Dinsdag , Julie 16 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Danny Smoke stel sy debuut-album en nuwe musiekvideo vry!

Danny Smoke stel sy debuut-album en nuwe musiekvideo vry!

Danny Smoke se eerste enkelsnit, JOU LIPPE, was uit die staanspoor ’n gunsteling onder musiekliefhebbers en was die perfekte lusmaker vir sy debuutalbum, SWAELTJIES, wat nou op die rak is!

Die sanger, wat oorspronklik bekendheid verwerf het vir sy merkwaardige kitaarspel en  musiekvervaardigingsvaardighede, is baie opgewonde om sy eerste album met die land te deel en beskou dit as een van die hoogtepunte van sy loopbaan sover. Die album, wat geïnspireer is deur die skoner geslag, kan hoofsaaklik beskryf word as ’n mengsel betekenisvolle ballades en opgewekte kuiermusiek, wat gedryf word deur sterk melodieë en ’n ongelooflike energieke produksie. “Daar is baie negatiewe dinge in die wêreld. Musiek het die vermoë om mesne se emosies te skuif. Die doel van my musiek is om luisteraars positief te laat voel,” verklap hy entoesiasties. “Die titel van die album is SWAELTJIES, hiermee wil ek die luisteraar dalk tweekeer laat dink. Alhoewel ek meestal popmusiek maak, het die lirieke van die liedjies ’n baie dieper betekenis as wat ’n mens dink.”

Sy debuut-vrystelling bestaan uit dertien snitte wat spesiaal verwerk is om sy stem en kitaarspel pragtig ten toon te stel. Hy verklap dat die liedjie wat hy vir sy dogtertjie geskryf het hom na aan die hart lê en dat daar verskeie ander snitte is wat die potensiaal het om groot treffers te wees. “Die album het ’n goeie kombinasie van kommersiële elemente, maar op geen stadium is musikaliteit en kreatiwiteit ingeboet hiervoor nie,” sê hy.

Die musiekvideo van sy eerste enkelsnit, JOU LIPPE, is ook nóú op YouTube te sien en volgens dié begaafde musikant, is die hoofdoel daaragter om kykers te motiveer om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om kanse te vat en soveel herinneringe te maak as wat hulle kan. “Net soos die liedjie, is die video lekker lighartig. Dit is deur Christian Wolf verfilm by 012 Central in Pretoria, met die hulp van Hanru van Zyl, Wilhelm van der Westhuizen en Greg Bender,” vertel Danny wat saam met die model Jeanine Viljoen op die skerm te sien is. “Op die dag wat ons geskiet het, was daar geen elektrisiteit nie en dit was nogal ’n uitdaging om alles met batterykrag gedoen te kry.”

Die liedjie, uit die pen van Danny, Johan Vorster en Christoph Kotzé, is ’n voetstamplekker popsnit wat jou uitnooi om saam te sing en dans. Volgens Danny is dit ’n gewaagde liedjie wat gaan oor ’n gevoel wat almal ervaar, maar nooit oor wil praat nie. “Dit gaan oor ’n ou wat dink hy het al alles gesien, geproe en beleef. Die vrou waaroor die liedjie gaan, het hom egter bo verwagting verras – spesifiek met haar lippe – en hy kan nie genoeg van haar kry nie,” vertel die sanger. “Ek hou daarvan as mense ’n goeie tyd het en hierdie enkelsnit gaan gehore laat dans, saamsing, hulleself geniet en na iemand laat verlang wat hulle nog nie ken nie.”

Wanneer dié veelsydige ster nie besig is om te sing of kitaar te speel nie, hou hy ook sy lyf vervaardiger en voel hy geseënd om al vir twintig jaar betrokke te kan wees in alle aspekte van dié bedryf waarvoor hy so lief is. “Ek kom uit ’n musikale familie en daarom was musiek nog altyd deel van my lewe. Op ’n baie jong ouderdom, het ek die geleentheid gehad om ’n kitaar op te tel en te leer speel. Daarmee saam het ek die voorreg gehad om produksiewerk te begin doen vir van die land se top kunstenaars. Dit was nog altyd ’n groot droom om my eie album te skryf, te vervaardig en daarop te sing,” sê hy.

Volgens Danny put hy die inspirasie vir sy musiek uit persoonlike ervarings en geniet hy elke oomblik wat hy op die verhoog kan wees. Omdat hy self musiek vervaardig, vind hy aanklank by die meeste genres en style. Hy het groot bewondering vir Ryan Tedder van One Republic omdat hy so veelsydig is en respekteer enigiemand wat dapper genoeg is om musiek as ’n loopbaan te kies. Verder probeer hy sover as moontlik uit musiekpolitiek uit bly en meen hy dat dit belangrik is om jou eie stem te vind en te fokus op wat jou uniek maak, omdat musiek nie ’n kompetisie is nie.

Danny Smoke pak alles wat hy doen met passie en presiesheid aan en dit word baie duidelik in sy eerste enkelsnit en album uitgebeeld. Die moderne benadering en eerlike vertolking van die liedjies op SWAELTJIES en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n opskudding gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook diep in die publiek se harte gaan kruip.

SNITTE OP DIE ALBUM
Jou Lippe
Gaan Ons Inlê
Swaeltjies
T-shirt
As jy so vir my kyk
Soek jy aandag of soek jy my lyf
Droomtrein
Iemand Anders
Skoon Was
Laai Jou Geweer
Alles
Trippe Trappe Trone
Onder My Vel (met Marzanne)

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook
Twitter: @Danny_Smoke
Instagram: @dannysmokeking

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Joshua na die reën stel tweede enkelsnit vanaf someraarde album bekend!

Die geliefde sanger en musikant, Joshua na die Reën het vroeg in 2019 die eerste …

Valeska Muller verskuif Afrikaanse musiekgrense!

Valeska Muller het oor die jare die kuns bemeester om met haar strelende stem, ritmiese …