Friday , February 26 2021

Bly kalm en luister Coffee Snobs!

Daar is ‘n nuwe naam wat dit laat gons in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, en as jy nog nie van Coffee Snobs gehoor het nie, is dit hoogtyd! Net hulle naam laat jou ore reeds spits, en as jy eers hulle musiek gehoor het, is jy heeltemal oorgehaal.11425475_695748590571145_6887510647511817440_o

Die groep bestaan uit 4 lede: Vernette Wessels tokkel die kitaar en sing, Marius Wessels pluk die bas-snare, Johan Willemse slaan die blikke en Wicus Struwig streel die klawers. “Ons al vier het baie uiteenlopende musieksmaak en die resultaat is ‘n baie interressante mengsel van rock en folk, tot by ligte Jazz en Blues”.

Al vier lede het al ‘n padjie gestap in die musiekbedryf. Vernette is ‘n begaafde liedjie skrywer en haar liedjies is al deur ‘n hele paar groot name gebruik. Laurika Rauch het die treffer ‘Bly nog so bietjie’ op haar nuutste album, Wals Wals Willemien, gebruik en groot sukses met die liedjie behaal. Twee van haar ander liedjies word gebruik in die nuwe Sean Else fliek, ‘n Man soos my Pa, wat later die jaar vrygestel word.

Marius het groot geword met musiek in die huis alhoewel hy altyd maar skugter was vir die verhoog. Maar na hy en Vernette getroud is het hy nie veel van ‘n keuse gehad nie en het sy hom gou gou saam op die verhoog gesleep.

Johan het na skool musiek gaan studeer en aanvanklik gefokus op kitaar. Na sy studies het hy voltyds musiek gemaak en bas-kitaar gespeel vir onder andere Jan Blohm en Joe Martin. Toe hy deel word van Coffee Snobs het sy fokus na dromme geskuif en is hy vandag ‘n uitstekende multi-instrumentalis.

Wicus se groot liefde is studio werk. Hy het al produksies gedoen vir verskeie groot name soos Denim en BlackByrd en hy word geken vir sy unieke en moderne aanslag om die beste uit elke liedjie na vore te bring.

Hulle nuwe enkelsnit “Eie Land” het behoorlik die land aan die praat. Na slegs ‘n paar weke op die speellys pronk ‘Eie Land’ op ‘n hele paar radiostasies se Top 20. Dit is ‘n lied wat mense se hartsnare roer en vloei uit ‘n diepgewortelde liefde vir ons land. Vernette vertel meer oor die skryf van die lied: “Ek is mal oor Suid-Afrika! Ek weet ons het baie probleme en dinge is alles behalwe rooskleurig maar ten spyte van die uitdagings wil ek nêrens anders in die wêreld bly nie. Ek het al heelwat gereis en vir my is daar nie nog ‘n land wat so ‘n wonderlike mengelmoes van kleur, geur en natuurlike skoonheid bied nie.”

Coffee Snobs se debuut-album, Storm, word in Julie vrygestel. Die album bestaan uit tien snitte waarvan die helfte Afrikaans en die helfte Engels is. “Die gehalte van die produksie is iets waarop ons baie trots is. Ons wou ‘n album vrystel wat met die beste vergelyk kan word en almal wat dit hoor, komplimenteer ons op die kwaliteit van die produksie. Aangesien ons al die studiowerk self gedoen het, is dit vir ons fantasties om sulke terugvoer te kry,” sê Wicus, wat aan die stuur van die produksie was.

En die naam Coffee Snobs? “Wel, dis eenvoudig, ons hou van goeie koffie, en daar was ‘n substansiële hoeveelheid goeie koffie betrokke by die maak van hierdie album!”

Nes die aroma van vars gebroude koffie is Coffee Snobs se musiek iets wat jou sintuie deurdrenk. Die lirieke is sorgvuldig aanmekaargeweef, die melodieë is vars en oorspronklik en die verwerkings kreatief en inspirerend. As jy hulle eers gehoor het sal jy dors vir nog! Volg hulle op Facebook vir meer oor die album en optredes: www.facebook.com/Pages/Coffee-Snobs

Bly kalm en luister na Coffee Snobs…

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Saarkie stel nuwe musiekvideo vry!

Die immers gewilde rock-groep, SAARKIE, het onlangs hulle nuwe enkelsnit, Suidwes-Afrika, vrygestel wat reeds op …

Monique Steyn terug met ’n Mosaïek-kunswerk!

Monique Steyn word sonder twyfel as een van ons top-vroulike kunstenaars beskou, met ’n stem …

Leave a Reply

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.