Saterdag , September 22 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Dawie de Jager beïndruk met treffende enkelsnit!

Dawie de Jager beïndruk met treffende enkelsnit!

Dawie de Jager is beslis nie ’n onbekende gesig in die musiekbedryf nie. Hy het nie net die ‘oor’ van Bobby van Jaarsveld en The Voice SA-aanhangers gedurende die tweede seisoen van dié realiteitsprogram gevang nie, maar is ook die kreatiewe komponis agter die klankbane van verskeie lokettreffers, waaronder Roepman, Sy Klink Soos Lente, Jonathan, Verraaiers en is tans ook besig met Stroomop. Nóú is hy weer in die kollig met sy splinternuwe enkelsnit, BEYOND INFINITY, wat pas bekendgestel is en beloof om luisteraars weer van vooraf te beïndruk en sy loopbaan ’n verdere hupstoot te gee.

Die musikant, met sy kenmerkende hoedjie, se diep storievertellerstem is die perfekte pasmaat vir hierdie hoendervleismooi kontemporêre snit uit sy eie pen. BEYOND INFINITY is belaai met emosie en laat jou onmiddellik besef hoeveel liefde Dawie het vir dit wat hy doen. Die snit se meesleurende wysie is nie net sag op die oor nie, maar is ook iets wat lank in jou kop bly vassteek nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

“Ek hou baie daarvan om vir die sterre te kyk en is daai ou wat ’n wens sal maak op ’n ster wat val. Die liedjie gaan daaroor dat as ons almal sterre was, wat val en uitbrand, ek eerder saam met iemand wil val vir wie ek lief is as alleen. Ek het die liedjie geskryf en op ’n stadium gevoel dit kort net so ’n bietjie afronding. Toe span ek my ouboet, Sallas, in om net als te laat sin maak,” vertel hy oor hierdie Engelse treffer wat hom na aan die hart lê. “Ek is baie trots op die lied se lirieke en melodie. Dit beklemtoon my stem se register en het die organiese orkesklank waarvan ek hou.”

Volgens die sanger, wou hy homself nie tot ’n spesifieke taal en genre bind met sy musiek nie en het hy besluit om vir ’n slag van sy Engelse werk met luisteraars te deel, nadat sy deelname aan The Voice vir hom soveel nuwe aanhangers besorg het. “Ek dink dit is verseker een van die beste liedjies wat ek al geskryf het. ’n Mens dra maar jou hart op jou mou as jy so jou eie liedjies deel,” verklap hy. ’n Albumvrystelling word ook vir die nabye toekoms beplan.

Dawie het in ’n sportiewe huis grootgeword, maar daar was altyd plek vir musiek. Sy ouers het selfs vroeër jare musiekaande by Bronkhorstbaai gehou en dan het bekende name soos Lucas Maree, Anton Goosen en Laurika Rauch kom saamkuier. Alhoewel hy nie toe veel daarvan gemaak het nie, het die gogga hom tog later gebyt toe hy in graad tien sy eerste kitaar gekry en ’n band begin het. Aan die einde van graad twaalf, het by die musiekgroep Klopjag ingeval en vanjaar is reeds sy sestiende in die bedryf.

Alhoewel die groep steeds na al die jare optree en selfs al ’n draai in Engeland gaan maak het, het hy ook in 2009 by Die Tuindwergies aangesluit saam met wie hy by feeste soos Jacaranda Day opgetree het. Sedertdien het hy ook naam gemaak as rolprentmusiekregisseur en -komponis en het hy al agt rolprentklankbane gekomponeer.

Damien Rice, Bruce Springsteen, U2, Cat Stevens, Pearl Jam, Koos du Plessis, Koos Kombuis, Valiant Swart en Lucas Maree is almal kunstenaars vir wie hy groot bewondering het en hy meen dat dit fantasties sou wees om eendag saam met name soos Art Matthews, Karen Zoid, Dan Patlansky, Francois van Coke en David Kramer te werk. “Ek kan nie sing oor toeters op waterskoeters en goed waarvan ek niks weet nie. So ek hou maar daarvan om te skryf oor die lewe wat ek ken en ervaar. Verder vind ek ook aanklank by musiek en skrywers wat my laat voel asof alles waaroor hulle sing ook van toepassing op my lewe is en wat nie bereid is om hulle integriteit prys te gee nie,” erken hy.

As hy enige ander beroep moes kies, sou hy graag ’n argitek wou wees omdat hy baie van skeppende werk hou. “Die musiekbedryf het my geleer om dat daar nie kortpaaie is nie en dat jy hard moet werk vir wat jy wil bereik. Ek het ook besef dat niks ooit belangriker as jou gesin is nie.” Dawie glo dat wanneer woorde en prentjies nie meer kan sê hoe jy voel nie, musiek jou sal dra en dit is baie waar oor sy eie werk. BEYOND INFINITY se diep lirieke gaan beslis luisteraars se aandag trek, maar dis die diep emosie wat in hierdie enkelsnit vasgevang is wat nog vir jare in hulle harte gaan leef.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @Dawie_de_Jager

Instagram: @dawiedejagermusic

YouTube

Webblad: www.dawiedejager.com  @ andreschwartz.co.za

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

DIE GELOFTE vir die eerste keer in Afrikaans!

Johan Vorster en Christoph Kotzé het kragte saamgesnoer en DIE GELOFTE vir die eerste keer …

Adam Tas se nuwe album is hier!

Adam Tas se growwe rasperstem en emosiebelaaide lirieke, het van dag een af diep kom …