Woensdag , Augustus 15 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Bekende sanger stel debuut solo-album bekend!

Bekende sanger stel debuut solo-album bekend!

Burgerd Botha het beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie talentvolle kunstenaar, met sy sielvolle stem, was nie net vir sewe jaar betrokke by die bekroonde groep Romanz nie, maar tree ook gereeld op by van die land se grootste feeste en konserte. Sy langverwagte debuut solo-album is pas vrygestel en beloof om aanhangers se asems weg te slaan.

HARTLAGSIEL is ’n pragtige kombinasie van ligte akoestiese popmusiek, hartroerende ballades en interessante elektroniese klanke, wat luisteraars sal uitnooi om saam te sing en diep te dink oor die lewe en die liefde. “My CD is een wat ’n mens aanspoor om die lewe elke dag opnuut aan te pak, ongeag vir die feit dat dit soms moeilik is en alles nie altyd volgens plan verloop nie. Die Here verwag van jou om Hom te bly vertrou, aan te hou en die wenstreep in die oog te hou,” verduidelik die sanger. “Ek wou graag die album so saamstel dat elke lied as ’n enkelsnit op sy eie staan en uitgegee kan word. Jy kan deesdae elke liedjie apart koop op die internet en ek het dit vanuit daardie oogpunt benader en hou van die verskeidenheid in klank en styl van lied-tot-lied. Daar is iets vir elkeen op die speellys en ek sien baie daarna uit om mense se reaksies te sien op hierdie projek wat vir my baie na aan die hart lê.”

Die album bestaan uit vyftien snitte, waarvan tien deur Burgerd self geskryf is. Alhoewel hy nie enkele liedjies wil uitsonder as sy gunsteling nie, meen hy dat Suikerbosseisoene die potensiaal het om ’n groot treffer te wees. Die laaste liedjie op die album, Waarvoor Ek Vra, is opgedra aan sy vriend Adam Barnard, nadat dié se moeder tragies verongeluk het.

Die Sterre, die nuutste enkelsnitvrystelling wat vandag uitgereik word, is deur Stephantasties geskryf en vervaardig en het ’n treffende akoesties elektroniese aanslag. “Ek is lief vir ’n lied met ’n mooi storie en energieke melodielyne. Hierdie is ’n eerlike hartslied, vol emosionele passie. Dit gaan oor daardie fase in ’n verhouding waar jy besef dat jy besig is om verlief te raak en dit so lekker is dat jy voel dat die heelal maar kan stilstaan. Jy sukkel om die regte woorde te sê as jy in haar oë staar en al wat jy kan uitkry is: ‘Ek’s lief vir jou!’,” sê die sanger. “Die klank is modern en vars en die lirieke is ook vir my werklik opreg, dog eenvoudig diep. Ek glo dat elkeen van ons hoop om ook so ’n liefde te kan ontmoet vir wie ons elkeen die heelal wil laat stilstaan.” Oor die musiekvideo wil Burgerd nog nie te veel verklap nie, maar hy sê wel dat dit met asemrowende visuele elemente en beligting gepaard sal gaan.

DIE MAN AGTER DIE STEM

Burgerd, wat in Klerksdorp gebore is, se musikale ouers het hom reeds vanaf ’n baie jong ouderdom aan musiek blootgestel en vandat hy kan onthou neem hy al deel aan kunswedstryde en ander musiekaktiwiteite. Hy het op skool aktief koorgesing, het Italië toe getoer vir ’n internasionale koorfees saam met die Jakaranda Kinderkoor en was ook ’n lid van die Universiteit van Pretoria se Jeugkoor. Alhoewel hy aanvanklik nie heeltemal seker was wat hy met sy lewe wou doen nie, het hy tog diep binne geweet dat musiek op ’n manier moes deel wees van sy toekoms.

Na skool het hy homself verder as musikant bekwaam aan die South African Music Institute en dit is tydens hierdie fase van sy lewe wat hy deur Select Musiek gekies is om deel te vorm van ’n manlike sanggroep, wat iets moes wees tussen Westlife en Il Divo. Wat hy egter nie op daardie stadium besef het nie, is dat hierdie geleentheid die basis sou vorm van die suksesvolle loopbaan waarmee hy vandag kan spog.

