Caroline Grace se nuutste album is vol liefde en hoop!

123

Sedert haar deelname aan die tweede seisoen van The Voice SA, het die pragtige Caroline Grace Brüssow nog nooit ophou beïndruk nie. Haar eerste enkelsnit, Ek Bid Vir Jou, wat vroeër vanjaar uitgereik is, was ’n kitssukses. Dié liedjie, uit die pen van Roux Cloete en Niel Schoombee, het reeds in die openingsweek bo-aan die iTunes-trefferlys gepronk en het ook die nommer een posisie op verskeie radiotreffersparades beklee, waaronder die Maroela Media Top 20 en Overvaal Top 20. Haar sielvolle vertolking van Die Volkslied, voor die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Australië, het sosiale media aan die gons gehad en nog meer musiekharte ingepalm vir hierdie talentvolle ster. Nóú is sy weer in die kollig, met ’n debuut-album wat luisteraars op ’n meesleurende reis sal neem van liefde en hoop.

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Caroline-Grace se splinternuwe album, EINDELOSE LIEFDE, op te som. Haar kenmerkerkende helder stem en emosiebelaaide benadering, is die perfekte pasmaats vir elke kontemporêre snit en die eindresultaat sal luisteraars van die eerste noot af in vervoering hê. “Die album sal jou op ’n hartsreis neem, waar liefde en hoop die hoofrol speel,” verklap die sangeres. “Ek wou graag hê dat elke liedjie op die album kan kersvashou met Ek Bid Vir Jou. Dit moes die verhaal vertel van liefde wat eindeloos is. Die soort liefde wat ’n steunpilaar is, hoop gee, elke dag groei en selfs liefde wat verlore gegaan het. Dit is vir my belangrik dat luisteraars moet aanklank vind by my musiek, dat dit die beste kwaliteite in my stem moet uitbring en dat ek self ook kan waarde heg aan elke liedjie.”

Die CD bestaan uit elf snitte, waarvan nege deur van die land se voorste liedjieskrywers geskep is, waaronder Vaughan Gardiner, Johan Vorster, Roux Cloete en Niel Schoombee. ’n Pragtige weergawe van die Roxette-treffer, It Must Have Been Love, asook ’n duet van Jannie du Plessie se Liedjie Vir Jou saam met Fatman, maak ook deel van die speellys uit. “Die album is warm en opreg. Nie een liedjie klink dieselfde nie, maar tog is daar ’n goue lyn wat deurgetrek kan word. Dit is die perfekte keuse vir die langpad, omdat elke snit jou nooi om dit klaar te luister en saam te sing,” sê sy.

Advertensie"As jy hou van my blog,
GROOT asb stem vir my!" SA Blog Awards Badge

EINDELOSE LIEFDE bied die perfekte kombinasie van ballades wat diep tref, soos Eindelose Liefde en As Jy ’n Lied Was en lighartige wysies, soos Springgety. Haar persoonlike gunsteling is egter Glo Vertrou en Bly Onthou, omdat sy dit as ’n meesterstuk beskou wat die potensiaal het om ’n treffer te wees. Dis Wat Ja Beteken is ook besonders treffend en behoort ’n groot gunsteling te wees onder paartjies wat eersdaags gaan trou en ’n betekenisvolle liedjie soek om die dansbaan mee te open.

’n Musiekvideo van die enkelsnit, Ek Bid Vir Jou, is ook onlangs vrygestel en is baie goed ontvang. Ditvertel die storie van twee mense wat lief is vir mekaar, maar weens omstandighede nie saam kan wees nie. “Ons het die video by Lace on Timber in Pretoria geskiet. Dit is die mooiste troulokaal, met die perfekte beligting. Die idee was om die verlange wat afstand gee uit te beeld deur dit persoonlik te maak. Ek was vir ses maande weg van my man, Heinrich, af as gevolg van The Voice en die liedjie en video vang die emosies van daardie tyd vas. Ons het dit deur foto-materiaal uitgebeeld,” gesels sy.

Die Bloemfonteiner is al sedert haar matriekjaar doenig in die vermaakbedryf. Talle kompetisies en konserte, waaronder Oprah Winfrey se gradeplegtigheid, Jy is my Liefling, Beauty and the Beast, het in die dertien jaar daarna gevolg. In hierdie tyd het sy ook haar LLB-graad verwerf en die verhoog gedeel met groot kunstenaar soos ADAM, Jak de Priester, Jannie Moolman, Valiant Swart, Jannie du Toit, en vele meer. Haar deelname aan The Voice SA 2017 en ’n platekontrak met Universal Music word egter as die grootste hoogtepunt van haar loopbaan uitgesonder.

Hierdie blondekopsangeres, wat Adele, Celine Dion, Roxette, Katy Perry, Whitney Houston, Lara Fabian en Sinéad O’Connor lys as van haar grootste musiekinvloede, het nog baie drome vir die toekoms en beplan ’n landswye toer om haar album te bemark. Sy is ook binnekort te sien op die gewilde kykNET-program, Jukebox.

EINDELOSE LIEFDE is beslis ’n moet vir elke musiekliefhebber se versameling. Die kombinasie van inspirerende lirieke, besonderse wysies en haar uitsonderlike stem, is net die regte bestanddele vir ’n album wat oor tien jaar steeds ’n gunsteling gaan wees. Caroline-Grace het dit reggekry om in ’n kort tydjie diep in die harte van die publiek te kruip en daar bestaan geen twyfel dat haar sjarmante persoonlikheid en unieke aanslag vir haar nog baie deure gaan oopmaak in die toekoms nie.

VOLG HAAR OP SOSIALEMEDIA

Twitter: @CarolineBrussow

Facebook

Instagram: @carolinebrussow

 

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie