Sondag , Desember 16 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Jong Sterre by vanjaar se Suidoosterfees!

Jong Sterre by vanjaar se Suidoosterfees!

Suidoosterfees spog vanjaar met ’n reeks produksies wat deur die sterre van die toekoms op die planke gebring word. Die 15de Suidoosterfees – met die tema Fantastiese 15 – vind van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad plaas.

Ikhaya Lam vertel die storie van ’n Xhosa-seun wat aangeneem word deur ’n konserwatiewe familie ná sy ma, wat vir die Witte-familie werk, sterf. Hy ervaar probleme as die familie druk op hom plaas om hul tradisies aan te neem. Op sy 18de verjaarsdag onthul hy aan die Witte-familie dat hy gay is. Saam maak hy en sy suster ’n reis mee waarop hulle hoop om die wanpersepsies wat in hul kultuur is, te ontvlug.

Brandmerk gaan oor ’n ma wat die reg in eie hande geneem het. ’n Dekade na hierdie gebeurtenis, is die Williams-gesin nog net so stukkend soos hulle altyd was. Die kinders ontruim hul huis wat met donker gevoelens gevul is, terwyl die een seun, Danny, moet besluit of hy die geheim tussen hom en sy oorlede vader gaan verklap.

Die produksie Skuld vertel die verhaal van vier vriende wie se lewens in wanorde gedompel word wanneer iemand wat hulle ken, verkrag en vermoor word. Die agtienjarige Johnny gaan tronk toe en die ander gaan deur fases van ontkenning en erkenning wanneer hulle probeer bepaal wie regtig te blameer is. Dit beloof om ’n spanningsvolle reis te wees.

Suidoosterfees spog verder met die teaterstuk, Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika (NRNNSA). Ses gesinne ding mee vir ’n plek in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die kompetisie is geskep as gevolg van ’n tekort aan transformasie in die huidige “nuwe Suid-Afrika”. Deur satire en komedie bied die stuk ’n unieke blik op die stryd van verskillende Suid-Afrikaners in die lig van transformasie. Dit is oorspronklik ontwikkel deur die Universiteit van Stellenbosch se drama-departement.

Oupa is ’n verhaal oor ’n student met die naam Tommie, sy vier beste vriende en sy suster wat wag vir ’n verskietende ster – ’n ster waarvan sy oupa hom baie vertel het. Oupa maak gebruik van musiek, woordkuns, sterretekens en tegnologie om die lewens van ses komiese karakters uit te beeld. Elke karakter verteenwoordig ’n eienskap van menslikheid. Hierdie produksie is gevul met spanning en geheime.

 

Vir meer oor vanjaar se Suidoosterfees, besoek hulle webblad.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

[Kyk] Liewe Lisa se lokprent bekendgestel!

LIEWE LISA, die debuutfilm van KOMPANJIE STORIES, se lokprent is nou aanlyn te sien. Die film …

Liewe Lisa… nuwe fliek

LIEWE LISA, die debuutfilm van KOMPANJIE STORIES, se plakkaat is vandag bekendgestel. Die film word …