Vrydag , Julie 20 2018
Home / Afrikaanse flieks en Teater / Ellen Pakkies se droom word bewaarheid!

Ellen Pakkies se droom word bewaarheid!

Ellen Pakkies, die merkwaardige vrou op wie se lewe die fliek ELLEN, DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES gebaseer is, is al ’n geruime tyd op almal se lippe. Nie net oor die ongelukkige voorval wat in 2007 ’n opskudding regoor die wêreld veroorsaak het nie, maar ook oor die groot droom wat sy het om ’n verskil in haar gemeenskap te maak.

Tydens haar eerste amptelike radio-onderhoud oor die fliek, met Rian van Heerden van Jacaranda FM se The Scenic Drive with Rian op 27 Junie 2018, het sy vertel oor haar spesiale verfprojek waarmee sy graag nuwe lewe en hoop in arm gemeenskappe op die Kaapse Vlaktes, soos Lavender Hill waar sy vandaan kom, wil blaas. Volgens haar, is daar baie vroue wat op moedverlore se vlakte sit, as gevolg van dwelmmisbruik onder die jeug wat gesinne se lewens vernietig, en dan nog boonop moet huistoe kom na ’n liefdelose leë dop wat vaal en verwoes is.

Ellen is gedurende die onderhoud verras toe die verfreus, Plascon, ingebel het om aan te kondig dat die maatskappy nie net 200 x 20 liter (dus 4 000 liter in totaal) blikke van hulle Easy Living-verf gaan skenk vir dié projek nie, maar ook verder betrokke wil raak deur twintig werklose jongmense uit Lavender Hill, deur middel van die Plascon Training Academy, as verwers op te lei om spesifiek met hierdie produk te kan werk. Elkeen van die twintig studente sal ’n opleidingsertifkaat en beginnerspak ontvang, wat hopenlik ook hulle lewens sal verbeter. “Ellen se werk sluit aan by Plascon se Designed for Life-filosofie en is ’n duidelike voorbeeld van die verskil wat iets, wat so klein en onbelangrik voorkom soos verf, die kleur van ’n muur of ’n meubelstuk, in iemand se lewe kan maak. Ons ondersteun haar 100% met hierdie projek wat sy aanpak om die lewens van die mense in haar gemeenskap te verryk en te verbeter,” sê Katlego Kondlo, die besigheidshoof van Plascon se Opknappingseenheid, oor hoekom hulle deel wou wees van hierdie inisiatief. “Ellen se insig is vir ons ’n inspirasie en daarom is ons trots om deel te wees van iets wat soveel groter is as onsself. Deur ’n gemeenskap toe te rus met die nodige toerusting om hulle omstandighede te verbeter, wys net weereens hoe ’n belangrike rol ’n klein bietjie kleur kan speel om lewens te verander.”

Nadat die trane bedaar het oor hierdie besonderse skenking, het Ellen verklap dat dit juis die fliek is wat die projek geïnspireer het. Na die verfilming van die rolprent, het die produksiespan haar huis laat verf en opknap. Sy het dit wat oorgebly het toe gebruik om ander huise en geboue in haar area, wat dit dringend nodig gehad het, ’n nuwe baadjie te gee en het besef wat die trefkrag van so ’n opknappingsprojek kan wees.

“Ons kan ook op hierdie manier jongmense betrokke kry, wat nie altyd weet waar om werk te gaan soek nie, en hulle sodoende motiveer en uit die kwaad uit hou,” verduidelik sy. “Dit kan ook moeders help om weer lief te word vir die plek waar hulle woon, want alhoewel liefde vir hulle gesinne altyd daar is, kry die kinders reg om selfs die laaste greintjie daarvan ook te steel wanneer hulle in die web van dwelms vasgevang word. Verf speel ’n belangrike rol wanneer dit by huisitems kom, want dit kan so maklik alles weer laat nuut lyk en almal laat beter voel.”

Die ander behoefte is natuurlik om die basiese dinge, wat deur jongmense uit die huis uit weggedra word, terug te sit sodat huishoudings weer normaal kan funksioneer. Selfs items soos stowe en eetgerei word gesteel en dit wat agtergelaat word, is dikwels stukkend of nutteloos. Nuwe of tweedehandse meubelstukke sal dus ook verwelkom word.

Enigiemand kan betrokke raak by hierdie wonderlike projek. ’n Paar blikke verf en wit olifante uit jou stoorkamer mag dalk nie vir jou ’n groot verlies wees nie, maar dit kan letterlik ’n gemeenskap verander.

ELLEN, DIE STORIE VAN ELLEN PAKKIES is die ware verhaal van ’n stormagtige verhouding tussen ’n ma (Jill Levenberg) en haar dwelmverslaafde seun, Abie (Jarrid Geduld) wat lei tot sy moord en die hofsaak wat daarna plaasvind. Dit delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word, in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe. ’n Plaag, met gevolge wat verder strek as die Kaapse Vlaktes en wat die staat se onvermoë, om die armstes van die armes te beskerm, beklemtoon.

Dié misdaaddrama, deur bekroonde regisseur Daryne Joshua (Noem My Skollie), is reeds ’n treffer oorsee en is vertoon by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees, asook by die vier-en-veertigste jaarlikse Seattle Internasionale Rolprentfees (SIFF) in die VSA. Dit word op 7 September 2018 vrygestel, is vervaardig deur TMPBC (The Moving Billboard Picture Company) in samewerking met M-Net, kykNET Films, die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word deur Filmfinity (Edms) Bpk. uitgereik.

DIE FLIEK

Facebook

Instagram: @ellenpakkies

Twitter: @EllenPakkies

Hutsmerke: #DieStorieVanEllenPakkies #EllenPakkiesVerfProjek #EllenPakkiesPaintProject

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

STROOMOP inspirasie aanbieding deur Atterbury Teater!

Vrouedag vanjaar gaan behoorlik gevier word! ’n Dubbel-bederf wag op die vroue van Pretoria met …

En, die wenner van kykNET se koekedoortjie is…

Wicus van Deventer is die wenner van kykNET se gewilde Koekedoortjie-werklikheidsreeks! Dié twaalfjarige bakker van …