Dinsdag , Oktober 23 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Angel de Lange verskuif country-rock grense met haar nuwe album!

Angel de Lange verskuif country-rock grense met haar nuwe album!

Angel de Lange se nuwe album, “Vat my terug”, haar eerste onder die Select-vaandel, is oorgehaal om een van die grootste country-rock bederwe van 2018 te wees!

Hierdie fenomenale talent van die Ooste van Johannesburg se lae register-stem herinner aan die van die legendariese Bonnie Tyler, en met dié album – waar liedjieskrywers soos Rudi Claase, Dennis East en Manie Jackson hul penne by Angel se eie gevoeg het – kom dit beslis tot sy volle reg.

Die album beslaan 12 snitte wat ‘n hele rits nuutskeppings met ‘n goeie paar wêreldbekende gunstelinge afwissel in ‘n samestelling wat diegene wat daarna luister sal boei van begin tot einde. Dis primêr ‘n country geur, met vuurwarm rock-elemente bygevoeg – ‘n album waarna jy seker net lekker kan luister ook, maar een wat ook nie skroom om jou gereëld dansvloer toe te sleep vir ‘n goeie skoffel of two-step nie!

Oorspronklike snitte sluit “Juwele”, “Ek huil oor jou”, “Poppedans”, die amper tong-in-die-kies “As hy my verneuk” en die titelsnit in, terwyl alomgewilde bekendes soos Marilyn Sellars se “One day at a time”, Lead Belly se “Midnight special” en “Black coffee” van Lacy J. Dalton uitstekend met hernude emosie en ‘n onblusbare energie vertolk word.

Diegene wat ‘n goeie krag-duet waardeer, woord ook aangenaam verras: Angel en Manie Jackson se stemme is uitgeknip vir mekaar vir hul aangrypende weergawe van Merle Haggard se “Somewhere between” – ‘n country wals wat as ‘n juweel van vol harmonie uitstaan.

“Vat my terug” is ‘n viering van een van Suid-Afrika se beste jong sangtalente – een wat sonder twyfel nog groot opslae in die bedryf gaan veroorsaak! As jy ‘n aanhanger van eersteklas country is, is hierdie ‘n móét vir jou versameling!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Early B reik enkelsnit uit saam met Jack Parow en Justin Vega

Die gewilde en bekroonde kletsrymer van Port Elizabeth, Early B, se spitsvondige lirieke en humoristiese musiekstaaltjies, …

Samantha Leonard stel musiekvideo bekend!

Samantha Leonard se eerste Afrikaanse enkelsnit, ’N DUISEND KEUSES, is gedurende September 2018 vrygestel en is …