Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / [Kyk] Lokprent van die fliek oor Ellen Pakkies se lewe bekendgestel!

[Kyk] Lokprent van die fliek oor Ellen Pakkies se lewe bekendgestel!

Wat druk ’n liefdevolle ma so ver dat sy haar eie kind se lewe neem? Miskien sal die lokprent van ELLEN, DIE ELLEN PAKKIES STORIE, wat gebaseer is op die ware verhaal van ’n stormagtige verhouding tussen ’n ma en haar seun, meer lig op dié saak werp.

Ellen Pakkies se opspraakwekkende verhaal het in 2007 die aandag van mense regoor die wêreld getrek, nadat sy aangekla is vir die moord op haar dwelmverslaafde seun, Abie. Die hofsaak, wat daarna gevolg het, het belangstellendes op die punte van hulle stoele gehou en die rolprentvertelling daarvan beloof om dieselfde met kykers te doen en meer!

Die misdaaddrama, wat reeds oorsee ook opslae gemaak het, is amptelik gekies om op 27 Januarie 2018 by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees vertoon te word, asook om deel te wees van die vier-en-veertigste jaarlikse Seattle Internasionale Rolprentfees (SIFF) in die VSA, wat vanaf 17 Mei 2018 tot 10 Junie 2018 plaasgevind het en een van die grootste van sy soort in Amerika is. Die rolprent, wat delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe, is baie goed ontvang by die fees.

“Wanneer jy die rolprent kyk, besef jy dat Ellen nie ’n bose of kwaadwillige mens is nie. Jy begin verstaan hoekom sy gedoen het wat sy het. Sy is ’n ma, wat lief was vir haar seun, maar hom ongelukkig nie kon help nie. Al die akteurs vertolk hulle rolle puik en jy sal ’n hele stroom van emosies op een slag ervaar. ’n Fenominale stuk kuns, wat jou lewe sal verander,” skryf Film & Television Business, wat vir die prent vyf sterre gegee het. The Stranger se Sean Nelson (SIFF Cinema Uptown & AMC Pacific Place) meen dat die fliek insae gee oor die ekonomiese omstandighede wat veroorsaak het dat Ellen se seun, Abie, verslaaf geraak het aan Tik asook die ongelykhede wat in die strafregproses bestaan. “Nie ’n maklike fliek om na tyd kyk of te vergeet nie.”

Bekroonde regisseur, Daryne Joshua, wat bekend is vir sy suksesvolle debuutfilm, Noem My Skollie, was saam met vervaardigers, Schalk-Willem Burger en Paulo Areal, aan die stuur van hierdie indrukwekkende produksie. Die draaiboek is deur Amy Jephta geskep met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette. Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep. “Ons hoop dat ’n invloedryke persoon die fliek sal sien en ’n betekenisvolle verskil in sulke gemeenskappe sal maak. Verfilming het in Lavender Hill in Ellen se huis, waar die moord gepleeg is, plaasgevind en ons het uit ons pad uit gegaan om vir die kyker die regte wêreld waarin hierdie vrou gewoon het en steeds woon te wys,” sê Burger.

Buiten vir die indrukwekkende span agter die prent, spog dit ook met ’n sterbelaaide rolverdeling en lof stroom in vir dié groep akteurs wat hulle so skitterend van hulle taak kwyt.

Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem my Skollie (wat in 2016 Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars was), Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies Gevind, As Ek Huistoe Kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en die gewilde kykNET-sepie, Suidooster (waarvoor sy in 2017 genomineer is vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning) is briljant in die hoofrol van Ellen Pakkies en het baie navorsing en moeite gedoen om haar vertolking so eg en eerlik as moontlik te benader.

“Ek speel die rol van die dwelmverslaafde, Abie Pakkies, wat op die Kaapse Vlaktes grootgeword het. Dit is altyd ’n groot uitdaging om iemand se ware verhaal te vertel, veral een wat steeds relevant is. Ek het baie gewig verloor en probeer om myself in die karakter in te leef ter voorbereiding van die rol en hoop dat my vertolking vir kykers sal insae gee oor wat binne die kop van ’n verslaafde aangaan”, vertel Jarrid Geduld, wat bekend is vir sy rolle in plaaslike en internasionale produksies soos Black Sails, Zulu, 10 000BC en A Lucky Man.

Elton Landrew, wat ’n bekende gesig op die verhoog (District Six en Kat and the Kings) en kassie (Huis van Liefde, Sara se Geheim, Dryfsand en Suidooster) is, asook Kay Smith, wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Tarryn in 7de Laan, is ook in die fliek te sien.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié treffende film, is Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo, Black Sails).

Hierdie aangrypende ware verhaal is vervaardig deur TMPBC (The Moving Billboard Picture Company) in samewerking met M-Net, kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word op 7 September 2018, landswyd, deur Filmfinity (Pty) Ltd uitgereik.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook

Instagram: @ellenpakkies

Twitter: @EllenPakkies

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …