Joe F – Nog Een

Sou jy dink dat Joe F se nuuste album titel Nog Een hom laat klink soos ‘n musiekfabriek wat jaarliks albums op die rakke sit, sou jy verseker verkeerd wees. Inteendeel is Nog Een ‘n splinternuwe album waarvoor sy aanhangers bykans drie jaar moes wag. Waarom die lang wag? Want Joe F is ‘n perfeksionis met ‘n passie vir die musiekbedryf. Hy glo dat ‘n goeie kunstenaar homself moet herdefinieer om aan te pas by die publieke aanvraag. Enige gesoute kunstenaar moet altyd ‘n oog hou op die nuwe rigtings wat Suid-Afrikaanse en Internasionale klanke inbeweeg.
Joe F het na die wegholsukses van sy 2006 album Myself met die treffer Hou My Vas homself as Afrikaanse pop- en rocksanger in die musiebedryf gevestig en musiekliefhebbers se aandag vasgevang. Sy volgende album Vliegmasjien is in 2010 vrygestel en sy 2011 album, Hou my vas het sy plek in die mark verseker. Joe het daarna besluit om ‘n drie jaar skryf-hiatus te vat voor Nog Een om te verseker dat die album sy beste werk tot hede is..
Vliegmasjien was sy deurbraak en het Joe nuwe hoogtes laat bereik in sy loopbaan met silver status verkope van meer as 10 000 eenhede. Na ‘n dekade in die musiekbedryf was daar skielik ‘n reuse toename in sy gewildheid en deesdae is Joe F een van ons land se bekendste sangers wat gereeld gesien word by feeste waar hy die verhoog deel met ander groot name in Afrikaanse musiek. Nou is dit tyd vir Nog Een om Joe F se baanbreker-werk te bevestig.
“Nog een is anders as my vorige albums. Ek dink ek het as musikant en persoon meer volwasse geword. Dus is die album self ook meer volwasse en daar is van nuwe klanke gebruik gemaak wat nog nooit voorheen in my werk verskyn het nie,” het hy vertel.
Hy het die naam Nog Een speels gekies met die doel om indirek te sê dat sy album nie soos sy voriges of ander kunstenaars s’n is nie. Na ‘n jarelange werksverhouding met bekende vervaardiger Byron Kuntz het hulle saam besluit om hierdie nuwe album die mees unieke werk nóg te maak. Byron Kuntz is bekend vir sy passie om te eksperimenteer met nuwe, vars klanke en dit kan duidelik gehoor word in Joe se nuutste werk. Joe meen Kuntz se invloed het nuwe kleur aan die liedjies op die album gegee.
Joe is nie slegs bekend as ‘n ongelooflike sanger nie, maar ook as gerespekteerde skrywer. Die meerderheid van die liedjies op Nog Een is deur hom geskryf. Op die album is al die snitte saamgevat in ‘n genre wat bes beskryf kan word as ‘n ‘’akoestiese folk pop”. Dit is ‘n klank wat veral weerspieël word in die Afrikaanse lied, ”Spaceships” wat ook die eerste enkelsnit op die album is. Die uitsondering op Nog Een is die lied Jägermeister wat hy saam met Kuntz geskep het. “Ons wou iets anders vir die mark probeer doen en ek dink die aanhangers gaan dit baie te geniet. Dit is Joe F soos hulle my nog nooit voorheen gehoor het nie,” het hy vertel.

Daar is ook twee Engelse liedjies by die album gevoeg getiteld Inside My Head en UFO’s.
Nog Een is presies wat Joe F belowe het dit sal wees –anders! Dis nie net nóg een van Joe se albums wat soos sy voriges klink of nóg een wat soos ander Afrikaanse kunstenaars se werk klink nie. Nee, hierdie album breek totaal weg van die norm en Joe F wys in helder neonkleure wat in hom steek.
Die album word in Mei 2015 vrygestel en is beskikbaar by toonaangewende musiekwinkels.