Home / Afrikaanse flieks en Teater / AMBASSADEUR – Uitgawe 2 onlangs bekendgestel!

AMBASSADEUR – Uitgawe 2 onlangs bekendgestel!

Die tweede uitgawe van die Afrikaanse literêre leefstyljoernaal, Ambassadeur, is onlangs in Kaapstad bekend gestel. Die inhoud handel weereens oor kuns, avontuur, makers en literatuur. Daar is egter twee elemente wat hierdie uitgawe uniek maak.

Eerstens is hierdie uitgawe van die joernaal ook in Engels vrygestel, om Engelse lesers blootstelling te gee aan van die voorste kunstenaars en skrywers wat in Afrikaans werksaam is. Tweedens het Ambassadeur met die Italiaanse modehuis, Gucci, saamgespan om ‘n opwindende, baanbreker foto-essay bekend te stel.

Die 54-bladsy foto-essay (jy het reg gelees, 54 bladsye!) maak elemente van Etienne Leroux se veelbesproke roman, Sewe Dae by die Silbersteins, visueel tasbaar in ’n unieke ontmoeting van letterkunde en modeontwerp. Die modelle is gestileer in die Gucci voor-herfs ’18 versameling – wat spesiaal van Italië af ingevlieg is vir die foto’s – met bypassende aanhalings uit die roman.

Met die eerste publikasie van Sewe dae by die Silbersteins, in 1962, is dit beskou as revolusionêr – ’n deurbraak in die Suid-Afrikaanse letterkunde. ’n Satiriese, fantasmagoriese pantomime wat die konsepte van goed en kwaad herondersoek. Die roman speel af op die fiktiewe Welgevonden-wynlandgoed waarheen die hoofkarakter, Henry van Eeden, gestuur word om vir ’n week te bly sodat hy sy verloofde, Salome Silberstein, vir die eerste keer kan ontmoet.

In die loop van die sewe dae eskaleer die roman in die duisterheid, soos Henry in die weë van die rykes opgevoed word. Elke aand woon hy ’n reeks buitensporige, bisarre partytjies by – ’n uitbundige fees van oorvloed wat grens aan makaber. Die roman eindig op die sewende dag wanneer Henry se bruid, wat hy nog nie deur die loop van die week kon ontmoet nie, hom op hul troudag by die kansel tegemoetkom.

Hierdie baanbreker foto-essay is gekonseptualiseer deur Derick Muller, die skeppende hoof van The Suits, ’n advertensie-agentskap van Kaapstad. Hy was ook die hoof-fotograaf betrokke by die foto-essay. “Wat vir ons regtig ongelooflik was, was dat ons die foto’s kon neem op die landgoed wat as oorspronklike inspirasie vir Etienne Leroux se roman gedien het. Die huis het homself perfek verleen tot die gevoel wat ons gevisualiseer het vir die fotografie.”

Die omgewing waarin die roman afspeel is indirek geïnspireer deur die Bellingham-wynlandgoed, wat op daardie stadium in die besit was van die eksentrieke Bernard Podlashuk en sy merkwaardige vrou, Fredagh. Die paartjie het die binnekant van die herehuis versier met ’n eksentrieke mengsel van Eurosentriese en Oosterse style. Daar is alles van eiers gemaak van halfedelstene, tot versamelings Venesiese glas en antieke meubels uit Frankryk, Rusland, Portugal en Italië. Daar is selfs ’n vergulde hemelbed in een van die gastekamers wat oorspronklik ’n trougeskenk was aan die koning en koningin van Soematra.

Na Fredagh Podlashuk se dood in 2002 het die Bellingham-herehuis ’n nasionale monument geword. Elke item in die herehuis is presies gelaat soos wat dit was op die dag van haar dood. Vandag is dit ‘n privaatmuseum in besit van die Podlashuk Bellinchamp National Heritage Foundation.

“Die inspirasie vir die konsep het gekom nadat ek die artikel “Op soek na Etienne Leroux se Welgevonden” deur Willemien Brümmer op Netwerk24 gelees het,” vertel Derick Muller. “Toe ons die konsep van ’n foto-essay oor Sewe Dae by die Silbersteins vir Gucci voorstel, en sê ons wil dit in die Bellingham-herehuis skiet, was hulle absoluut versot daarop.”

Die openingstoneel van elke ‘hoofstuk’ van die essay is afgeneem met ’n 1979 Hasselblad-kamera. “Die 120mm medium-formaat film wat ons in die Hasselblad gebruik was ideaal om die eklektiese nuanse van die storie en die ligging vas te vang,” sê Karin Muller, die kreatiewe vervaardiger by Ambassadeur. “Die reeks van Gucci het egter die koek gevat. Toe ons eers die modelle in die tonele plaas met die klere aan, het alles net gewerk!”

Ambassadeur II is beskikbaar by jou naaste Exclusive Books-boekwinkel, asook aanlyn by www.ambassadeur.co.za. Tot en met 20 Desember 2017 is aflewering landswyd gratis.

Webtuiste

Facebook

Instagram

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Suid-Afrika se gunsteling-komediant is terug op die grootskerm!

Hou vas aan jou sitplek want die grapjas, Leon Schuster, is terug met ’n splinternuwe …

Binnelanders se nuwe gesigte!

Van Junie af is daar heelwat nuwe dinge om na uit te sien in BINNELANDERS …