Woensdag , Maart 27 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Jacobus Silwer blaas strome nuwe lewe in die Afrikaanse Musiekbedryf!

Jacobus Silwer blaas strome nuwe lewe in die Afrikaanse Musiekbedryf!

Jacobus Silwer en die liefdadigheidsorganisasie, ENGO waarvan hy ’n ambassadeur is, is tans op almal se lippe nadat hy onlangs ’n treffende nuwe enkelsnit uitgereik het wat geïnspireer is deur dié organisasie se doel om hoop en lig in die donker te wees.

“Ek is ’n groot voorstaander van die “skoonblaadjie omslaan”-benadering wanneer dit kom by foute, verkeerde besluite en slegte gebeure. STROME LEWE vertel van só ’n oorbegin-situasie, hetsy dit ’n groot verjaardag, nuwe jaar of lewensfase is wat begin. Ek vertel die luisteraar dat ons die lesse wat ons leer moet onthou, maar onsself moet uitstrek na môre, want gister is verby. Hierdie lewe bestaan net uit drie goed wat ewig bly, en die res – pyn, vreugde, verlies, oorwinning, avontuur – is alles tydelik”, verklap dié liedjieskrywer en komponis oor die boodskap agter sy nuutste Afrikaanse vrystelling.

STROME LEWE is die sesde enkelsnit uit die musikant se eie pen en pas sy growwe stem soos ’n handskoen. Dit het ’n moderne kontemporêre aanslag en gaan daaroor om vrede te maak met dinge wat in jou verlede gebeur het. Die snit se meesleurende wysie is nie net strelend op die oor en hartsnare nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. “Ek hoop dat mense vir die oomblik wat hulle hierdie liedjie saamsing, ’n breukdeel van vergifnis sal ervaar en losgemaak word van dit wat hulle jaag. Dat elke luisteraar die waarheid van die lewe in daai oomblik sal besef – dat alles verbygaan en dat hulle eerder moet vashou aan dit wat ewigheidswaarde het,” sê hy.

Jacobus is in Pretoria gebore, maar het in Bloemfontein grootgeword. Hy kom uit ’n familie vol musikante en glo dat musiek deur sy are vloei. Hy was vyf toe hy vir die eerste keer ’n liedjie op die klavier kon speel en sestien toe hy sy pa se twaalfsnaar akoestiese kitaar begin tokkel het. Dit was dan ook die begin van sy musiekreis, want kort daarna het hy sy eerste liedjie geskryf en sommer ook ’n kompetisie daarmee gewen. Alhoewel hy Grafies Ontwerp gaan studeer het, het hy aanhou musiek maak en verskeie ander kompetisies gewen, waaronder Bloemfontein Waterfront Idols en Bloemfontein’s Got Talent. Sy grootste deurbraak was egter in 2012, toe hy gekies is om deel te neem aan die kykNET-program, Ons Soek Die Sanger, waar hy met ’n driejaarkontrak by Select Musiek weggestap het as deel van die duetgroep, Silwer en Goud.

Sedert hy in 2016 sy solo-loopbaan hervat het, het hy vyf enkelsnitte (Genade vir Afrika, Anderkant die Muur, Wegkruipplek, Dagdroomvastrap en Hond se Kind) en ’n album vrygestel. Die musiekvideo van sy eerste solo-album, Genade vir Afrika, is baie goed ontvang en deur sowat 100 000 verbruikers op Facebook en 24 000 mense op YouTube gekyk. Die aand nadat dit gelaai is, het Radio Kansel hom genooi vir ’n onderhoud. Oor die laaste vyf jaar, het sy loopbaan van krag-tot-krag gegroei en het hy die musiek en lirieke geskryf vir twee Passiespele. Dié talentvolle man het ook in 2016, 2017 én 2018 die The Best of Bloem-toekenning gewen vir Beste Plaaslike Groep. Hy en sy vrou het ook die All The Way From Bloem-projek begin, wat skrywers en komponiste in hulle omgewing bemagtig en inlig om hulle eie musiekloopbane aan die gang te kry.

Omdat hy meen dat musiek die beste manier is om mense te laat weet hoe hy voel, skryf hy graag oor die lewe in die algemeen en hoop dat dit êrens iets vir iemand kan beteken. Wanneer hy musiek luister, is dit gewoonlik liedjies met ’n mooi melodie. Hy geniet enige genre of styl, van klassieke musiek tot Rock en Blues. “Ek vind aanklank by kunstenaars wat die tyd deurstaan het. Plaaslik mense soos André Swiegers, Coenie de Villiers, Richard vd Westhuizen, Amanda Strydom, Lucas Maree, Anton Goosen, Valiant Swart, is almal kunstenaars wat ek bewonder, asook die nuwelinge Elvis Blue, Bouwer Bosch, Joshua na die Reën, Twee, RKO, Spoegwolf ensovoorts”. Hy lys ook oorsese kunstenaars soos Andrea Bocelli, Bob Dylan, Neil Diamond, Bob Seger, Labrinth, Zac Brown Band en Mumford & Sons as van sy gunstelinge.

Wanneer hy nie besig is om te komponeer of op te tree nie, hou hy ook baie van skets. “Ek skets met swart pen en bome is my hooffokus. Daar is vir my ’n stil wysheid in ’n boom. Daardie Eikebome wat al vir 400-jaar op Lourensfort in die Kaap in ’n ry staan, inspireer my! Ek het onlangs my eie uitstalling in ’n kunsgallery, Gallery on Leviseur, in Bloemfontein gehou, en ek en my vrou (wat ongelooflik skilder, druk, en foto’s neem), gaan in Oktober daar saam uitstal.”

Jacobus Silwer glo, net soos Shakespeare, dat die aarde musiek het vir diegene wat wil luister en hy wil graag die klanke wat in sy hart leef met die wêreld deel. Die moderne benadering en sielvolle vertolking van STROME LEWE en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n omwenteling gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook diep in die publiek se harte gaan nesskop.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook
Twitter: @JacobusSilwer
Instagram: @jacobussilwer


Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Deon Groot vier goeie tye!

Ons lewe in moeilike tye, met soveel probleme en bekommernisse en dis dikwels moeilik om …

Nuwe Afrikaanse Duo stel eerste enkelsnit vry!

SKEMER, ‘n nuwe Afrikaanse man- en vrou-duo, het pas hulle heel eerste enkelsnit vrygestel en …