Romanz het baie vinnig ’n multi-platinumbekroonde handelsmerk geword wat deur die jare talle groot musiekpryse, wat verskeie SAMA-, Tempo- en Ghoema-toekennings en baie ander insluit, ingepalm het. Sy betrokkenheid by die groep het hom ook die geleentheid gegee om oorsese blootstelling te kry. ’n Optrede by die koningshuis in Monaco tydens die prins se troue, wat regoor die wêreld uitgesaai is, is vir hom een van die hoogtepunte van sy loopbaan. Om nie eers te praat van die voorreg om die Volkslied voor miljoene toetsrugbykykers te kon sing nie.

Die groep het ook saam met verskeie internasionale sterre soos Katherine Jenkins en Jennifer Rush opgetree, verskeie albums uitgebring en was deel van die land se voorste musiekkonserte en feeste. “Ek sal hierdie tyd van my lewe vir niks in die wêreld wil verruil nie. Ek het so baie geleer – oor myself, oor musiek, oor my stem en ook oor hoe om die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te benader. Daar was net soveel hoogtepunte wat geld nie kan koop nie en dit is hoekom ek vir altyd sal dankbaar wees daarvoor,” vertel hy.

Iemand het een keer gesê dat musiek uit die hemel vloei na die siel en dit is regtig wat Burgerd ook met sy musiek wil bereik. Omdat hy ’n musikant in murg en been is, kan hy hom nie in ’n ander loopbaan voorstel nie en besef hy terdeë dat dit ’n seën is om dit te kan doen waarvoor hy lief is. “Geen ander skepsel op aarde verstaan musiek soos wat die mens dit verstaan nie en ek glo dat dit regtig ’n geskenk van die Here af is. Dit is so kosbaar en die emosie wat daaraan gekoppel kan word, is iets wat ’n mens nie kan beskryf nie. Dit is ’n universele taal, wat ons elkeen met mekaar deel,” sê hy.

Hy hou van tydlose musiek met ’n mooi boodskap en bewonder sangers soos Andrea Bocelli, Bryan Adams, Josh Groban, The Carpenters, ensovoorts. As jy hom vra saam met wie hy nog wil musiekmaak, antwoord hy: “Ek waardeer Christiaan Botha (my broer en voorheen deel van NRG), Werner Breytenbach, Joshua na die Reën, Stephantasties en Charlize Berg se musiek en het die hoogste respek en agting vir hulle talente en musikaliteit. Ek sou, op hierdie stadium, graag saam met hulle wou werk omdat ek lief is vir hulle klank en styl.”

Burgerd is ’n perfeksionis wat glo dat hy verantwoordelikheid moet neem vir sy toekoms en loopbaan. “Ek staan vir die eerste keer aan die stuur van nie net die hele kreatiewe proses nie, maar die projek in totaliteit. As daar iets op hierdie album is wat, na vrystelling, nie reg is nie, het ek net myself om voor vies te wees! Ek is wel bevoorreg om ongelooflike mense te hê in my span wat in hierdie projek glo en my help om suksesvol deur hierdie nuwe fase in my loopbaan te beur.”

In sy vrye tyd, geniet die sangsensasie dit om tyd saam met sy familie te spandeer. Verder is hy ook ’n direkteur van Orthologics en span hy sy talent in om vir ander kunstenaars liedjies te skryf. Hy is ook ’n avonturier, wat nooit nee sê vir uitdagende buitelugaktiwiteite nie.

Aanhangers is beslis bly dat hierdie talentvolle musikant nog nooit bang was om die kosbare talent wat hy ontvang het met die mense rondom hom te deel nie. HARTLAGSIEL is nie net ’n bewys van Burgerd Botha se uitsonderlike musikale aanleg nie, maar ook die begin van ’n baie opwindende nuwe hoofstuk van sy loopbaan. “Die musiek op my nuwe album, het ’n Afrikaans akoestiese poprock-aanslag, met diep en deurdringende lirieke, en ek hoop dat dit vir luisteraars sal wys dat daar nog mooi in hierdie wêreld van ons oor is,” sluit hy af.

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

As Jy Nog Twyfel

Hartlagsiel

Die Sterre

Vreesloos

Sonder Rame

Sy Aan Sy

Deur Vuur Getemper

Suikerbossiesoene

Help Me Love

Vat My Huistoe

Drivin’

One Thing Right

Leef Van Genade

Vergeet My Nie

Waarvoor Ek Vra

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Martin Bester wil net wees wie hy is, sonder toestemming!

Net wanneer jy dink dat Martin Bester jou nie nog meer kan beïndruk nie, verras …

Leon Gropp stel nuwe musiekivdeo op unieke wyse bekend!

Leon Gropp se eerste solo-enkelsnit, BAKENLIG, is reeds ‘n paar weke gelede met groot sukses …