Dinsdag , Oktober 16 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Douvoordag reik langverwagte debuut-album uit!

Douvoordag reik langverwagte debuut-album uit!

DOUVOORDAG (Ilse en Jattie de Beer), se debuut-album, DIE AVONTUUR, is op Vrydag 5 Oktober 2018  via alle digitale platforms uitgereik en het onmiddellik die nommer een posisie op iTunes ingeneem!

Hulle nuutste enkelsnit, Manifes, kan ook reeds op talle radiostasies landswyd gehoor word en die musiekvideo van hierdie ongelooflike treffende liedjie beklee ook tans die nommer agt posisie op die gewilde kykNET Top20.

Musiekliefhebbers ken reeds geruime tyd al hulle unieke klank. Nie net is uittreksels van twee van hulle liedjies gebruik in die klankbaan van die gewilde Afrikaanse fliek, Mooirivier nie, maar hulle eerste twee enkelsnitte, Uitsig en Desembers, was ook onderskeidelik op die Afrikaans is Groot Volume 8– en Afrikaans is Groot Volume 9-albums ingesluit. Nog ʼn snit, Skrapnel, is ingesluit op die In Afrikaans Volume 1-album en Hande vat, die temalied van die TV-reeks, Dorpsdraai, ook deur Jattie geskryf, was ook ingesluit op die In Afrikaans Volume 2-album. Gedurende Desember 2017 was DOUVOORDAG ook deel van die heel eerste In Afrikaans konsertreeks op Hartenbos waar hulle die verhoog gedeel het met bekende name soos Jo Black, Leah, Robbie Wessels en Jan de Wet by die Kersfees in Afrikaans-konsert, wat bygewoon was deur 6 000+ mense.

Ilse en Jattie sing al sedert 2008 saam. Aanvanklik het hulle onder ’n Engelse naam gesing, omdat hulle veral by troues en korporatiewe funksies opgetree het, maar mettertyd het hulle al meer oorspronklike Afrikaanse musiek geskryf en gesing, en só het DOUVOORDAG ontstaan.

Albei kom uit musikale families, en sing sedert hul skooldae. Ilse was ʼn lid van die Stellenberg Meisieskoor, Pro Cantu Jeugkoor en die Stellenbosch Universiteitskoor, en Jattie het in die Affies Seunskoor en Tukkies se Camerata-koor gesing.  Hy is ook vier jaar agtereenvolgens bekroon met die prys vir Beste Oorspronklike Komposisie tydens Tukkies se jaarlikse serenade-kompetisie. Jattie en sy groep Vertikaal het in 2009 ʼn SAMA gewen vir hul tweede album, Stil.

Jattie, ’n baie begaafde liedjieskrywer, skryf ewe gemaklik in Afrikaans en Engels, en vir enige musikale genre. Daarvan getuig die groot aantal baie uiteenlopende kunstenaars wat al van sy liedjies opgeneem het, onder meer Louis Brittz (gospel), Zak van Niekerk (humoristies), Len Muller (alternatief), Dans Dans Lisa, Izak Davel (pop), Leon Gropp om net ’n paar te noem. Hy het ook onlangs help skryf aan snitte vir nuwe opkomende albums van Jo Black, Touch of Class en Roan Ash. Jattie en die bekende liedjieskrywer en vervaardiger Johan Vorster was medeskeppers van Die Groot Ontbyt se temalied, Kom ons gaan groot, wat gesing word deur Jo Black.

Jattie, ’n geregistreerde bedryfsielkundige met ʼn meestersgraad agter sy naam, werk as onafhanklike konsultant wanneer hy nie musiek maak nie. Ilse het ʼn B.Com.-honneursgraad en is ʼn bekende naam agter die skerms in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy het al vir Merchant Music, Coleske Artists en die Atterbury Teater gewerk, en was ook betrokke by produksies soos Afrikaans is Groot, die Ghoema Musiektoekennings, Gospel Skouspel, Innibos se hoofverhoogproduksies en die In Afrikaans Hartenbos konsertreeks. Sy is tans deel van die bemarkingspan by die groep maatskappye Inhoud Huis Musiek, In Afrikaans & Flagship Productions wat verantwoordelik is vir kunstenaars soos onder andere Robbie Wessels, Jo Black, Appel en Roan Ash, en is ook die koördineerder van die In Afrikaans Hartenbos konsertreeks wat oor Desember plaasvind.

Jattie is die kreatiewe brein agter DOUVOORDAG en meeste van die groep se lirieke en melodieë kom uit sy pen. Die liedjies reflekteer iets van die De Beers se lewens en lewensuitkyk. Een van hulle enkelsnitte, die baie gewilde Desembers vertel byvoorbeeld die verhaal van hul Desembervakansies op Stilbaai, waar die paartjie in 2005 ontmoet het. “Die liedjies is skilderye van die interne ontdekkings en mooi oomblikke langs ons persoonlike pad, en sommige is geskryf om ons te bemoedig en herinner aan hoekom ons hierdie avontuur gekies het,” sê Ilse. Vir Ren is ’n spesiale lied wat hul geskryf het vir hul 16-maande oue seuntjie. Uitsig was die eerste lied wat hul geskryf het vier jaar gelede, en dit is waar die hele avontuur begin het. Landsberghoek het Jattie geskryf oor sy ervaringe as kind op hul familieplaas saam met sy twee broers en suster.

Jattie was baie betrokke by die vervaardiging van DIE AVONTUUR en het saam met voorste vervaardigers soos Jake Odendaal en Gideon Botes daaraan gewerk. DIE AVONTUUR het vier jaar se harde werk geverg, maar gaan beslis sorg vir iets vars en nuut in Afrikaans. “Hierdie album is die storie van my en Ilse se persoonlike avontuur. Maar dis ook die storie van elke hart wat smag daarna om ʼn impak te maak op die wêreld en te lewe vir meer as net eiebelang,” vertel Jattie.

DOUVOORDAG het hulle album onlangs voor ’n stampvol gehoor by die Atterbury Teater bekendgestel. Dié bekendstelling was bygewoon deur talle bekendes soos Riana Nel, Robbie Wessels, Kaleidoskoop, Roan Ash, Simoné Nortmann en Johan Vorster. Hulle album word nou landswyd vrygestel in samewerking met Inhoud Huis Musiek met verspreiding deur Universal Musiek.

SNITTE OP DIE ALBUM:

Manifes

Uitsig

Die Avontuur

Desembers

Landsberghoek

Instede

Tweestryd

Skrapnel

Skaduwee van die berg

Kyk op na bo

Skielik is die somer hier

Hier tussen ons

Vir Ren

Bonussnit:

Hande vat (Dorpsdraai se temalied)

SOSIALEMEDIA:

Facebook

Instagram

Twitter

Webblad

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Valeska Muller stel nuwe pop-danssnit vry!

Valeska Muller is een van daardie kunstenaars wat jou laat stilstaan wanneer jy haar vir die …

‘n Nuwe enkelsnit en album vir Afrikaanse musieklegende!

Met musiekstyle en –tendense wat konstant verander, vat dit ’n merkwaardige musikant om relevant te …