Monday , April 12 2021

Die Mystic Boer ry weer…

Valiant Swart se historiese debuut word her-uitgereik op ‘n beperkte versamelaars-oplaag langspeelplaat!

Negentien jaar na Valiant Swart se baanbrekersdebuut, Die Mystic Boer, oorspronklik op CD vrygestel is, word dit nou vir die eerste keer as langspeelplaat uitgegee, in samewerking met die Kaapse ontwerpersagentskap (en Valiant-vriende) Cow Africa. Aanhangers kan hulself opnuut verlustig in die songs wat die Boland punk vir die eerste keer op die map gesit het, insluitend “Die Mystic Boer”, “In Die Transvaal”, “Ware Liefde” en “Buitenkant”.Untitled

“Die Mystic Boer” platebundel sluit in ‘n hoë-kwaliteit langspeelplaat (180-gram, 33RPM), die klassieke album-omslag, asook ‘n volkleur platekoevert met lirieke, en ‘n collage van historiese resensies en eksklusiewe foto’s uit die groep se persoonlike argiewe.

Valiant vertel: ‘Dit was van kleins af my droom om ‘n plaat te maak. Toe ek in 1990 voltyds begin musiek maak het, het ek gedink dis maar net ‘n kwessie van tyd voor my debuut-uitreiking sou gebeur. Sedert 1985, egter, het CD’s geleidelik begin om langspeelplate te vervang as die gewildste musiekformaat. In 1991 het The Dolly Rockers, in daardie stadium die grootste alternative groep in Kaapstad, die laaste beskikbare vinyl in die Kaap gebruik vir die druk van hul EP. Daar was fisies nie meer rou materiaal vir langspeelplate nie. Vir ‘n brandarm ‘alternatiewe’ Afrikaanse rocker soos ek was dit ‘n ondenkbare, onmoontlike droom om ‘n CD te maak. Ek moes nog vyf jaar vir my debuut wag – op CD.

Teen daardie tyd het langspeelplate al grootliks van die toneel verdwyn. Met die herlewing wat vinyl die afgelope paar jaar ondergaan het, het ek gedink dit sou nogal lekker wees om ‘n beperkte oplaag van een van my albums op LP uit te reik. Eendag het Charles van Cow Africa my gebel met die voorstel dat hulle so ‘n uitreiking namens my orkestreer. Ek het dadelik ingestem, en hier is my langspeelplaat-debuut uiteindelik – vyf-en-twintig jaar later!’Valiant Swart

Die oorspronklike omslag is sorgvuldig hersien en opgedateer deur Cow Africa. Die musiek self is egter onveranderd gelaat; klankvlakke is slegs effens aangepas vir die langspeelformaat.

Charles Miller van Cow Africa reken: “Die herlewing in langspeelplate is iets wat ons almal hier by Cow na aan die hart lê en meeste van ons is ywerige versamelaars. Ons het gesels oor kunstenaars wat perfek sou wees vir vinyl, maar nooit in daardie formaat verskyn het nie, en Valiant se naam het sommer heel eerste opgekom. Dit was duidelik dat hierdie projek moes gebeur.”

Met hierdie uitreiking van “Die Mystic Boer” verskyn Valiant Swart se musiek die eerste keer ooit op langspeelplaat. Gepas dan dat dit sy debuut is, en ook net betyds is vir die 20-jaar herdenking daarvan.

Slegs 500 van hierdie besonderse versamelaarsitems is beskikbaar teen R300 elk.

Kyk ‘n onderhoud met Valiant:

Bestel aanlyn by Permanent Record (www.permanentrecord.co.za) of koop ene van Valiant self by sy volgende optrede!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Musiekwerkswinkel vir kleuterskoolonderwysers – 17 April 2021

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), bied ’n …

Nuwe album vir Elandre!

Sy eerste album het binne ‘n oogwink platinumstatus bereik, sy eerste enkelsnit van sy tweede, …

Leave a Reply

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.