Woensdag , Desember 12 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Het jy al gelewe?

Het jy al gelewe?

Die manne van DZL se nuwe musiekvideo ‘Het Jy Al Gelewe’ laat jou sommer lus voel om jou tas te pak en ‘n nuwe avontuur aan te pak! Die video is Maandag, 26 April, op SABC 2 se Kliphard bekendgestel.

Kyk gerus:

DZL word daaraan geken dat hulle nie iets op die gewone, tradisionele manier doen nie. Dit blyk duidelik met die bekendstelling van hulle nuwe video waarvan hulle die tonele in Thailand geskiet het.

‘Ons hou mos daarvan om altyd iets mal aan te vang wat die bloed deur jou are laat bruis en toe ons onlangs in Thailand gekuier het, het ons die geleentheid gebruik om alles wat ons beleef het in ‘n musiekvideo te vervat,’ vertel Andries Potgieter.

‘Het jy al gelewe’, die tweede enkelsnit vanaf DZL se nuwe album, is ’n lekkerluister country-popdanstreffer wat gaan oor die vreugde van die lewe en om elke oomblik saam jou beste pêl of geliefde te geniet. Die enkelsnit speel reeds op radiostasies regoor die land.

‘Die lewe is ernstig en ons almal is op soek na iets wat jou ’n wegbreekkans kan gee. Hierdie is daardie tipe liedjie wat jou vir ’n oomblik kan wegvoer na ’n plek van ontsnapping en jou sal uitnooi om lighartig saam te sing,’ verduidelik Wiaan Fourie.
Suid-Afrika se aantreklikste sangduo is terug met ’n splinternuwe album, REALITEIT, wat nie net gaan voortbou op die unieke alternatiewe country-popklank waarvoor hulle bekendheid verwerf het nie, maar ook die kieskeurigste musiek-oor tevrede sal stel. Die album is kan reeds op iTunes bestel word en is 6 April 2018 in musiekwinkels regoor die land beskikbaar.

DZL, wat bestaan uit Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie, se tweede album bestaan uit ‘n kombinasie van opgewekte deuntjies en hartroerende ballades en beloof om aanklank te vind by oud en jonk. Die cd bestaan uit tien oorspronklike liedjies, waarvan twee deur die sangpaar self geskryf is, en sluit ook drie duette asook verwerkings van ou gunstelinge in.

‘So baie van wat ons doen is in ons musiek en dit is ’n realiteit vir ons, want ons is wat ons sing en sing oor wat ons ervaar. Ek wil hê luisteraars moet hulself in ons liedjies herken. Dit gaan oor die daaglikse goed in die lewe, soos geloof, emosie, groei, uitdagings en opgewondenheid, wat ons almal elke dag ervaar,’ verklap die groep se stigterslid, Andries.

‘Ek en Andries het so ’n passie vir die bos, die natuur en die lewe en daarom wou ons dit in ’n album vervat wat ons lewenspaadjie uitbeeld. Geen voorgee, net realilteit,’ voeg Wiaan by.

Ses van die nuwe vrystelling se liedjies kom uit die pen van bekende liedjieskrywer, Roux Cloete, terwyl Rhino in Our Blood deur die oorlede kwaito-ster, Mandoza, geskryf is. Hierdie hoendervleismooi-snit is deur Daniel Baron vervaardig en sluit dele in waarin die musieklegende, Mandoza, self sing. Wees Iemand, is ’n duet saam met ‘n jong sangeres en is gebruik in ’n boeliebewusmakingsveldtog.

Alhoewel nie een van die manne graag ’n gunsteling-liedjie wil uitsonder nie, meen Andries dat Bloei hom na aan die hart lê.

‘Ons almal is soms te trots om te erken dat daar goed in jou lewe is wat seermaak en die feit dat jy daaroor kan oopmaak en praat bring eintlik die genesing,’ sê hy.
Omdat Wiaan mal is oor country-musiek, hou hy persoonlik baie van Jonk en Mal en Die Hele Wêreld, en meen dat eersgenoemde beslis die potensiaal het om ’n radiotreffer te wees.

Elkeen van die album se musiekvideos word ook in ’n verskillende land geskiet. Die Hele Wêreld se tonele is in Kenia verfilm waar die twee manne met ’n strooppoging op ’n olifantbul bystand verleen het.

