Suid-Afrika se gunsteling sang duet, Die Campbells het weereens sukses behaal. Hul DVD “Bapsfontein Live” wat onlangs vrygestel is, het so pas Goue status bereik. Met meer as 10 000 eenhede wat van die rakke af gevlieg het, sedert April 2015 dra dit by tot die meer as 800 000 eenhede van CD’s en DVD’s wat hierdie ongelooflike duet al oor die jare verkoop het.
Die Campbells se “Bapsfontein Live” DVD is opgeneem in die historiese Bapsfontein Hotel, waar die grootste Suid Afrikaanse country sterre gereeld opgetree het en wat bekend was aan musiekliefhebbers as “die” plek om die room van Suid-Afrika se musikante te geniet gedurende die 1950’s – 1990’s. In Desember 2014 is die hotel verkoop en daar is spesiaal gereël dat Die Campbells se DVD daar verfilm sal word as die laaste lewendige musiek konsert voor die verandering in eienaarskap. “Ons het gevoel dat dit gepas sal wees om ons DVD hier te verfilm om hulde te bring aan hierdie plek wat so ‘n belangrike rol in Afrikaanse en Country-musiek gespeel het in Suid-Afrika” sê Tony Campbell. “Tydens die opname het dit gevoel asof ons in die voetspore van ikone loop en terselfdetyd nuwe herinneringe vir musiekliefhebbers skep. Ons is baie opgewonde dat die DVD so goed doen” het hy bygevoeg.
Die Campbells is bekend vir treffers soos “Fanta & Cola”, “Yvonne,” “Bietjie Bietjie Lam” en “Rooi Rok Bokkie”: wat al jare gunstelinge op radiostasies en dansvloere regoor die land is.
Die Bapsfontein Live DVD, wat bestaan uit 50 van Die Campbells se gewildste liedjies, is landswyd beskikbaar in winkels.