Woensdag , Oktober 16 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Elandre Schwartz se droom word waar!

Elandre Schwartz se droom word waar!



Die 21-Jarige Elandre Schwartz van Despatch in dis Oos-Kaap het gisteroggend, kitaar in die hand, homself voorberei vir ‘n regstreekse optrede op Bok Radio 98.9 FM en Bok TV. Min het hy geweet dat hy met ‘n platekontrak van Select Musiek daar sou uitstap!

Bok Radio Brêkfis aanbieders, Wimpie van der Sandt en Le-Lue Roode het dié talentvolle jong sanger uitgenooi om ‘n akoestiese uitvoering van ‘n paar liedjies – soos Bruce Springsteen se “Tougher than the rest” en Josh Turner se “Your man”, sowel as van sy eie nuutskeppings – op die lug te doen.image001

Net soos wat hy al met talle gehore gedoen het, het hy die hele ateljee in vervoering gehad met sy merkwaardige talent en diep stem, onbewus van die feit dat sy lewe na die 2de liedjie, op die heel beste manier, op sy kop gedraai sou word!

Ernst Kleinhans van Select Musiek was op die ateljeelyn besig om te luister, reg met die woorde wat Elandre, en almal in die ateljee, in trane gehad het: “Ek gaan op die lug, offisieel vir jou ‘n platekontrak aanbied by Select Musiek wat ‘n afdeling is van Sony Music Entertainment. Jy verdien om gehoor te word, jy verdien om ‘n CD daarbuitekant te hê en jou talent met die mense te deel”.

In die ateljee was daar vir ‘n geruime tyd geweldige emosie en min woorde. Elandre het uiteindelik gesê hy oefen reeds vandat hy klein is aan sy handtekening vir die dag wat hy die geleentheid het om mense met sy musiek te vermaak, en sy hart is een van groot dankbaarheid: “Julle het sopas my hele lewe verander en ek hoop julle weet dit. Ek wil net vir julle dankie sê, en eendag, ek weet nie wat wag vir my nie, maar ek sal altyd vir julle dankie sê!”

Wimpie het verder vir Elandre ‘n hele rits plaaslike optredes gereël, sowel as ‘n optrede op die Bok Radio bootreis na Walvisbaai in Namibië in Januarie 2017.

Die Select Musiek-span is dit eens: hou maar fyn dop, daar wag gróót dinge op Elandre Schwartz – sonder twyfel een van die helderste jong sterre in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf!

As jy hierdie kosbare oomblik wil beleef, kyk gerus na die video onder.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Douvoordag sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in nuwe enkelsnit!

Die gewilde duo, Douvoordag (Jattie & Ilse de Beer), sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in hulle …

Nuwe enkelsnit Die Heelal met Janie Bay en Early B pas uitgereik!

Die gewilde sangeres Janie Bay het pas haar tweede enkelsnit in 2019 uitgereik. “Die Heelal”, …