DZL, wat teen die einde van 2015 gestig is, is nie jou gewone manssangroep nie, want hierdie twee talentvolle manne kan iets van alles doen. Beide is professionele modelle en het ’n groot hart vir die natuur en renosters. Die musikante se paaie het gekruis toe Wiaan moes instaan vir Andries se gewone kitaarspeler en die res is geskiedenis. Hulle selfgetitelde debuut-album, wat vanaf 2016 op die rak is, is baie goed ontvang en is benoem vir twee Ghoema-musiektoekennings vir Beste Country- album en Beste Groep of Duo. Die cd het verskeie radiotreffers en suksesvolle musiekvideos opgelewer, waaronder Langpad, Vind jou Pad, Een Kans en Ek Laaik Dit, en verseker dat hulle gereeld genooi word vir optredes by feeste en funksies.

Andries Hendrik het sewe jaar gelede die musiekbedryf betree en het met van die land se grootste kunstenaars soos die Grammy-bekroonde, Soweto Gospelorkes en Steve Hofmeyr saamgewerk. Met die nuwe album voeg hy nog ’n legende by die lys naamlik, Mandoza, wat nog nooit voorheen met ’n Afrikaanse sanger kragte gesmee het nie. Andries het ook al oorsee gehore vermaak in Disneyland, New York, Atlanta en Namibië waar sy duet, Woestynroos, met Namibiese sangeres Lize Ehlers, vir ’n Namibiese Musiektoekenning benoem is en die nommer een posisie op verskeie Namibiese radiostasies se treffersparades beklee het. As gesoute model het hy al vir meer as 30 lande se ontwerpers geloop en is ook in 2016 aangewys as Cosmopolitan se Sexyste Man. ’n Gesonde leefstyl is deel van sy raamwerk. Hy hou van musiek met betekenisvolle lirieke en het groot bewondering vir Adam Levine van Maroon 5 en Laurika Rauch. As hy nie ’n sanger was nie, sou hy beslis ’n dierekunsige wou wees en verklap dat hy meer kaalvoet loop as ’n plaasjapie en nie daarvan hou om hare te kam of te skeer nie. Oor die jare het hy geleer om nie sy ore uit te leen vir ander se opinies nie en om net homself te wees, want dit is genoeg.

Wiaan het in ’n musikale familie grootgeword. Sy pa, Louis, was ook in ’n musiekgroep, Night Train. Hy is die skamer een van die twee groeplede en is nou al so vier jaar in die musiekbedryf doenig. Een van sy verskuilde talente is kosmaak en hy was die wenner van die tweede seisoen van die VIA-kookprogram, Lek Jou Lippe Af. Country- en rockmusiek word uitgesonder as sy gunsteling-musiekgenres en hy lys Keith Urban as een van sy grootste rolmodelle. Die afgelope paar jaar, het hy ’n groot liefde vir die natuur ontwikkel en as hy nie kon sing nie, sou hy heelmoontlik ’n loopbaan in daardie rigting oorweeg het. Alhoewel hy baie gesondheidsbewus is, verklap hy dat hy beslis ’n soettand het en maklik sommer twaalf oliebolle sal verober. Tog is hy in 2017 onder die Top 20 vir Men’s Health se voorblad aangewys. Die musiekbedryf het hom geleer om sy voete op die grond te hou, altyd nederig en vriendelik te wees en nooit ander te oordeel nie.

Die sangpaar het nog baie planne en drome en sal graag in die toekoms voor internasionale gehore wil optree. Hulle is ook besig met ’n paar nuwe bewaringsprojekte wat hulle weereens regoor die wêreld sal neem.

‘Ons wil graag hierdie jaar baie fokus op die nuwe album en seker maak hy kom by elke oor uit. Verder wil ons toer en elke natuurbewaringsprojek wat ons na aan die hart lê besoek en aan ander voorstel,’ sê Andries.

Die aanslag van DZL se nuwe album is vars en nuut en is beslis, soos ’n wafferse ontwerpersitem, iets waarsonder geen musiekliefhebber se versameling volledig sal wees nie.

VOLG HULLE AANLYN OP

Twitter: @DZL_Band

Facebook: @DZL Instagram: @dzl_band

Webblad: www.dzlband.co.za

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Hammie se musiekvideo is hier!

Hammie se heel eerste musiekvideo is hier! Gaan Bruce Lee vir Bibi red…? Kyk die …

Jo Black maak groot nuus bekend!

Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar vir Jo Black!  Na die weghol sukses van sy …