Len Muller se langverwagte musiekvideo is hier!

24

Die musiekvideo van Len Muller se gewilde enkelsnit, EK GLO, is pas bekendgestel. Dit neem die kyker op ’n liefdesreis vol deernisvolle oomblikke, wat die hart net soveel sal raak soos die lirieke en sielvolle vertolking van hierdie kitstreffer.  

Kyk die video hier:

Len, wat bekendheid verwerf het vir sy aangrypende lirieke en strelende stem, se solo-loopbaan het in 2012 afgeskop toe hy Richardsbaai verruil het vir Pretoria se stadsliggies. Sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer. Sedertdien het hierdie blondekopsangsensasie ’n prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers. Smag na Jou, die debuutenkelsnit, is vandag steeds ’n gunsteling en is gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie, Strikdas. Vir Die Een Wat Geval Het, wat in 2016 saam met Joshua na die Reën uitgereik is, het groot opslae gemaak en kry gereeld speeltyd op die radio en kassie.

EK GLO, wat in 2016 bekendgestel is, is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf sy nuwe album, Oog van die Storm, wat in Junie 2017 uitgereik word. Die liedjie, wat deur Gideon Botes vervaardig is, is eie aan die Afrikaans-Akoestiese styl waarvoor Len bekendheid verwerf het en is deur die sanger self geskryf. “Die lied kom uit ’n seisoen waar ek heelwat geloofspronge moes vat om dit te doen wat ek geroep is om te doen. Geloof het ’n groot rol gespeel om my deur hierdie moeilike tyd te dra. Hierdie liedjie is in ’n sekere sin ’n uitnodiging om te glo. Om te glo in ’n Skepper wat die pad aanwys, maar ook om te glo in dit wat Hy in ons elkeen geplaas het,” vertel hy. “Ek wou graag ’n lekkerluisterliedjie skryf, waarop mense kan dans of selfs om die braaivleisvuur kan geniet. Daarom het dit ’n voelgoed-klank en ’n positiewe boodskap. Ek hoop dat dit mense sal inspireer om aan hulle geloof vas te hou ten spyte van hulle omstandighede.” Die snit is baie goed deur radiostasies en die publiek ontvang en het verskeie weke op die nommer een posisie van verskeie treffersparades gekuier.

Die beeldmateriaal vir die musiekvideo is oor die jare versamel en deur Duck Soup Productions aanmekaar gesit. “Baie goeie vriende van my se troue is so ’n rukkie terug op video vasgevang. ’n Paar jaar later, was hulle eersteling op pad en die swangerskap op presies dieselfde plek afgeneem. Die idee met die video, was om ’n egte, ware liefdesverhaal te vertel van twee dierbare vriende wat elke dag dié groot geloofsprong neem. Ons wou vir mense wys dat jy steeds gelukkig getroud kan wees as jy bereid is om saam met iemand te waag in geloof”, verklap die sanger. “Ek glo dat dit ’n prentjie is wat mense nodig het om te sien. Ek hoop dat dit vir luisteraars hoop sal gee, veral diegene wat moeilike tye in hul verhoudings beleef.”

Alhoewel daar sekere uitdagings was met die opname van die video, het Len die ervaring baie geniet. “Dit was lekker om die prentjie te sien bymekaar kom en ook om myself uit te leef met die opvoer van die liedjie vir die video,” sê hy. Die pragtige storie wat in die agtergrond afspeel pas perfek by sy aangrypende vertolking van die snit. Die eindresultaat is perfek en die video sal luisteraars weer van vooraf laat verlief raak op die kunstenaar se uitsonderlike talent.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @lenniemuller

Webblad

YouTube

SoundCloud

Instagram: lennie.muller

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments