15 jaar na Bles Bridges se heengaan is ‘n blinknuwe album van dié legendariese sanger op die horison, met splinternuwe opnames waar een van Suid-Afrika se goue stemme van gister meesterlik verweef word met dié van die land se top kunstenaars van vandag!
Ten tye van sy dood op 24 Maart 2000 was Bridges besig met opnames vir ‘n duet-album, waarvan slegs een snit, “First Kiss Goodnight” met Partricia Lewis, reeds opgeneem was.
In 2014 het sy familie besluit om, in samewerking met Select Musiek en met behulp van die nuutste tegnologie, Bridges se stem saam te span met dié van ‘n hele rits ander gunstelinge en die album te voltooi.
Die titel van die nuwe album is steeds ‘n geheim, maar daar is sprake dat dit reeds teen Maart 2015 op die rakke sal wees en kunstenaars soos Manie Jackson, Tommy Dell, Lance James, Carike Keuzenkamp, Rina Hugo, Nadine, Ray Dylan, Ricus Nel en vele ander sal insluit.
Verseker iets om na uit te sien…