Woensdag , Desember 12 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Eunice daag jou uit om te dans in eerste enkelsnit!

Eunice daag jou uit om te dans in eerste enkelsnit!

EUNICE, ’n passievolle brunet met ’n onblusbare liefde vir musiek, werk al vir vier jaar lank hard om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf. Haar eerste solo-enkelsnit, TRY MY, is pas uitgereik en beloof om musiekharte en dansliefhebbers, regoor die land, te verower.

TRY MY  is geskryf deur Douw Steyn (DECA) en William de Bruin en vervaardig deur Son Records  Dit kan beskryf word as ’n voetjeuklekker, langarm, Afrikaanse popsnit. Dié treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se unieke, strelende stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind. “Die liedjie vertel die storie van ’n meisie wat graag wil hê dat iemand haar moet vra om te dans. Dit sinspeel op die ‘gaan hy of gaan hy nie?’- speletjie wat mans en meisies dikwels met mekaar speel. Dit is vol girl power, want sy maak dit duidelik dat hy gou moet besluit omdat sy nie vir ewig gaan wag nie,” vertel die sangeres. “Alhoewel ek tans in ’n gelukkige verhouding is, was ek al in soortgelyke situasies. So, ek het geweet dat gewone meisies met die tema sal kan identifiseer. Die teikenmark is die sokkiegehoor, so ek hoop dat dit dalk vir iemand die moed sal gee om te vra… want wie weet!”

Die snit spog met ’n onweerstaanbare ritme, wat luiseraars onwillekeurig na die dansvloer sal laat stroom. Die onderwerp is lighartig en speels en is die perfekte keuse vir iemand wat lus is om die aand te geniet en van hulle sorge te vergeet. ’n Musiekvideo van hierdie opgewekte lied, word ook vir binnekort beplan.

EUNICE meen dat musiek nog altyd deel was van haar DNS en dat sy kon sing nog voordat sy kon praat. Sy sing al vandat sy ses jaar oud is en het op skool, waar sy musiek en drama as vakke gehad het, die Dros Idols-kompetisie gewen wat die begin was van groot dinge. “Om op die verhoog te wees en te sien hoe mense hulle in my musiek inleef, maak van my die gelukkigste mens op aarde. Ek wil ’n bietjie van myself gee deur my musiek en beskou die verhoog as my tuiste,” gesels die kunstenaar.

In 2015 het sy aan Douw Steyn se landswye oudisie deelgeneem om deel te word van die sanggroep, Afrikaans: Herlaai en is as een van die lede gekies. Dié groep is vir drie Ghoema-toekennings benoem en sy beskou hierdie ervaring as een van die grootste hoogtepunte van haar loopbaan sover. “Douw Steyn het baie deure vir my oop gemaak in my sangloopbaan en ek is hom ewig dankbaar daarvoor,” sê sy.

Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes gedoen en ’n paar van haar verwerkings van gewilde treffers, soos Die Gang en Ek Verlang Na Jou, het speeltyd gekry op van die land se grootste radiostasies, waaronder GrootFM en RSG. Sy was ook al ’n gas op die televisieprogramme, Jukebox en JAM. Drie van Afrikaans: Herlaai se musiekvideos, Ek Wil Jou Ken (saam met Whaden Johannes en Hemelbesem), Somerkersfees en Kinders Van Die Wind kan gereeld op die kykNET-kanale gesien word.

EUNICE geniet ’n wye verskeidenheid musieksoorte en genres, maar sonder Laurika Rauch uit as haar grootste inspirasie. Sy sal ook eendag graag die verhoog wil deel met kunstenaars soos Coleske, Shania Twain, Bouwer Bosch, Karen Zoid, Riana Nel en Liezel Pieterse.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, bestuur sy haar eie sangskool, EuniceSangskool, waar sy studente leer om hulle musiektalent ten volle te benut. Verder is sy besig om haar onderwysgraad deur Unisa te voltooi. Sy was ook te sien by die Piekfijn Food and Wine Festival in September en sal deel wees van die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees in Desember.

EUNICE het ’n kleurvolle stem, met warm elemente, wat uniek is in ’n genre wat soms baie gewoon kan wees. TRY MY is die perfekte kombinasie van goedvoel-lirieke en ’n aanloklike deuntjie, wat haar stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om saam te dans en vrolik te wees.

SOSIALEMEDIASKAKEL

Facebook

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Hammie se musiekvideo is hier!

Hammie se heel eerste musiekvideo is hier! Gaan Bruce Lee vir Bibi red…? Kyk die …

Jo Black maak groot nuus bekend!

Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar vir Jo Black!  Na die weghol sukses van sy …