Vrydag , Augustus 17 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Jan Bloukaas se eerste album is hier!

Jan Bloukaas se eerste album is hier!

‘Kaasliefhebbers’ staan nader, want die dansmusiekkoning, Jan Bloukaas, is terug met ’n splinternuwe bederf vir die oor wat beslis nie misgeloop moet word nie.

Nadat dié innoverende musikant se treffer, Kaas elke Dag in 2017 die internet en Suid-Afrikaanse dansvloere kom verower het, het ’n tweede enkelsnit, kykNET en Chill kort daarna gevolg. Nóú kan aanhangers nie net uitsien na ’n splinternuwe liedjie en video, DESEMBER, nie maar ook na sy debuut-album, LEWE, wat in Mei 2018 vrygestel gaan word.

Alhoewel DESEMBER gaan voortbou op die unieke elektroniese klank en styl waarvoor dié musieksensasie bekendheid verwerf het, meen hy dat dit beslis ’n dieper kant van homself aan gehore gaan bekendstel. “Die liedjie gaan oor iemand spesiaal, wat vir my gevoel het soos ’n Desembervakansie, toe alles rondom my rof gegaan het. Dit is geïnspireer deur my eie Desember-ervaringe en ek glo dat almal daarmee sal kan vereenselwig, omdat die meeste van ons al vakansieromanse beleef het,” verduidelik Bloukaas, wat graag meer ernstige musiek wil maak.

Daar is ook ’n musiekvideo geskiet vir hierdie nuwe snit, wat spog met ’n vars kletsrym-popaanslag. “Die video is in Kaapstad verfilm deur Jannes Erasmus en Daniël Rademeyer en gaan oor ’n ou wat tyd spandeer saam met iemand wat hy pas ontmoet het oor die Desembervakansie. Ek kom van die Kaap af en die storie reflekteer my eie unieke herinneringe van hierdie tydperke in my lewe. Omdat mense altyd komiese videos en musiek van my verwag, gaan hierdie nuwe projek hulle heel moontlik aangenaam verras,” sê hy.

DESEMBER is die eerste amptelike vrystelling vanaf sy eerste solo-album, LEWE, wat eersdaags beskikbaar gaan wees. Buiten vir bekende gunstelinge soos Kaas Elke Dag, kykNET en Chill en Lassit spog dié CD met nog vyftien splinternuwe oorspronklike werke deur hierdie talentvolle jong man. Dit is ’n kombinasie van komiese partytjiemusiek, vermeng met ’n tikkie nostalgie en kommentaar oor die lewe en grootword, en beloof om aanhangers en kritici se stoutste verwagtinge te oortref. “Ek wil iets nuuts en vars aanbied, en gaan daarom voort om elektroniese musiek te vervaardig. Maar daar is ook meer ernstige musiek waarby mense sal aanklank vind. Ek is opgewonde oor die toekoms,” verklap hy.

Jan Bloukaas, oftewel Jean du Plessis, is skaars klaar met matriek en reeds ’n held onder die jeug, asook meer volwasse gehore wat sy pogings met ’n glimlag dophou. Volgens hom speel hy al vandat hy in graad ses is met musiek en elektroniese klanke rond op sy rekenaar. Hy wou eintlik graag ernstige musiek skep en het homself nooit gesien as ’n kletsrymer of sanger nie.

Na ’n tyd, het hy so half-en-half opgegee op sy droom om ’n musikant te wees en vir ’n ruk lank net, onder die naam Jan Bloukaas, materiaal geskep om sy vriende mee te vermaak. Hulle het hom toe aangemoedig om saam met sy skeppings te sing, wat gelei het tot sy eerste suksesvolle treffer, Kaas Elke Dag, wat binne twee maande deur meer as 400 000 mense op YouTube gekyk is. Dit het ook die aandag getrek van InhoudsHuis Musiek en só het hy sy eerste platekontrak losgeslaan. “Ek skep musiek omdat ek wil hê dat mense moet lag en hulself geniet. Daarom wou ek letterlik die mees lukrake verhoognaam hê, wat mense sou onthou en het besluit op Jan Bloukaas. Voor Kaas Elke Dag, het ek ’n klomp eenminuut-liedjies op my SoundCloud-blad gelaai en nie gedink dat hierdie een juis beter sou vaar as die res van my goed nie. Dit, saam met kykNET en Chill, het egter my musiekloopbaan geloots,” gesels die Kapenaar.

Musiek wat uit die hart uit kom inspireer hom en hy het groot bewondering vir kunstenaars soos Avicii, Kurt Cobain, Skrillex en Post Malone. Hy sal ook graag eendag saam met groot name soos Francois van Coke, Van Pletzen en Karen Zoid wil werk. Optredes by die KKNK en die In Afrikaans-konsertreeks in Hartenbos, asook sy Bokkie-benoeming as Nuweling van die Jaar, word uitgesonder as die hoogtepunte van sy loopbaan sover.

Jan Bloukaas se musiek is vol humor, vernuwend, vars en vermaaklik. Met sy nuwe album, LEWE, en nuutste vrystelling, DESEMBER, gaan hy nie net die musiekwêreld op sy kop kom draai en die jonger generasies gaande hê nie, maar ook vir homself ’n permanente plek in die Afrikaans musiekbedryf vestig.

Luister na Jan Bloukaas se album LEWE op Apple Music:

‘n Hoogtepunt tans op Apple Music is die bekendstelling van die musiekvideoblad. Dié bladsy bevat onder meer jou gunsteling plaaslike en internasionale video’s, eksklusiewe musiekvideo-speellyste en die beste nuwe Afrikaanse musiekvideo’s.

Jan Bloukaas se video DESEMBER is op Apple Music beskikbaar
VOLG Jan Bloukaas OP SOSIALEMEDIA

  • Twitter – @JanBloukaas
  • Facebook
  • Instagram: @jan_bloukaas_official
  • YouTube: Jan Bloukaas

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

[kyk] Elizma Theron se nuwe musiekvideo is hier!

Elizma Theron se nuwe album Hierdie hart brand liefde is ‘n viering van die lewe …

Martin Bester wil net wees wie hy is, sonder toestemming!

Net wanneer jy dink dat Martin Bester jou nie nog meer kan beïndruk nie, verras …