Dinsdag , Mei 21 2019
Home / Afrikaanse flieks en Teater / KKNK25 vereer groot name!

KKNK25 vereer groot name!

“Die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vier vanjaar die loopbane van drie legendes wat diep spore in Suid-Afrikaanse kuns getrap het – en steeds trap – asook een wat besig is om groot naam vir haarself te maak.” 

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, wat van 21 tot 27 Maart op Oudtshoorn aangebied word. By vanjaar se fees word Athol Fugard, Lizz Meiring, Amanda Strydom en Lynelle Kenned vereer. 

Fugard word met die Kunste Onbeperk-prys vir Lewensbydrae tot Teater vereer en dié prys is nie net beperk tot Suid-Afrikaanse grense nie. Hy het al meer as 40 dramas geskryf, het ook sy lyf akteur gehou en is naas William Shakespeare die Engelse dramaturg wie se werk die meeste oor die wêreld heen opgevoer word. Die lys van pryse, doktorsgrade en vererings wat hy al ontvang het, is ellelank. Fugard was veral tydens die apartheidsera bekend as ’n baanbreker in die toneelwêreld, maar sy stem het veel verder weerklink as net in die politiek. Daar word dikwels na die taal waarin hy skryf as “Suid-Afrikaanse Engels” verwys. Tereg so, maar Fugard se taal is ’n wêreldtaal weens die diep menslike aard van sy karakters en die universele kwessies wat hy aanroer.

Ter viering van dié lewende legende bied die KKNK in samewerking met Eric Abrahams en die Fugard-teater Statements After an Arrest Under the Immorality Act aan. Dié toneelstuk het in 1972 by die destydse The Space Theatre in Kaapstad gedebuteer. Marlo Minnaar en Liezl de Kock is te sien in dié meesleurende en roerende liefdesverhaal, waarin twee naak minnaars nie net hul liggame ontbloot nie, maar ook hul diepste begeertes vir persoonlike en emosionele vryheid blootlê. 

Die Kunste Onbeperk-prys vir Diens aan die Kunste word vanjaar aan Meiring toegeken. Sy staan nie verniet bekend as Bizzie Lizzie nie. Die kunste is haar besigheid en sy is besonder bedrywig. Sy het haas geen bekendstelling as aktrise, skrywer (van dramas tot rubrieke) en regisseur nodig nie. Meiring vier ook vanjaar haar 35ste jaar in die bedryf. Maar Meiring is ook ’n mentor vir wie dit ’n liefdestaak is om jong talent op verskeie vlakke te help en te ondersteun. Aan die ander kant het sy ook ’n diepe deernis vir die ouer garde in die bedryf en is bekend vir die uitsonderlike werk wat sy vir die Teaterbystandsfonds doen. Dat sy waarskynlik die wêreld se grootste fên van Mickey en Minnie Muis is, is nou nie hier ter sprake nie … Maar bizzie is sy bizzie, en baie daarvan juis in diens van die kunste. Vir die KKNK snoer sy kragte saam met Wynand van Vollenstee in die komiese drama Non met vakansie, wat by die fees debuteer.  Sy is ook saam met Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck in die komiese drama 3 Susters te sien. 


Strydom ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir Lewensbydrae tot Musiek. Sy vier vanjaar haar 40ste jaar in die bedryf (en ook haar 25ste jaar by die KKNK). “Dink ’n mens aan Strydom se loopbaan as teks- en liedjieskrywer, komponis, sanger en nog relatief onlangs ook as aktrise, is geloof, standvastigheid, vertroue en die nastrewing van absolute individualiteit en oorspronklikheid die grondslag van haar werkswyse,” skryf die resensent Paul Boekkooi in sy commendatio. Strydom rock – in haar taal en verskeie ander tale. Sy bied salf vir wonde. En as sy haar stem verhef, doen sy dit met oortuiging, onbeskroomd en met passie. Sy is Miss Mandy en Amandla Amanda! Haar vertoning Amanda Strydom – Miss Mandy debuteer by die fees en sy is ook in die debuut musiekproduksie 25: Oud en nuut in die Outeniqua te sien. In dié produksie deel Strydom die verhoog met onder andere Koos Kombuis, Sima Mashazi en oud-lede van Cutt Glas – waaronder Karen Meiring en Anna Davel – wat spesiaal herenig vir die vertoning.

Kenned word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir ’n Jong Stem. Sy is ’n operasangeres, musiekteaterkunstenaar, aktrise, aanbieder, oorklankkunstenaar, openbare figuur, motiveringspreker en vorige deelnemer aan Dancing with the Stars. Sedert sy haar studies in 2010 aan die Operaskool van die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het sy vinnig opgang gemaak met rolle in operas en musiekspele. En haar talent het nie ongesiens verbygegaan nie, met pryse soos ’n Fleur du Cap, ’n Naledi en ’n kykNET-Fiësta reeds agter haar naam. By vanjaar se KKNK debuteer sy met 1/1 Lynelle Kenned. Dit is ’n versameling van vokale sketse oor die veranderlike, die onveranderlike en die onvoorwaardelike – wat deur verbintenisse verken word. Die vergestalting van vrouwees, en uiteindelik menswees. Sy is ook in Sing Saam! op die Huisgenoot-verhoog te sien op 24 Maart, saam met onder andere Corlea Botha, Jannie Moolman en Craig Lucas. 


Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Koningin Lear maak skoonskip by Kanna-toekennings

KKNK25 se debuutproduksie Koningin Lear het vanaand (15 April) by ’n spoggeleentheid in Kaapstad agt van die Kanna-pryse …

Griekwastad-moorde binnekort ‘n fliek!

In April 2012 word Suid-Afrika en die wêreld tot stilstand geruk met die skokkende nuus …