Donderdag , November 22 2018
Home / Movies / John Travolta wys bendeleier se menslike kant in nuwe rolprent!

John Travolta wys bendeleier se menslike kant in nuwe rolprent!

Flieks gee gehore die geleentheid om met die karakters te identifiseer – selfs met berugte kriminele – wat nie noodwendig deel vorm van hulle alledaagse verwysingsraamwerk nie. Dit is presies die geval met hierdie splinternuwe rolprent oor een van die mees berugte bendelede sedert Al Capone.

In GOTTI, vertel die akteur-regisseur, Kevin Connolly, en draaiboekskrywer, Leo Rossi (wat ook in die film te sien is), die storie van die bekende bendeleier, John Joseph Gotti, en hoe hy die hoof van die  Gambino-misdaadfamilie in New York geword het. Die verhaal, wat uit die seun se oogpunt vertel word, speel af oor drie dekades en ondersoek Gotti se onstuimige lewe en hoe hy en sy vrou die familie probeer bymekaar hou deur verskeie tragedies en beproewinge.

Rossi se draaiboek is direk beïnvloed deur sy gesprekke met John Gotti self en probeer om beide kante van hierdie man se lewe bloot te lê. “Die draaiboek wat ek in gedagte gehad het nadat ek met Gotti gesels het, het natuurlik wel die Mafia-element gehad, maar daar was ook die familieopset om in gedagte te hou. Vir my was dit net so aangrypend om te sien watter impak ’n lewe van misdaad op ’n familie het. Ek het probeer om die twee bymekaar uit te bring,” verduidelik hy.

Die prent spring rond tussen die belangrike gebeure wat gelei het tot sy misdadige loopbaan in die 1970’s en die nabetragting hiervan in die 1990’s asook die invloed wat hierdie leefstyl op sy gesondheid gehad het. Dit skep ’n eerlike beeld van ’n man wat se lewe deur geweld en misdaad gekenmerk is, maar ten spyte van alles ook lief was vir sy familie.

John Travolta gee lewe aan GOTTI op die grootskerm en sê: “Die rol het ’n volledige begrip van Gotti, as ’n mens, vereis. Nie net van sy aksies nie, maar ook van die dinge wat vir hom as mens regtig saak gemaak het.”

Travolta is reeds vir ’n hele aantal jare betrokke by die projek en is een van ’n handjievol akteurs wat deur die Gotti-familie goedgekeur is om die rol te speel. “Ek was regtig verbaas en gevly dat hulle gedink het dat ek geskik is vir die rol. Dit was ’n wonderlike uitdaging om aan te pak,” vertel hy.

Omdat hy ’n baie goeie strategiese beplanner was, wat verstaan het hoe om die stukkies van die onderwêreld se legkaart te manupileer om hom te pas, kon Gotti dit regkry om ’n suksesvolle bestaande sindikaat, wat deur die Gambino-familie op die been gebring is, te omskep in een van die magtigste misdaadorganisasie in Amerikaanse geskiedenis.

Sy verhaal en pad na sukses word verder verweef met sy seun, Gotti Junior, se besluit om die weermag te verlaat vir ’n baie gevaarliker werk in hulle ‘familiebesigheid’. Gotti se verhouding met sy toegewyde vrou, Victoria (Kelly Preston), wat die gesin bymekaar gehou het en haar rol as ma net so ernstig opgeneem het soos John se rol as voorsiener vir sy gesin, word ook in die rolprent onder die vergrootglas geplaas.

Preston wou graag die feit dat die gesin gereeld deur tragedie en teëspoed getref is na vore bring en het die geleentheid gehad om die regte Victoria Gotti te leerken om voor te berei vir die rol. Dit het haar in staat gestel om ’n outentieke en komplekse vertolking te gee van ’n vrou wat vasgevang was in moeilike omstandighede, maar nooit opgegee het nie.

Alhoewel elke karakter ’n nuwe avontuur is vir ’n akteur, erken Preston dat dit moeiliker is om lewe te gee aan ’n persoon wat regtig bestaan. “Om iemand te speel wat nog leef is ’n uitdaging, maar op ’n manier ook ’n groot voorreg.”

Die emosionele hart van die fliek, lê egter in die verhouding tussen Gotti en sy seun, John Gotti Junior (Spencer LoFranco), wat op die ou einde aanleiding gee tot die manier waarop die storie vertel word. Trouens vind daar reg deur die loop van die fliek ’n gesprek plaas tussen pa en seun, oor die feit dat laasgenoemde sy pa se toestemming wil hê om die bendelewe op te gee as gevolg van sy groot liefde vir sy eie gesin.

Vir Connolly was die vooruitsig om op stel te wees saam met iemand van John Travolta se kaliber ’n ongelooflike geleentheid en ook wat hom aangetrek het tot dié projek. Met Travolta as die hartklop van die fliek, het die opkomende regisseur gevoel dat hy die geleentheid het om te eksperimenteer en toe te laat dat die projek natuurlik ontwikkel. “Ek het idees van hoe ek dinge gedoen wil hê, maar as ’n akteur – veral een met soveel ondervinding soos John Travolta – se idees ietwat van myne verskil, is ek oop vir voorstelle. Ek wil elke akteur die geleentheid gee om hulle keuses te ondersoek en probeer dan om aanpassings te maak, sodat almal gemaklik kan voel,” meen Connolly.

Die goeie verhouding tussen Connolly en die akteurs – insluitend Stacy Keach, Pruitt Taylor Vince en William DeMeo – is baie duidelik in die manier waarop GOTTI saamgestel is en hoe opreg en outentiek die fliek op die ou einde voorkom.

Buiten daarvoor dat hierdie merkwaardige fliek GOTTI se storie vertel, help dit jou ook om te besef dat familie steeds alles vir iemand kan wees, al het hy êrens die reguit pad byster geraak. “Dit wys jou net dat ongeag van die omstandighede, jou pa altyd jou pa sal wees en jou ma jou ma. Spesiale verhoudings bestaan in enige gesin en dit is nie anders vir die Gotti’s nie,” sê Connolly.

GOTTI word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 21 September 2018.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/GottiFilm/

Twitter: @Gotti_Film

Instagram: @gottimovie

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

The Forgiven vanaf hierdie naweek in uitgesoeke teaters!

Die langverwagte rolprent, THE FORGIVEN, gaan oor Aartsbiskop Desmond Tutu se werk as die hoof …

Nuwe John Travolta fliek in teaters die naweek!

Die fliek waarin John Travolta lewe gee aan een van die mees berugte bendelede sedert …