Liezel Pieters stel nuwe enkelsnit vry

163

Liezel Pieters is ‘n sangsensasie wat ‘n geruime tyd reeds gehore verstom met
haar fenominale vernuf en veelsydigheid. Nou is dié Krone- en 4Werke-gunsteling se debuutalbum uiteindelik hier!

“Sing my hart uit” is ‘n album wat in 15 snitte van pure bederf die allerbeste van een van Suid-Afrika se mees opwindende nuwe talente ten toon stel – ‘n ryke en unieke vermenging van pop, country en selfs ‘n tikkie rock.

Nuutskeppings soos “Droë riviere”, “Gooi jou liefde op my neer”, “Wie jy is”, “Meer as net vriende” en “Sing jou hart uit” span hartslirieke, aansteeklike ritmes en meevoerende melodieë in om ‘n kleurvolle boeket van emosies in jou hart in te sing.

Dis veral in haar vertolkings van internasionale treffers soos Helene Fischer se “Heaven is here”, Air Supply se “Making love out of nothing at all”, Maria McKee se “Show me heaven” en haar aangrypende duet met Ray Dylan – Christina Aguilera se “Just a fool” – waar die volle omvang van haar indrukwekkende vokale register behoorlik verken word – iets wat selfs diegene wat moeilik beïndruk word sal oorwen.

Volgens Liezel is die titel van dié album ‘n weerspieëling van hoe sy die goed en sleg van die lewe vier, verwerk en oorkom: “Musiek bied ‘n manier om jou emosies neer te pen en om uiting te gee aan die dinge van jou hart en siel. Daarom is dié album een wat
met sy hart op sy mou loop en die wat daarna luister op reis sal neem – van die diepste valleie tot die hoogste kruine van die lewe!”

Liezel Pieters se debuut is alles wat ‘n mens van haar verwag, en soveel meer – beslis die luister werd!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments