Maandag , April 22 2019
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Griekwastad-moorde binnekort ‘n fliek!

Griekwastad-moorde binnekort ‘n fliek!

In April 2012 word Suid-Afrika en die wêreld tot stilstand geruk met die skokkende nuus van die Griekwastad-moorde. Deon (44) en Christel Steemkamp (43), en hul dogter, Marthella (14) is wreed op hul plaas, Naauwhoek vermoor. Marthella is ook verkrag. Don Steenkamp (hul seun, ten tyde van die moorde slegs 15 jaar oud), word in 2014 skuldig bevind vir die gruweldade.

Nou, vir die eerste keen sedert die gebeure, word die storie van die Griekwastad-moorde op die silwerdoek verewig in 2019, deur die produksiehuis SCENE23. Wêreldberoemde Suid-Afrikaanse akteur, Arnold Vosloo, sal die hoofrol van Kolonel Dick De Waal vertolk. SAFTA wenners Tertius Kapp en Jozua Malherbe is onderskeidelik verantwoordelik vir die teks en regie.

“Om feitelike gegewens in ’n speelfilm te verpak is ’n uitdaging waarna ek baie uitsien. Die ‘Griekwastad-moorde’ het ons land geskud, en ek hoop om die oorsake en karakters te ondersoek — asook die omvang van impak op al die betrokkenes. Dié film dra by tot my oeuvre deur karakters wat vra om hul eie tyd op die skerm.” – Jozua Malherbe, Regisseur.

Die ontwikkeling van die film was een van SCENE23, bestaande uit vervaardigers Deon Meyer, Tim Theron, Cobus van den Berg en Tracey Lange, se eerste projekte. Die idee vir die film was aanvanklik die van Suid-Afrikaanse skrywer Deon Meyer; hy het die regte van die boek, ‘Die Griekwastad-moorde – Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het’ deur Jacques Steenkamp bekom.

“As misdaadskrywer was ek uiteraard — soos die res van Suid-Afrika —  heeltemal geboei deur die Griekwastad-moorde, en het van meet af aan geglo dit kan ’n meesleurende fliek maak. Jacques Steenkamp se briljante boek het my finaal oortuig om hom oor dié moontlikheid te nader. Juis daarom dat ek so opgewonde is dat dit nou werklikheid gaan word.” – Deon Meyer, Vervaardiger.

Die gebeure rondom die Griekwastad-moorde het die hele land vasgenael gehou aan elke brokkie nuus en elke nuwe feit wat bekend gemaak is. Tot vandag toe word daar steeds geworstel met vrae soos ‘Hoekom? Hoe kan ’n kind so iets doen? Kan so iets in my familie gebeur?’. Die storie forseer die publiek om die feit te konfronteer dat die waarheid soms lelik en afgryslik is, en dat daar mense is (polisie en speurders soos Dick De Waal) wat elke dag sulke omstandighede moet konfronteer, en die res van die mensdom daarteen moet beskerm.

“Ons kan nie wag om ’n storie aan te pak wat so drasties ons land se verbeelding aangegryp het. Die SA gehoor kan verseker wees dat die film nie net weer die feite rondom die saak, so boeiend as wat dit mag wees, gaan weergee nie –  maar die drama en menslikheid gaan wys wat gepaard gaan met die unieke omstandighede van, en die mense betrokke by die ondersoek na die moorde.” – Tim Theron, Vervaardiger.

Verfilming sal begin in Mei 2019 en die film sal hoofsaaklik fokus op die gebeure rondom die moorde, asook die ondersoek na die moorde.

“Griekwastad-moorde sal die kyker regop laat sit in die besef hoe uiters belangrilk dit is om by die volle waarheid uit te kom. Ons samelewing kan nie gesond wees, vrede maak of vergewe daarsonder nie.” – Cobus van den Berg, Vervaardiger.

Arnold Vosloo sal die hoofrol van Kolonel Dick De Waal, die ondersoekbeampte van die saak, vertolk. Dit is Arnold se eerste Afrikaanse film in meer as 30 jaar en hy is opgewonde om terug te keer na sy vaderland om op die projek te werk.

SCENE23 is tans besig om akteurs te oudisie vir die ander rolle, waaronder die belangrikste die van Don Steenkamp is.

“Lees was nog altyd ’n groot ding vir my en as dit kom my moordsake en die verslaggewing daarvan, het dit my altyd gepla dat ek nie heeltemal ’n prentjie kon vorm oor wat presies die reaksie van die persoon was toe hulle ‘gevang’ was nie; die gevoel van die speurders aan die stuur van die saak; hoe hulle nog daagliks aangegaan het met hulle lewe, ens. Dit was een van die deurslaggewende faktore wat my laat besluit het om deel te word van die span as vervaardiger.” – Tracey Lange, Vervaardiger.


Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Koningin Lear maak skoonskip by Kanna-toekennings

KKNK25 se debuutproduksie Koningin Lear het vanaand (15 April) by ’n spoggeleentheid in Kaapstad agt van die Kanna-pryse …

KKNK25 vereer groot name!

“Die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vier vanjaar die loopbane van drie legendes wat …