Dinsdag , Desember 11 2018
Home / Movies / Frankenstein se skrywer kry lewe op die grootskerm!

Frankenstein se skrywer kry lewe op die grootskerm!

Sy sal vir altyd onthou word as die skrywer wat Frankenstein aan die wêreld gegee het. Maar die ware lewensverhaal van Mary Shelley, en hoe een van die wêreld se mees bekende monsters geskep is, is amper so fantasties soos haar fiksie.

MARY SHELLEY is ’n biografiese film oor Frankenstein se skrywer deur regisseur Haifaa Al Mansour. Dit poog om sin te maak van Shelley se merkwaardige en wilde lewe, terwyl dit die reis wat gelei het tot die skepping van een van die mees onuitwisbare fiktiewe kreature van alle tye, naspoor. Die film bied kontinuïteit vir Al Mansour, wat skerp in die kollig gekom het met haar bevrydende eerste film, Wadjda – wat in die oppressiewe samelewing van haar geboorteland, Saoedi Arabië, afspeel. Albei films handel oor die vasberadenheid van ’n vroulike protagonis om ’n doelwit te bereik wat haar onafhanklikheid sal bevestig.

Sy verduidelik waarom sy die film aangepak het: “Ek het gevoel Mary Shelley verdien erkenning. As vroue moet ons figure soos sy vier, want hulle bied ’n soliede erfenis waarop ons kan steun terwyl ons voorwaarts beweeg. Ek het onmiddellik gevoel dat ek haar storie moes vertel.”

In MARY SHELLEY vertel Al Mansour en draaiboekskrywer Emma Jensen die verhaal van Mary Wollstonecraft Godwin (Elle Fanning), ’n tienerjarige dromer wat vasberade is om haar merk in die wêreld te maak. Die film, wat in die 18de eeu afspeel, is ’n tradisionele maar ryklik ontwerpte historiese stuk.

Mary is voor haar tyd gebore en, ná die dood van haar ma, word sy deur haar pa, die filosoof, skrywer en uitgewer, William Godwin (Stephen Dillane), grootgemaak om buite die boks te dink. Hy stuur haar na Skotland, waar ’n naïewe maar ontluikende Mary die swierige digter, Percy Shelley (Douglas Booth), ontmoet. So begin ’n benarde, boheemse liefdesverhouding. Die belaaide verhouding – gekenmerk deur passie, persoonlike tragedie, verlies en verraad – is die hoeksteen van Jensen se draaiboek.

Mary skryf aanmekaar oor haar hartseer en vreugde, wat Al Mansour vertolk as ’n onstuimige mengelmoes van emosies binne Mary wat uiteindelik oorloop. Geïnspireer deur ’n spookstoriekompetisie op ’n reënerige dag by die Geneva-landgoed van Lord Byron (Tom Sturridge), kanaliseer sy hierdie emosies om een van die Engelse literatuur se fynste werke te skep.

Die film vier Mary Shelley vir die baanbreker wat sy was, en Al Mansour wys hoe die worstelinge uit Mary se jeug haar met ’n volwasse verstandhouding van vroue se plek in die wêreld gelaat het.

Fanning is uitstekend as die blosende, dan vurige, Mary en haar uitbeelding van die jong skrywer is emotief. Soos dinge tussen die karakters ontrafel, kom Mary tot die nugtere realisasie van die wreedheid van mans en die gevolge van die foute wat sy gemaak het – iets wat Fanning roerend artikuleer in ’n verrassende Londense aksent.

Die sterbelaaide film sluit in Bel Powley as Claire Clairmont, voormalige EastEnders-akteur Ben Hardy as John William Polidori, Game of Thrones-ster Maisie Williams as Isabel Baxter, en Downton Abbey se Joanne Froggatt as Mary Jane Clairmont.

“Dit was vir my belangrik om ’n film te maak met karakters waarmee ek kan vereenselwig en om uitdagings vir myself te skep. Dit was ’n ongelooflike leerervaring. Ek wil aanhou om films te maak met hart,” sê Al Mansour.

MARY SHELLEY word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd vrygestel word op 3 Augustus 2018.

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook

Twitter: @MaryShelleyFilm

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

The Forgiven vanaf hierdie naweek in uitgesoeke teaters!

Die langverwagte rolprent, THE FORGIVEN, gaan oor Aartsbiskop Desmond Tutu se werk as die hoof …

Nuwe John Travolta fliek in teaters die naweek!

Die fliek waarin John Travolta lewe gee aan een van die mees berugte bendelede sedert …