Woensdag , Augustus 15 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Irshaad Ally en Youngsta CPT span kragte saam vir Nommer 37 film!

Irshaad Ally en Youngsta CPT span kragte saam vir Nommer 37 film!

Die eerste liedjie vanaf die klankbaan van die bekroonde Kaapse riller, Nommer 37, is pas vrygestel en is geskep deur twee van Suid-Afrika se mees talentvolle sterre, Youngsta CPT en Irshaad Ally.

DALA WAT JY MOET is ’n treffende kletsrymverwerking wat geïnspireer is deur die leefstyl op die Kaapse Vlaktes. Alhoewel dit ’n kragtige boodskap bevat, spog die enkelsnit ook met ’n tipiese bende-styl kletsrymritme en ’n konstante meesleurende koorherhaling wat nie net perfek by die genre van die fliek pas nie, maar ook bydra tot die opbouende spanning.

Luister hier na ‘n lusmaker:

“Ek ken Youngsta al vir baie jare. Hy het ’n liedjie geskep vir ’n fliek waarin ek gespeel het, met die naam ‘Four Corners’. Ek het die rol van ’n bendeleier vertolk, wie se lewe deur die jeug bewonder is, alhoewel dit ’n slegte een was en die karakter op die ou einde doodgaan.  Dit is eintlik ’n baie hartseer realiteit en was ook die inspirasie agter DALA WAT JY MOET. ‘Dala’ beteken ‘doen’ en doen letterlik ’n beroep op jongmense om te doen wat hulle moet om bo hulle omstandighede uit te styg en suksesvol te wees,” verduidelik akteur, Irshaad Ally, oor die nuwe liedjie.

“Ek en Youngsta het ook baie in gemeen. Albei van ons se ouers is onderwysers en ons was albei op die verkeerde pad voordat ons dit in die vermaakbedryf gemaak het. Om betrokke te wees by bendes en wat daarmee saamgaan, het ons sterk gemaak. Dit beteken nie dat ons dit goedpraat nie, dis bloot ons getuienis,” het hy in ’n eksklusiewe onderhoud met Daily Voice gedeel. “Met die wysheid wat ons nou het, wil ons letterlik jongmense motiveer en help om verandering op die Kaapse Vlaktes te bewerkstellig deur hulle aan te moedig om iets van hulleself te maak.”

Irshaad, wat ook die hoofrol van Randal Hendricks in Nommer 37 vertolk, het bekendheid verwerf as ’n deelnemer in die tweede seisoen van die realiteitsprogram, Survivor South Africa. Hy is veral bekend as Rhafiek in die kykNET-sepie, Suidooster. Youngsta CPT, oftewel Riyadh Roberts, is ’n talentvolle kletsrymer en liedjieskrywer van die Kaap af. Die musikant, wat sy musiek styl as 100% Kaaps beskryf, het verskeie treffers op sy kerfstok, waaronder We Go Bos, Yasis en Salutas. Hy was nie net verantwoordelik vir die skep en skryf van DALA WAT JY MOET nie, maar het ook al aan musiek vir ander produksies gewerk.

NOMMER 37 is gebaseer op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Dumisa het sedertdien die draaiboek aangepas en die regie behartig van ’n vollengte speelfilm-weergawe hiervan. Dit speel af in ’n fiktiewe woonstelblok, Haven Mansions, in haar weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlaktes. Dit vertel die verhaal van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon en Amrain Ismail-Essop is ook in die fliek te sien.

Die rolprent is vervaardig deur Gambit Films, in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik op 1 Junie 2018 vrygestel deur Ster-Kinekor Entertainment en sal ook internasionaal versprei word deur XYZ Films. Na die suksesvolle ontvangs wat Nommer 37 by die SXSW-rolprentfees in Austin gekry het, het Dark Star Pictures onlangs die eksklusiewe Noord-Amerikaanse-verspreidingsregte vir die film bekom. Dit sal in bioskope in Los Angeles en New York vrygestel word gedurende herfs in Noord-Amerika.

KYK DIE LOKPRENT:

SOSIALEMEDIASKAKELS

NOMMER 37

Facebook

Twitter: @Nommer37Film

Instagram: @nommer37film

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Suid-Afrika swem saam STROOMOP!

Stroomop is amptelik op Vrouedag, 9 Augustus vrygestel in fliekteaters landswyd. Met reuse afwagting vir …

Fliek oor Ellen Pakkies se lewe sal kykNET Silwerskermfees open!

Die fliek oor Ellen Pakkies se lewe, ELLEN, DIE ELLEN PAKKIES STORIE, het reeds oorsee …