Dinsdag , Julie 16 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Jo Black en Albie Morkel open eersdaags die grootste sport- en vermaaksentrum in die land!

Jo Black en Albie Morkel open eersdaags die grootste sport- en vermaaksentrum in die land!

Die Ultimate Aim Sports Pavilion in Montana Park in Pretoria gaan binnekort die tuiste wees van die grootste gesinsvermaaksentrum in die land. Nie net gaan dit dié plek wees waar sportgeesdriftiges bymekaar kan kom om hulle vaardighede in die gewildste buitelugsportsoorte – waaronder gholf, boogskut en visvang – te kom opskerp en ten toonstel nie, maar ook ’n bestemming waar gesinne kan kom smul aan die lekkerste uitsoekgeregte en ook verskeie vorme van vermaak op die verhoog kan geniet.

Hierdie sentrum, wat besit word deur drie maatskappye (AJAR, Ultimate Aim Group en The Bearded Butcher) met verskeie aandeelhouers – waaronder die Suid-Afrikaanse krieketheld Albie Morkel en die bekroonde sangsensasie Jo Black – open amptelik op 31 Mei 2019. Die openingsgeleentheid gaan gevier word met ’n Jo Black-vertoning en kaartjies sal beskikbaar gemaak word vir die publiek om die geselligheid by te woon. Kaartjies vir die opening sal binnekort beskikbaar wees. Hou gerus die media dop vir meer inligting hieroor.

Volgens Morkel is die hoofdoel om gesonde vermaak, vir die hele gesin, op een perseel aan te bied. Die sportgedeelte van dié juweel sal spog met ’n wye verskeidenheid sportaktiwiteite, soos boogskutbane, ’n gesofistikeerde hoë-definisie gholfsimulator, ’n winkel met verskeie gholftoerusting, visvangeriewe en vele meer insluit. “Ons fokus op die gewildste buitelugsportsoorte wat gesinne soms saam beoefen en wil graag hê dat die beste familiebestemming in die land moet wees,” verduidelik Albie oor dié unieke idee. “Ek was van dag een af mal oor die konsep en weet dit gaan ’n wenner wees. Vir ’n beter span om mee saam te werk, kan ’n mens nie vra nie. Almal het ’n groter visie as net die gebou en dit is belangrik om ’n verskil in die land te probeer maak.”

Jo Black se teater-restaurant, The Bearded Butcher, sal die hartklop wees van die lewendige vermaakgedeelte van die sentrum. Volgens hom was hy en sy drie vennote juis op soek na ’n stuk grond om ’n musiek-restaurant met ’n driving range en kinderspeelplek oop te maak toe Albie hom toevallig genader het vir raad oor die ongebruikte spasie wat nog op die Ultimate Aim-perseel beskikbaar was. Toe hy daarna gaan kyk, het hy dadelik besef dat dit die plek was waarna hulle gesoek het.

“Die restaurant sou altyd daar gewees het en Jo het dadelik van die idee gehou toe ek hom nader. Dit gaan baie waarde toevoeg tot die sentrum, nie net met uitstekende kos nie, maar ook tot die familie-atmosfeer wat ons daar wil skep,” voeg Albie by.

The Bearded Butcher was die naam van ’n biltongbesigheid wat die sanger lank terug besit het. Nou is dit sinoniem met ’n groot droom van hom wat waar word – die opening van sy eie teater-restaurant wat verskeie vorme van die kunste na die verhoog gaan bring; van musiek tot verhoogproduksies (met aansitetes) en selfs komediantvertonings.  “Ek bly self in Montana en daar is beslis ’n behoefte aan ’n plek waar jy musiek en teaterproduksies kan gaan kyk. Ons gaan probeer om een keer per week ’n groot naam in te kry wat ’n intieme vertoning gaan doen, met tafels wat lekker naby die verhoog is sodat die gehoor die musikant beter kan leerken. Dan gaan daar ook komediant- en eenmanvertonings wees, asook liedjieskrywersaande waar jong musikante blootgestel kan word aan kunstenaars wat al ’n pad in die bedryf gestap het,” verduidelik die geliefde sanger.

“Ons gaan ’n klein spyskaart hê, met uitsoekgeregte wat uniek gaan wees aan ons restaurant met sy rustieke dekortema. Daar is ’n groot speelplek om die kinders mee besig te hou en gaan ook verskeie kuieropsies wees om aan enige kliënt se vereistes te voldoen. Die restaurant-area gaan wees vir diegene wat rustig wil kom eet van ons A la Carte-spyskaart af, terwyl drankies en Tapasborde (met ’n eg Suid-Afrikaanse aanslag) in die Tapaskroegarea bedien sal word vir klante wat ’n minder formele kuier verkies. Eksklusiewe BBP-bokse, met gemaklike rusbanke, sal ook aan die bokant beskikbaar wees. Die verhoog sal vanuit elke area gesien kan word.”

Volgens Jo, het die nuwe onderneming ’n gedugte span wat hard agter die skerms werk om alles vlot te laat verloop. Die kombuis gaan beman word deur die bekende kykNET Kokkedoor-finalis, Linde Watson Graaff, wat ook haar eie kookprogram, Spyskaart, op SABC 2 het. Verder rus die daaglikse bestuur van die restaurant en die kunstenaarbesprekings op die bekwame skouers van Jenny Prinsloo, wat al sestien jaar in die restaurantbedryf werk en ook haar eie spysenieringsbesigheid besit het.

’n Uitstappie na Ultimate Aim Sports Pavilion gaan meer wees as net nog ’n kuier saam met die gesin. Dit gaan ’n ervaring wees wat almal met ’n glimlag sal laat huistoe gaan, omdat dit aan elke lid van ’n familie of vriendegroep se belangstelling sal voldoen – of dit nou sport en/ of musiek of net lekker kuier is – en selfs die kieskeurigste smaakkliere laat smeek vir meer.


Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Joshua na die reën stel tweede enkelsnit vanaf someraarde album bekend!

Die geliefde sanger en musikant, Joshua na die Reën het vroeg in 2019 die eerste …

Valeska Muller verskuif Afrikaanse musiekgrense!

Valeska Muller het oor die jare die kuns bemeester om met haar strelende stem, ritmiese …