Liza Brönner bring internasionale pop-klanke in Afrikaans!

841

Dit was ‘n groot jaar vir almal se liefling, Liza Brönner; haar nuwe album is vir ‘n Ghoema-toekenning benoem en sy is gereeld op die verhoog regoor die land te sien. Hierdie week stel sy ook ‘n nuwe enkelsnit bekend genaamd, Emosioneel.

‘Die liedjie is bietjie anders as die res van die snitte op my album aangesien dit ‘n baie meer internasionale popklank het. Ek dink dit is goed vir die musiekbedryf om so nou en dan ietsie nuuts te hoor en te probeeer. Mens is nooit seker of dit gaan werk nie maar ek is bereid om die kans te vat,’ vertel Liza.

Liza het self die liedjie geskryf en haar vervaardiger, Jake Odendaal, het bietjie help skaaf om hom albumgereed te kry.

‘Emosioneel gaan oor ‘n vrou wat verlief is en sy weet ook dat appel van haar oog ook op haar verlief is, maar ongelukkig kan hy dit nie verwoord nie. Dus voel sy maar frustreerd, kwaad, moedeloos maar tog steeds verlief. Dus kan sy nie anders as om haar gevoel as ‘Emosioneel’ te beskryf nie.’

Haar nuwe musiekvideo word ook binnekort beskikbaar gestel en Kyknet se Top 20 saai ‘n ‘agter-die-skerms’ insetsel Vrydag, 25 Augustus uit.

Liza het alreeds drie jaar gelede diep in die publiek se harte gekruip tydens haar rol as Liefling Marais in die musiekblyspel, Liefling, en haar nuwe album roer verseker die hartsnare. Dit het haar meer as twee jaar geneem om aan die nuwe album, Dans op jou eie, te werk en volgens Liza was dit ‘n goed deurdagte proses.

‘Ek het self geskryf en ek wou nie ‘n album uitsit waarmee ek nie 100% tevrede was nie. Ek het seker gemaak ek gaan soek diep in my hart en skryf wat ek beleef en voel sodat gewone mense daarmee kan vireenselwig.’

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments