Woensdag , November 14 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Juju Mafela volg in pa se voetspore

Juju Mafela volg in pa se voetspore

Die internasionaal- en SAFTA-bekroonde rolprentmaatskappy, Penguin Films, is baie trots om aan te kondig dat Juju Mafela – die middelkind van die oorlede veteraanakteur, Joe Mafela – sy pa se aandeel in die besigheid oorgeneem het.

Juju, wat by die produksiespan aansluit as kreatiewe vervaardiger, sien uit daarna om in sy pa se voetspore te volg, aangesien dit sy lewenslange droom is om die manier waarop mense stories vertel te herontwerp en om gehore te inspireer. “Penguin Films is ’n groot maatskappy wat ongelooflike werk doen. Dit is my doel om, sover as wat dit in my vermoë is, as vennoot by te dra om die besigheid internasionaal te laat groei. Dit was die gesprek wat ek en my pa gehad het en hoe meer die besigheid groei, hoe groter word sy nalentenskap,” deel Juju.

Bekroonde regisseur, kreatiewe vervaardiger en stigter van Penguin Films, Roberta Durrant, verwelkom Juju se belangstelling om die gaping te vul wat sy pa gelaat het en sê: “Dit was nog altyd Joe Mafela se wens dat sy seun eendag in sy voetspore sou volg en ons is trots om aan te kondig dat  Juju Mafela nou ’n 30%-aandeelhouer is in ons besigheid. Ek is in my skik om hom as opvolger te hê. Oor die jare, het ek vir Juju gesien ontwikkel en ons het al baie projekte saam gedoen. Ek sien uit na sy insae as kreatiewe vervaardiger.” Penguin Films se paaie het met die van Joe Mafela gekruis tydens die vervaardiging van die gewilde 1986-sitkom, Sgudi ‘Snaysi,waarin Mafela die rol van S’dumo gespeel het wat by Sis May (gespeel deur oorlede Daphne Hlomuka) loseer het. Met die verloop van die program se 78 episodes, het Joe Mafela ’n geliefde kulturele held geword.

Gedurende sy suksesvolle loopbaan, is Joe met verskeie Lewenslange Bydrae-toekennings in die bedryf vereer, waaronder ’n Lewenslange Bydrae-toekenning van die Die Nasionale Rolprent- en Videostigting, die Comics’ Choice-toekenning, ’n Duku Duku Black Entertainment-toekenning en ’n Naledi-verhoogtoekenning. Die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf het getreur toe hy in Maart 2017 ontydig gesterf het.

As gevolg van Sgudi ‘Snaysi se gewildheid, kon Mafela en Penguin Films ook saam Going Up en die opvoedkundige reeks, Khululeka, vervaardig. Sedertdien, was hulle verantwoordelik vir verskeie bekroonde televisiereekse en –sitkoms soos Madam and EveSOSFishy FeshunsGoing Up AgainMazinyo dot Q en Stokvel. Van hulle meer onlangse dramas sluit in die bekroonde Saints and Sinners en die telenovella, Ring of Lies, asook die internasionaal-bekroonde lokettreffer oor die historiese heldin, Krotoamet Crystal-Donna Roberts en Armand Aucamp waarvoor hy pas aangewys is as Beste Akteur by die Huisgenoot Tempo-toekennings.

Die maatskappy is tans besig met die produksie van Arendsvlei, kykNET & Kie’s (kanaal 145) se eerste oorspronklike Afrikaanse telenovela, wat om 20:00 daagliks – van Maandag tot Woensdag – uitgesaai word.

Intussen het hulle sustersmaatskappy, Paw-Paw Films, ook vir Sheena Lee Hendricks as nuwe 23%-aandeelhouer aangekondig. Hendricks, wat in 2013 by die maatskappy aangestel is en aan die besigheidskant werk, is baie opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in haar loopbaan. “Ek is nou besig om na die produksiekant van die besigheid te beweeg, wat ook is waar ek myself kan sien bly en groei. Ek het onder begin en nog altyd my 110% gegee. Nou wil ek daardie 110% gebruik om by te dra tot Paw-Paw en Penguin Films se sukses. Met die leiding en ondersteuning van Roberta Durrant, is niks onmoontlik nie,” verduidelik Sheena Lee.

Paw-Paw Films vervaardig al sedert 2006 beeldmateriaal. Die maatskappy was verantwoordelik vir die maak van verskeie gewilde programme soos Z’bondiwe 1, 2 & 3 (eTV); Sokhulu & Partners 1 & 2 (SABC 1); Isikizi 1 & 2 (Mzansi Magic); Shreds and Dreams 1 & 2 (SABC 1); Izangane Zobaba (SABC 1); Democracy Back to Human Rights (SABC 2); Kemang – who am I? (SABC 1); en Take a Trip to (SABC 3). Hulle dramareeks, Ambitions (eTV), is huidiglik elke Sondag om 21:00 op die kassie op eExtra (OpenView-kanaal 105 of DStv-kanaal 195) en word op Woensdae herhaal om 21:30. Ambitions is ook aanlyn beskikbaar op eTV se YouTube-kanaal.

Regisseur en mede-aandeelhouer van Paw-Paw Films, Mandilakhe Yengo, is opgewonde om Hendricks aanboord te hê en positief oor die rigting waarin die besigheid beweeg. Sy sê: “Ons het groot planne vir Paw-Paw Films en die inhoud wat ons wil skep. Ons wil ook jong talent insluit wat op hoogte is van wat nou relevant is, nie bang is om ’n ding te sê soos dit is nie, en kykers op ander maniere na hulself sal laat kyk as wat hulle ooit gedink het moontlik is.” 

Sara se Geheim 1 & 2, een van hul mees onlangse produksies vir kykNET, het pas pryse gewen vir Beste Drama en Beste Akteur in ’n Drama(Marlo Minnaar) by die 2018 Huisgenoot Tempo-toekennings en die span is baie positief oor Paw-Paw Films se toekoms.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Instagram: @penguinfilmsofficial

Twitter: @Penguin_films & @Penguin_PawPaw

Webblad

 

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Waarna jy kan uitsien in BINNELANDERS in November!

Donderdag, 1 November (Episode 104/3120) Nina veroorsaak dat Jax hospitaal toe trek, en Mercia deel …

STROOMOP nou op DVD en DSTV Box Office beskikbaar!

Die opwindende avontuurverhaal, STROOMOP (Ivan Botha se regisseursdebuut) wat deur 116 999 kykers ondersteun is …