Woensdag , November 14 2018
Home / Movies / Glenn Close is briljant in THE WIFE hierdie vrouemaand!

Glenn Close is briljant in THE WIFE hierdie vrouemaand!

Volgens die bekende gesegde is daar altyd wonderlike vrou agter elke suksesvolle man. In regisseur, Björn Runge, se eerste Engelse speelfilm, THE WIFE, kry jy die kans om hierdie vrou te ontmoet.

Hierdie opwindende drama – ’n verwerking van Meg Wolitzer se 2003-roman met dieselfde naam deur Jane Anderson – ondersoek hoe ’n vrou se opofferinge dikwels die prys betaal vir haar man se sukses. Glenn Close, wat reeds ses Oscar-benoemings agter haar naam het, is te sien as Joan Castleman, die vrou en ondersteuner van haar man, Joe (Jonathan Pryce), ’n charismatiese en suksesvolle skrywer.

Berlin Silver Bear-wenner, Runge, verduidelik hoe hy by die projek betrokke geraak het: “Ek het die draaiboek gelees en dadelik die wonderlike dialoog, sterk karakters en interessante heelheid van die verhaal raakgesien. Dit was ook duidelik dat hierdie vir Glenn Close ’n wonderlike geleentheid kon wees om waarlik haar toneelvernuf aan die wêreld ten toon te stel. Om deel te wees hiervan was ’n maklike besluit vir my.”

THE WIFE begin waar die paartjie die nuus kry dat Joe ’n Nobelprys vir Literatuur gaan ontvang. Soos wat haar man voorberei om sy prys te ontvang, begin Joan – die perfekte alfa-vrou – besef wat sy verloor het terwyl sy besig was om haar man se skryfloopbaan te bevorder.

Deur middel van terugflitse, verklap die fliek wat Joan se drome as student was – met die jonger Joan wat deur Close se regte dogter, Annie Starke, gespeel word – en hoe haar eie loopbaan as skrywer, wat baie belowend gelyk het, geëindig het omdat sy haar man moes onderhou en kinders moes grootmaak.

Wanneer die paartjie na Swede vertrek om die prys in ontvangs te neem, bereik die spanning kookpunt en is die vrou wat vir jare in haar man se skaduwee geleef het reg om haar plek in die kollig in te neem. Om sake te vererger, is daar ’n aggressiewe biograaf wat hulle agtervolg en vasbeslote om oor Joe se lewe te skryf.

Close is uitsonderlik in die rol van die sjarmante, enigmatiese, diskrete en ondersteunende vrou van ’n wêreldberoemde skrywer. Sy is onnodig subtiel, onleesbaar kalm en vol selfbeheersing – die perfekte voorbeeld van ’n pynlike huwelik, bedrog en die politiek waarmee bekendheid gepaard gaan.

Sy word ondersteun deur Jonathan Pryce, wat die rol van die geïrriteerde en verwaande skrywer, wat verslaaf is aan bewondering, perfek vertolk. Christian Slater is die verraderlike Nathaniel Bone – ’n obsessiewe aanhanger en skrywer – wat glo dat hy die geheim agter Joe se sukses en hulle ongelukkige huwelik ontsyfer het. Max Irons speel die paartjie se temperamentele seun, David, wat ook ’n skrywer wil wees en desperaat is vir sy pa se goedkeuring.

“Volgens my het beide Glenn Close en Jonathan Pryce die beste spel van hulle loopbane in hierdie fliek gelewer. As ’n regisseur, was dit vir my ’n voorreg om saam met hierdie talentvolle akteurs te werk en te sien hoe hulle lewe gee aan ons storie,” sê Runge.

Fantastiese kamerawerk, ’n slim draaiboek, soomlose redigering en ’n Oscar-standaard vertolking deur Close gee vir hierdie rolprent ’n sterk stem onder die gehoor wat geteiken word. Dit staan veral op vir vroue wat voel dat hulle nie deur hulle manlike eweknieë raakgesien word nie, of vir diegene wat letterlik hulle loopbane en ambisie opgegee het vir ander mense.

“Dit is moontlik een van die moeilikste karakters wat ek ooit moes speel,” sê Close oor dié rol wat van haar vereis het om ’n komplekse protagonis se storie vanuit die skaduwee van haar man oor te dra. “Ek dink dit is ’n situasie waarby vroue van elke ouderdom en generasie kan aanklank vind. Ek is baie trots op die film, omdat dit die subtiele elemente van die man-vrou-verhouding ondersoek, asook vroue wat hulself laat definieer deur mans tot hulle eie nadeel,” voeg sy by.

THE WIFE is ’n besonderse rolprent, wat deur vrouwees geïnspireer is, en regtig probeer om die sielkunde agter die skoner geslag te verstaan. Alhoewel die aan die een kant propvol spanning is, is dit ook ’n humoristiese en emosionele reis; ’n viering van vrouwees, selfontdekking en bevryding.

THE WIFE word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 24 Augustus 2018.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

The Forgiven vanaf hierdie naweek in uitgesoeke teaters!

Die langverwagte rolprent, THE FORGIVEN, gaan oor Aartsbiskop Desmond Tutu se werk as die hoof …

Nuwe John Travolta fliek in teaters die naweek!

Die fliek waarin John Travolta lewe gee aan een van die mees berugte bendelede sedert …