Maandag , Februarie 18 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Jo Black se splinternuwe album is hier!

Jo Black se splinternuwe album is hier!

Jo Black se splinternuwe album, VOEL JY DIE GENADE, is vanaf vandag op alle digitale platforms en in alle goeie musiekwinkels landswyd beskikbaar.  Dié nuwe vrystelling het reeds die #1 posissie op iTunes ingeneem vanoggend!

Met meer as 8-miljoen kykers op YouTube, sewe Ghoema-musiektoekennings en honderde optredes regoor die land op sy kerfstok, het die gebaarde musieksensasie, Jo Black, beslis geen bekendstelling nodig nie. Sedert die bekendstelling van sy debuut-album – Skepe – in 2016, het sy werk ’n ongelooflike impak gehad op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en vanjaar vier hy die genade van sy suksesvolle loopbaan met die vrystelling van ’n splinternuwe en langverwagte album.

Dit is juis daarom dat die titel, VOEL JY DIE GENADE, so gepas is. Die albumvrystelling volg kort op die hakke van die wegholsukses van die titelsnit wat onlangs aan die publiek bekendgestel is en soos ’n veldbrand versprei het. Hierdie kitstreffer se musiekvideo is reeds deur meer as 250 000 mense op YouTube gekyk en die snit het binne slegs drie dae, die nommer een plek ingeneem op iTunes SA, asook op die treffersparades van verskeie groot radiostasies. Dié opgewekte liedjie het ’n inspirerende boodskap en is ’n goeie aanduiding van wat luisteraars op die res van die album kan verwag.

Wanneer jy hom uitvra oor VOEL JY DIE GENADE, sê Jo: “Ek het regtig my hart en siel in hierdie album gestort. Ek het geweldig hard gewerk aan hierdie projek en my hoop is dat dit mense sal inspireer wanneer hulle daarna luister, net soos wat dit my geïnspireer het terwyl ek dit geskep het”.

Die album bied ’n unieke mengsel van geloof, hoop en liefde en verklap nie net meer oor sy loopbaan sover nie, maar ook oor die dinge waarvoor hy dankbaar is. Dit bestaan uit ’n wye verskeidenheid snitte, wat sy emosiebelaaide weergawe van Leonard Cohen se Hallelujah insluit, en volgens hom mooi bymekaar gekom het aangesien dit nie vooraf so beplan was nie.“Ons het oor enigiets geskryf wat oor ons pad gekom het en, op ’n manier, dit reggekry om ’n goeie album saam te stel. Dit is net nog ’n bewys van genade. Die grootste uitdaging, was egter dat ek my eerste album oor 35-jaar geskryf het en net een jaar gehad het vir die tweede een,” korswel die ster.

Alhoewel Jo meen dat daar verskeie liedjies op die album is, wat radiotreffers kan wees, is Spring sy gunsteling. “My hele reis sover, was een groot geloofsprong.” Die oorweldigende reaksie op sy heel eerste enkelsnit, Skepe, asook sy nuutste suksesverhaal, bewys dat hierdie geloofsprong beslis die moeite werd was.

Jo het Voel Jy Die Genade saam met Johan Vorster, Christoph “Appel” Kotze en Roan Ash geskryf, en dit is kenmerkend van die Jo Black-handelsmerk waarvoor almal so lief geword het – ’n Afrikaanse rocktreffer, met diep lirieke en selfs ’n dieper betekenis.

Jo, wat van kleins af lief was vir musiek, het nooit gedink dat dit eendag sy loopbaan sou word nie. Vir hom moet musiek driedimensioneel wees. “Dit moet nie net strelend op die oor wees nie, maar ook met die hart en siel praat en aanklank vind by gehore,” meen hy. “Die enkelsnit som, soos die album, die laaste jaar van my lewe op. Wanneer ek terugkyk op hierdie reis, besef ek dat alles net genade was. Ek hoop dat dit mense sal help om ook die genande in hulle eie lewens raak te sien en te ervaar.”

Wat die maak van die titelsnit se musiekvideo aanbetref, wou Jo graag die geleentheid gebruik om diegene wat in sy reis gedeel het, aan die publiek bekend te stel. “Ek verskyn gewoonlik alleen in my musiekvideo’s, maar tree nooit sonder ’n orkes op nie. Ek wou hê dat hierdie video hulle moes insluit – want hulle het die afgelope twee jaar saam met my meer as 550 konserte gedoen.”

Alhoewel Jo vinnig uitwys watter musikante hom inspireer; soos Robbie Wessels, Roan Ash, Riana Nel, Karen Zoid en Ross Learmonth, om net ’n paar te noem; is hy nogal geheimsinnig oor met wie hy graag eendag ’n verhoog mee wil deel. “Daar is verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars saam met wie ek nog wil werk… so hou die media dop,” sê hy.

Die donkerkop is verder ook nie skaam vir die kamera nie en het die geleentheid gehad om ’n gasverskyning te maak in die Afrikaanse lokettreffer, Susters, waarvoor hy en Leah ook die titelsnit, Nooit Alleen, saam opgeneem het. Hy is egter baie bang vir hoogtes en is nie mal oor vlieg nie.

Oor sy planne vir die toekoms, sê hy: “Ek vat elke dag soos dit kom. Dit gesê, sien ons uit na ’n paar oorsese toere en om die album met gehore, regoor Suid-Afrika, te deel.” Hy is verder ook besig met verskeie ander besigheidsprojekte en beplan om binnekort sy eie restaurant oop te maak.

Die kunstenaar, wat sy stem en styl as “uniek” bestempel, het in September verlede jaar ’n ernstige nekoperasie ondergaan. Alhoewel verskeie konserte as gevolg hiervan afgestel moes word en daar baie kommer was oor die effek van die prosedure op sy stem, het hy volkome herstel en VOEL JY DIE GENADE is ’n bewys dat hy reg is vir die nuwe hoofstuk van die ongelooflike pad wat hy moes stap.

As hom uitvra oor die hoogtepunte van sy loopbaan sover, wat trippel platinum verkoopstatus van sy debuutalbum, Skepe, asook verskeie Ghoema-toekennings – waaronder Beste Nuweling, Album Van Die Jaar en Beste Digitale Verkope – insluit, verklap Jo dat dit moeilik is om net een uit te sonder. “Ek is geseën met hoogtepunt-op-hoogtepunt sedert my reis in die musiekbedryf amptelik afgeskop het.”

VOEL JY DIE GENADE is nog ’n opbouende en betekenisvolle vrystelling deur dié plaaslike superster, wat sy boodskap van hoop en geloof aanhou versprei soos net hy kan.

VOLG HOM OP SOSIALEMEDIA

Facebook

Instagram: @JoBlack8

Twitter: @JoBlack_BTG

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Kerry Lee praat uit oor haar beter helfte met nuwe enkelsnit!

Na die suksesse van haar vorige album wat treffers soos ‘Shut up en soen my’ …

Burgerd Botha stel nuwe enkelsnit bekend!

Burgerd Botha het pas sy volgende enkelsnit, Vat My Huistoe vrygestel en beloof om luisteraars …