Dinsdag , Oktober 16 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Leon Gropp stel eerste enkelsnit bekend!

Leon Gropp stel eerste enkelsnit bekend!

Die bekroonde kitaarspeler, Leon Gropp, se eerste solo-enkelsnit word hierdie week vrygestel. BAKENLIG beloof nie net om luisteraars se hartsnare te prikkel en vir hulle ’n hele nuwe kant van hom te wys nie, maar ook om vir dié talentvolle musikant ’n stewige plek, as sanger, te vestig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

BAKENLIG gaan oor die terugkeer na dit wat jou in die lewe anker. Dit kan in verskillende kontekste toegepas word, maar die idee is in hierdie geval meer ’n fisiese plek wat vir jou waarde dra. Ons almal het egter emosionele en geestelike ‘bakenligte’ ook,” vertel Leon oor hierdie alternatiewe snit wat sy sangtalent aan die land gaan bekendstel. “Ek en Jattie de Beer het saam geskryf aan die lied. Ons verlede (geskiedenis) kom met ’n bepaalde konteks en dit vorm tot ’n groot mate ons denkwyse en -patrone. So om terug te keer na daai plek, daai anker, daai ‘bakenlig’ (hetsy fisies of geestelik) is belangrik om vorentoe toe te kan beweeg.”

Hierdie liedjie is splinternuut en die eerste van heelwat nuwe materiaal wat Leon begin skep het ná die vrystelling van sy debuutalbum, Rooidag.  Kyk gerus uit daarvoor op digitale platforms en skaf dit aan!

’n Musiekvideo van BAKENLIG, wat deur Fritz de Jager van Bottomside Studios opgeneem gaan word, word ook vir later beplan. “Ek het met die lied doelbewus probeer om iets te skep wat meer ‘gemaklik’ luister, dog steeds poëties is en sou graag wou hê dat mense intellektueel en emosioneel geraak word deur my musiek,” verduidelik hy.

Leon is al van jongs af versot op musiek en het, vir so lank as wat hy kan onthou, in kore en ander sanggroepe gesing. Hy het egter eers in matriek vir die eerste keer met die kitaar kennis gemaak en was dadelik verlief. Die Pretorianer het die professionele wêreld van musiek amptelik betree as deel van ’n mansgroep, Hi-5, wat die land platgetoer het en selfs ’n optrede saam met Nataniël gehad in die Royal Albert Hall in London. In 2007 het hy deel geword van die kitaarduo, CH2, wat oor die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings gewen het, waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, en ook by die grootste feeste in die land opgetree het. Hy het egter onlangs besluit dat dit tyd is om sy solo-sangloopbaan ’n kans te gee.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ook betrokke by ’n program wat personeel binne groot besighede help om verandering te hanteer. Saam met veranderingsbestuurkenner, Jaco Boëttger, reis hy die land en wêreld vol om mense in die werkplek te inspireer. Verder is hy ook ’n pa en man, wat dit geniet om tyd saam met sy gesin deur te bring.

As jy hom uitvra oor sy gunstelingmusiek, verklap hy: “Ek is maar ’n ‘sucker’ vir goeie harmonie. So enige musiek waarop ’n mens lekker kan harmoniseer is vir my mooi. Daar is ’n magdom plaaslike musikante wat my daagliks beïnvloed en inspireer, soos Joshua na die Reën, Elvis Blue, Coenie de Villiers, Loki Rothman en die lys gaan aan.” Internasionaal is dit kunstenaars soos Sting, Coldplay, U2 en vele ander wat ook ’n groot invloed gehad het op sy musiekstyl.

Leon Gropp gaan verseker nou ook bekendheid vir sy pragtige stem, sielvolle musiek, betekenisvolle lirieke, unieke musiekverwerkings en gesellige verhoogpersoonlikheid verwerf. BAKENLIG is ’n besonderse liedjie met ’n meesleurende melodie, wat in jou kop vassteek lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. Dit bou nie net voort op sy bestaande reputasie as uitsonderlike musikant nie, maar dui ook ’n opwindende nuwe musiektoekoms as sanger wat op hom wag.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @leongropp

Instagram: @leongropp

YouTube

Web

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Valeska Muller stel nuwe pop-danssnit vry!

Valeska Muller is een van daardie kunstenaars wat jou laat stilstaan wanneer jy haar vir die …

‘n Nuwe enkelsnit en album vir Afrikaanse musieklegende!

Met musiekstyle en –tendense wat konstant verander, vat dit ’n merkwaardige musikant om relevant te …