Maandag , April 22 2019
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Koningin Lear maak skoonskip by Kanna-toekennings

Koningin Lear maak skoonskip by Kanna-toekennings

KKNK25 se debuutproduksie Koningin Lear het vanaand (15 April) by ’n spoggeleentheid in Kaapstad agt van die Kanna-pryse wat uitnemende bydraes tot die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer, verower.

Koningin Lear is ’n eietydse herverbeelding van William Shakespeare se King Lear van die Vlaamse skrywer Tom Lanoye wat deur Antjie Krog in Afrikaans vertaal is. Die toneelstuk lewer onder meer skerp kommentaar op die magsug in die hedendaagse sakewêreld. Krog het die Kanna vir ’n uitnemende literêre bydrae vir haar vertaling ontvang. Dié vertaling is onlangs deur Protea Boekehuis uitgereik.

Dié nuwe produksieis ook aangewys as die beste teateraanbieding én beste debuutwerk, terwyl Marthinus Basson die Kanna-prys vir die beste regisseur en beste teaterontwerp ontvang het. Die akteurs wat Kannas vir uitnemende spel in Koningin Lear gewen het, is Antoinette Kellermann in die titelrol (beste aktrise), Anna-Mart van der Merwe (beste vroulike byspeler) en Edwin van der Walt (beste manlike byspeler).

Craig Morris is aangewys as die beste akteur vir Johnny Boskak voel ’n bietjie… Die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar is toegeken aan Devonecia Swartz vir haar spel in Jakkals en Wolf Onbeperk terwyl Rudi van der Merwe die Herrie-prys vir die outobiografiese stuk Lovers, Dogs and Rainbows ontvang het.

Die Kanna-prys vir die beste musiekproduksie is gewen deur My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi. ’n Gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia (albei merietewenners in 2016 se Absa L’Atelier-kompetisie), Imagining Tomorrow, is bekroon vir die beste bydrae tot visuele kuns. Paul Bayliss en Thabo Seshoka is die kurators van Imagining Tomorrow

Jaco Conradie het die Kanna ontvang vir tegniese uitnemendheid na aanleiding van die uitmuntende tegniese ondersteuning wat hy jaarliks aan produksies by die fees verleen. Daleen Witbooi is met ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK vereer. Witbooi is die afgelope 20 jaar ’n werknemer van die KKNK en Hugo Theart, die fees se artistieke direkteur, het gesê Witbooi se werksetiek, onbaatsugtige diens en lojaliteit is van onskatbare waarde. 

Die Oudtshoorniet Madeleine Miles is ook erken vir haar reWOLusie-projek wat Oudtshoorn in kleurvolle brei- en hekelwerk getooi het – spesiaal vir die fees. Volgens Theart vergestalt die projek die waardes en missie van Kunste Onbeperk en die KKNK. Miles het die projek van stapel gestuur om samehorigheid, kreatiwiteit en betrokkenheid te bevorder en is van plan om dit aanstaande jaar verder uit te brei. 

Die KKNK se nuwe poësieprojek is ook by die Kanna-toekenningsaand bekendgestel. Dié projek is ter ere en ter nagedagtenis aan Santie de Jager, een van die hoeksteenleggers van die KKNK, wie se liefde vir poësie as inspirasie vir die projek gedien het. Die projek sal bestuur word deur Theart en Eureka Barnard, die bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Kaapstad.

Die Kanna-wenners is huistoe met ‘n beeldhouwerk van Marieke Prinsloo-Rowe asook prysgeld. Die Kanna-pryse is geborg deur Absa, die ATKV, Media24, Castle Lager, Huisgenoot, SARIE, Kunste Onbeperk en Ton en Anet Vosloo.

Vanjaar se Kanna-paneel het bestaan uit Mareli Stolp (sameroeper), Diane de Beer, Rafiek Mammom, Tracey Saunders, Wayne Muller, Alby Michaels, Lizabé Lambrechts en Gary Naidoo.

2020 se KKNK-fees vind vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart 2020 in Oudtshoorn plaas.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Griekwastad-moorde binnekort ‘n fliek!

In April 2012 word Suid-Afrika en die wêreld tot stilstand geruk met die skokkende nuus …

KKNK25 vereer groot name!

“Die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vier vanjaar die loopbane van drie legendes wat …