Donderdag , November 22 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Kunstreffers: Konsert van Hoop by vanjaar se Suidoosterfees

Kunstreffers: Konsert van Hoop by vanjaar se Suidoosterfees

Die 15de jaarlikse Suidoosterfees vind vanjaar van 26 April tot 1 Mei in die hartjie van Kaapstad plaas. Hierdie fees, met die tema Fantastiese 15 / Fabulous 15 / Uchunge chunge 15, spog weer met ’n groot konsert ter viering van Vryheidsdag: Kunstreffers, ’n Konsert van Hoop.

Suidoosterfees en Artscape bied hierdie asemrowende dans- en musiekskouspel aan. Die program is gevul met optredes deur kunstenaars soos Laurika Rauch en die Libertaskoor, asook die wenners van die Suidoosterfees Talentsoektog 2017: The Unknown Dansgroep, Vusumuzi Mpofu (digter) en Anja van den Berg (sanger). Robin Peters van The Voice-faam sing bekende treffers soos Bruno Mars se Versace on the Floor wat sal sorg dat die gehoor se voete jeuk. Verder sing operasangers Janel Speelman en Xolane Marman bekende klassieke werke, terwyl Camillo Lombard die musiekregie sal behartig.

Die konsert waartydens die sterre van môre die verhoog met die lewende legendes van vandag deel, beloof om ’n egte extravaganza te wees waaroor vir lank nog gepraat sal word.

Kunstreffers: Konsert van Hoop word in Afrikaans en Engels aangebied in die Operahuis. Kaartjies is beskikbaar teen R120, R80 en R40. Die vertoning vind plaas op Vrydag, 27 April van 15:00 tot 16:30. Kaartjies kan via Computicket gekoop word.

Johaar Mosaval is ‘n internasionale balletlegende. Hy het, onder andere, in sy jeug balletopleiding in Distrik Ses ontvang en uiteindelik as solis in die Koninklike Balletgeselskap opgetree waar hy een van Koningin Elizabeth se gunstelingdansers was. Johaar vier vandeesmaand sy 90ste verjaarsdag en is Suidoosterfees bevoorreg om vanjaar hierdie lewende legende te vereer met die produksie, The Johaar Mosaval Journey: District Six to the Royal Ballet. Dit is Saterdag 28 April van 19:00 tot 20:30 in die Artscape Operahuis te sien. Kaartjies beloop R120, R80 en R40.

Verdere hoogtepunte by die Suidoosterfees 2018 is Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe in Karoo Swing innie Kaap. Beroemdes soos Shaleen Surtie-Richards, Vinette Ebrahim en Evita Bezuidenhout sal ook ʼn draai maak terwyl die jazz-ikoon Melanie Scholtz in Kaapse Tango sal optree. Kom kuier hier waar die Suidoosterwind ons sommer lekker deurmekaar kan waai. Vir meer klik hier.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju …

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …