Fiela se ‘kinders’ wen Shaleen se hart!

123

Shaleen Surtie-Richards wat die rol van FIELA in FIELA SE KIND speel sê haar “kinders” in FIELA SE KIND het behoorlik in haar hart gekruip!  “Jong ek het vir regisseur, Frans Swart, van die begin af gesê dat hy baie seker moet maak van die kinders … die jong Benjamin en die ouer Benjamin/Lukas.  Nou kan ek sê hy het beslis baie seker gemaak, want dis twee ongelooflike talentvolle akteurs.  Daai kleintjie, Vian (Singleton) is ongelooflik talentvol.  Man hy is maar elf, maar jy kan wragtag nie glo die seuntjie kan so emosioneel speel nie.  Elke aand as ek hom bad, dan sien ek daar kom die traantjies … en ag Vader … dan tjank ek!!!  En dan die groot Benjamin … jong ek kan nou vir jou sê hierdie is nou ‘n aantreklike jong man.  Hy speel my ook elke aand in trane in.  Ag as hy vir my sê hy het nog die vyf sjielings wat ek vir hom gegee het, dan loop die trane!  Ek dink albei speel so eerlik en dit is juis waarom die stuk so geloofwaardig is.”

FIELA SE KIND speel by die Baxter Teater in Kaapstad van 22-26 Augustus om 19:30 in die aande.  Daar is ook 11:00 vertonings vir skole en Saterdag, 26 Augustus is daar ook 15:00 vertoning.  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000.  Skolegroepe – kontak vir Monica by (011) 815 300 of epos haar by admin@lefra.com   Daar is ook baie goeie afslag vir skoolgroepe.  Meer inligting by www.lefra.com

Shaleen sê as sy daardie kopdoek van FIELA opsit, dan transformeer jy in FIELA.  “Ek kan nie vir jou beskryf wat gebeur nie, maar dan word ek oombliklik FIELA.  Jy weet ek het FIELA 30 jaar gelede gespeel, maar dis werklik asof niks verander het nie.  Ek is seker ek speel nou die rol met baie meer diepte as dertig jaar gelede.  Dit bly steeds een van my gunsteling rolle.”

Die res van die rolverdeling bestaan uit Johny Klein, Paul Luckhoff, Edrien Erasmus, Phillru van Achterbergh, Vian Singleton, Jaime du Toit, Marissa Claasen, Marilise van Wyk, Dirk Vermeulen, Nardus van der Vyver, Divan Prinsloo en Craigon Swart.

Vian Singleton (Klein Benjamin) en Phillru van Achterbergh (Volwasse Benjamin) soen hulle verhoogma, Fiela Komoetie (Shaleen Surtie-Richards)
FOTO deur Mlungisi Louw (Volksblad)

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments