Dinsdag , September 25 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Die tyd is NOU vir Samantha Leonard van The Voice SA 2!

Die tyd is NOU vir Samantha Leonard van The Voice SA 2!

’N DUISEND KEUSES is ’n baie persoonlike liedjie, wat my herinner waarom ek verlief geraak het op sing en hoe dit my inspireer en laat voel; en dat ek nie musiek gekies het nie, maar dat dit my gekies het. Dis wie ek is, dis in my bloed, en dis die enigste ding wat my motiveer om nooit op te gee wanneer dit by my drome kom nie. Dit is vir my ’n voorreg om my storie, deur middel van musiek, met die wêreld te deel,” verklap Samantha Leonard oor haar eerste enkelsnit wat pas vrygestel is.


Dié Afrikaanse popsnit, uit die sangeres se eie pen en hart en vervaardig deur Hugo Ludik en Vaughan Gardener van Muse Studios, vertel die storie van haar loopbaanreis sover en van die keuses wat sy moes maak om tot op hierdie punt te kom. Haar uitsonderlike sterk stem is die perfekte pasmaat vir die eerlike lirieke en meesleurende wysie van die liedjie, wat in jou kop bly maal lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.
“Hierdie enkelsnit is ’n refleksie van my hart en waar ek op hierdie stadium van my lewe is. Ek deel al die struikelblokke wat ek moes oorkom en die feit dat ek moes sterk staan, ten spyte van alles. Dit was vir my belangrik dat die fondasie van my album van die begin af eerlik is oor wie ek, as kunstenaar en persoon, is en die waardes waarin ek glo,” verklap die donkerkop-ster. “Daar is duisende keuses voor ons neergelê in die lewe en dit is ons verantwoordlikheid om die regte besluite te maak wat ons toekoms gaan bepaal. Partykeer maak ons die verkeerdes en kry baie seer daardeur, maar dis hoe ons weer opstaan wat saak maak en wat ons uit daardie foute leer.”
Oor die musiekvideo, wat beplan word, wil sy nie veel meer sê as dat dit gaan oor die gevegte wat sy moes baklei in haar loopbaan en lewe nie. “Die konsep is geïnspireer deur die woorde van die liedjie en neem jou op ’n reis van emosies; wat wissel van opgee en moedeloosheid tot terugveg en sukses,” verduidelik sy.

’N DUISEND KEUSES is ook die titelsnit van haar debuut-album wat binnekort op die rak sal wees. Dit is iets waarna aanhangers al uitsien vanaf die oomblik toe Karen Zoid haar stoel gedraai het gedurende die blindeoudisies van die tweede seisoen van die realiteitsprogram, The Voice SA II, waarin Samantha derde geëindig het. Die album bied ’n treffende kombinasie van lekkerluister dansmusiek en diep hartsballades, in die kunstenaar se veelsydige styl, wat by gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.

Die meisie, van Kimberley, sing al vandat sy drie jaar oud is en het nog altyd geweet dat sy graag eendag ’n sangeres wil word. Sy glo dat haar liefde vir musiek in haar ouerhuis gekweek is, waar daar altyd ’n liedjie in die agtergrond gespeel het. Op hoërskool, het sy elke jaar die hoofrol gespeel in verskeie verhoogproduksies, soos Fame, Back-to-the-80’s, Gospell, Alice in Wonderland en Cabaret Girls. Sy het van jongs af haar eie liedjies begin skryf en op die ouderdom van sestien ’n album, met die naam Breakthrough, vrygestel. Na matriek het sy Kaap toe getrek en voltyds musiek studeer by COPA (Campus of the Performing Arts), waar sy haar NQF2-sertifikaat voltooi het in Klavier asook haar NQF3-sertifikaat in Stemprestasie.

Gedurende die vyftien jaar wat sy al in die musiekbedryf doenig is, het sy aan verskeie kompetisies deelgeneem, waaronder Spontaan 2009 en die Up-Stage Sangkompetisie wat sy albei gewen het.

Laasgenoemde het vir haar deure oopgemaak om deel te neem aan verskeie Barnyard-produksies soos Rocking All Over The World, Final Countdown en Special Stars. Die sangeres het ook in 2012 die geleentheid gekry om by die Abu Dhabi-teater te sing.

Haar deelname aan The Voice SA 2017 word egter as die grootste hoogtepunt van haar loopbaan uitgesonder. Haar weergawe van Jessie J, Nicki Minaj en Ariana Grande se treffer, Bang Bang, het al vier die afrigters se stoele laat draai en so het ’n nuwe fase van haar loopbaan afeskop. In 2017 en 2018 het sy saam Thembeka Mnguni van die realiteitsprogram se eerste seisoen teateroptredes gedoen onder die naam, The Divas. “Die vertoning het bestaan uit ’n kombinasie kragtige liedjies van Mariah Carey, Whitney Houston, Brenda Fassie, Mango Groove, Édith Piaf en meer wat altwee ons stemme gekomplementeer het en ons vermoëns behoorlik ten toon gestel het. Dit was vir my ’n lekker uitdaging en het my op my tone gehou om elke aand my beste te gee,” verklap sy.

Corlea Botha, met haar mooi stem en betekenisvolle lirieke, is vir Samantha ’n groot inspirasie en is iemand saam met wie sy graag in die toekoms sou wou werk en beter leerken. As sy enige ander beroep moes kies, sou sy beslis ’n aktrise wou wees, omdat sy dit vreeslik geniet om verskillende karakters te speel. “Dit is vir my ’n uitdaging om myself in ’n ander persoon se skoene te sit en die wêreld deur hulle oë te sien en voel. Dit leer my baiekeer om dinge meer te waardeer,” sê sy.

Dié sangsensasie se hoofdoelwitte in die lewe is om musiek te maak en om mense te motiveer. Sy glo dat ’n mens nie op ander moet staatmaak om jou drome waar te maak nie, omdat net jy dit vir jouself kan doen. Buiten vir optredes regoor die land, is sy ook reeds besig om aan materiaal te werk vir haar tweede album.

Samantha Leonard se eerste enkelsnit, ’N DUISEND KEUSES getuig nie net van haar talent as musikant en liedjieskrywer nie, maar ook van die blink toekoms wat vir haar voorlê in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @samleonard_1

Instagram: @samanthaleonard_artist

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

[Kyk] Refentse bederf met ‘n nuwe musiekvideo!

Reisiger is die eerste enkelsnit vanaf sy splinternuwe album Liefdegenerasie wat 28 Sep vrystel. Akteurs …

DIE GELOFTE vir die eerste keer in Afrikaans!

Johan Vorster en Christoph Kotzé het kragte saamgesnoer en DIE GELOFTE vir die eerste keer …