Clanwilliam Veldblommeskou gekanselleer.

189

Die Clanwilliam Veldblommeskou, wat jaarliks in die historiese Blomkerk op dié pragtige dorp gehou word, is vanjaar weens die erge droogte wat die streek teister, gekanselleer. Hierdie besluit is vandeesweek geneem ná deeglike beraadslagings met alle betrokke partye. Die blommeskou sou van 25 Augustus tot 2 September in die kerk aangebied word.

“Dit is met ’n swaar gemoed en seer hart dat ons uiteindelik besluit het om die skou te kanselleer. Die droogte wat landwyd ondervind word, het veroorsaak dat die blomme en plante vanjaar baie laat gaan wees en ons het nie genoeg daarvan om die uitstallings vir die skou te bou nie,” sê Alida Stone, voorsitter van die Clanwilliam Blommeskou-komitee.

Sowat 400 verskillende spesies varsgeplukte blomme en plante word jaarliks kunstig gerangskik en ten toon gestel in ’n skouspelagtige kleuremassa in die historiese kerk op die dorp.

Foto: sa-venues.co.za

“Ons kon eenvoudig nie voortgaan met die blomskou nie. Daar is nie vanjaar ’n oorvloed nie, en ons kan nie die blomme en plante wat wel daar is, sommer net pluk vir die skou se onthalwe nie. Dit sou beteken dat ons die veld moet stroop. Dit is beslis nié wat ons wil hê nie. Die bewaring van die veld bly steeds ons eerste prioriteit,” sê Alida.

Volgens Rika du Plessis, bewaringsbestuurder van Cape Nature Cederberg, was die reënval vir die eerste 7 maande van vanjaar die swakste sedert 1953 (in 64 jaar). “Die gemiddelde reënval wat by Algerië-bosboustasie gemeet word, is 724 mm per jaar. Verlede jaar was dit 545 mm en as ons volhou om reën te kry soos wat ons tans ondervind, sal dit hierdie jaar nie eens 300 mm wees nie,” sê Du Plessis.

Volgens Stone gaan alle bedrywighede egter steeds voort vir die week van die skou. Daar sal musiekvertonings, kunskompetisies, staproetes asook stalletjies wees wat allerlei produkte sal verkoop. “Die dorp en sy inwoners, restaurante en plaaslike ondernemings kan nie wag om besoekers te verwelkom nie.

Volgens Stone werk hulle tans aan ’n oudio-visuele vertoning wat in die Ou Tronk-museum op die dorp aangebied sal word. Dit sal besoekers presies wys hoe daar te werk gegaan word om die blommeskouspel jaarliks in die Blomkerk te bou. Hierdie skepping van die uitstallings neem gewoonlik sowat drie weke. Die vertoning sal tydens die skou al om die uur by die museum vertoon word.

Ramskop Natuurtuin sal oop wees vir besigtiging, daar sal ook iets te ete aangebied word. Beslis ’n besoek werd.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments