedjie kom uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer en is vernuftig deur die vaardige liedjieskrywer, sanger en musiekregisseur Vaughan Gardiner (MUSE Productions) vervaardig. Dis ritmies modern en pop-smeulend.

Chané se styl is sorgeloos en energiek, gegeur met ʼn skeut eerlike emosie. Wanneer sy nie op die verhoog of tydskrifvoorblaaie pryk of in televisiereekse, rolprente en musiekvideo’s skitter nie, verruil sy die glans van die vermaakwêreld vir onbaatsugtige liefdeswerk vir die Dierebeskermingsvereniging.

Dié voormalige hoofmeisie, rasieleiers-kaptein en voorsitter van Vereeniging se Rotariërsklub lééf haar passies: die liefde vir musiek en diere.

Deel gerus in “Die verkiesing” en maak jou regmerkie langs haar naam!

Chané se musiek weerkaats in haar skoonheid.

 

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Douvoordag sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in nuwe enkelsnit!

Die gewilde duo, Douvoordag (Jattie & Ilse de Beer), sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in hulle …

Nuwe enkelsnit Die Heelal met Janie Bay en Early B pas uitgereik!

Die gewilde sangeres Janie Bay het pas haar tweede enkelsnit in 2019 uitgereik. “Die Heelal”, …