Dinsdag , Oktober 16 2018
Home / Afrikaanse Musiek / ALMERO reik kragtige ballade uit!

ALMERO reik kragtige ballade uit!

Hy is skaars twintig jaar oud en spog reeds met sy eie kortverhaal, digbundel en twee enkelsnitte, wat almal baie goed ontvang is. Met die vrystelling van sy nuutste treffer, MONOCHROMIE, gaan Almero nie net ’n opskudding veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook vir homself ’n permanente plek lossing in die harte van musiekliefhebbers.

MONOCHROMIE is wat ek noem ’n kragballade. Dit gaan oor ’n gevoel wat ek glo ons almal ervaar: die soeke na iemand wat ons tuis kan noem. Iemand wat ons nuwe dinge kan leer en laat voel en sien. Dit maak die vergelyking dat hierdie persoon, indien daar so iemand is, jou wêreld sal verkleur in kleure wat jy nie geweet het bestaan nie. Tog is daar ’n smekende aspek in die liedjie, ’n pleit dat hierdie persoon moet bly,” verduidelik hy oor hierdie treffende liedjie wat saam met Ruan Graaf geskryf en deur Nico Welgemoed vervaardig is. “Ek is iemand wat baie waarde heg aan my huis, of woning. Sedert ons uit ons ouerhuis getrek het in 2015, is ek geneig om die mense om my te sien as my ‘huis’. Die liedjie vang iets vas waaraan ek gereeld dink, en die musiekaspek van die liedjie is vir my iets besonders. Die donkerte en gewig van die woorde word beklemtoon, maar daar is steeds dele van hoop. Ek dink ons almal is opsoek na ’n huis en ek hoop hierdie liedjie kan ’n ‘huis’ word vir mense om in te rus.”

Die aanslag van dié kragtige alternatiewe ballade is poëties en hartroerend en die ritme en melodie vars en meesleurend. Dit is die perfekte pasmaat vir Almero se unieke stem en storievertellerstyl, wat beslis sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. ’n Musiekvideo en album word ook vir later vanjaar beplan.

Hierdie talentvolle Bloemfonteiner het in ’n huis vol musiek grootgeword. Hy en sy boetie, Nico Welgemoed, het gereeld met die klank van Don Williams in hulle ore aan die slaap geraak en hy meen dat daar nooit twyfel bestaan het dat hulle musiek sou maak nie. Die plan was net nie noodwendig om dit voltyds te doen nie.

Vanjaar is sy tweede in die musiekbedryf en sedertdien was daar al baie hoogtepunte, waaronder ’n duet saam met Bouwer Bosch, Nul Is Nie Niks Nie, wat gebruik is as temalied van die jeugfliek met dieselfde naam. Hy het ook die voorreg gehad om die verhoog met Bouwer te deel by die OppiKoppi-musiekfees in 2017 en het reeds twee vorige enkelsnitte uitgereik, waaroor sy aanhangers mal was. “Om stories te kan hoor van mense is altyd die hoogtepunt. Musiek het my ’n baie groter platform gegee om mense te ontmoet en hulle stories te hoor. Dit is ’n ondenkbare voorreg. Ek skryf en maak musiek om die wêreld en moeilike dinge te kan verstaan. Ek voel daar is ook baie stories wat vertel moet word deur middel van kuns soos musiek en poësie,” deel die musikant.

Sing is egter nie Almero se enigste talent nie. Buiten vir die feit dat hy ’n diep denker en slimkop is, wat nog altyd ’n sjirurg wou word, is hy ook ’n uitsonderlike skrywer en digter. Hy is tans besig om sy boek, Donderweer Gedagtes, te bemark en het in 2017 saam met Bouwer Bosch die digbundel, Liefde Wen, vrygestel. “Die bundel handel oor die liefde en al die verskillende vorme daarvan. Mense en hulle verhoudings met mekaar inspireer my. Dit het begin as ’n digkompetisie. Ons het oor die 400 inskrywings ontvang en het ons gunstelinge gekies om deel uit te maak van die bundel,” sê hy.

Volgens die kunstenaar, geniet hy die meeste tipe musiek as dit ’n boodskap oordra, maar hou veral van die ‘slaapkamersangers’ wat te bang of kwesbaar is om hulle werk te deel. Musikante soos Damien Rice, Matt Corby en Bon Iver het ’n groot invloed gehad op sy eie styl en hy sal graag nog eendag saam met Riaan Cruywagen ’n gedig wil skryf en saam met Danie du Toit ’n lied wil opneem of optree.

Oor sy musiek, sê Almero: “Dis vol (soms te veel) beelde en metafore en my stem is ’n instrument waarvan ek die handleiding verloor het.” Hy wil graag grense in die Afrikaanse musiekberyf verskuif deur diepsinnige lirieke met moderne en interessante klanke te kombineer. MONOCHROMIE versinnebeeld nie net hierdie doelwit nie, maar is ook ’n goeie aanduiding van wat luisteraars in die toekoms van hom kan verwag.

Luister na die lied hier:

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @AlmeroWel

Instagram: @almero_welgemoed

SoundCloud

Webtuiste

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Valeska Muller stel nuwe pop-danssnit vry!

Valeska Muller is een van daardie kunstenaars wat jou laat stilstaan wanneer jy haar vir die …

‘n Nuwe enkelsnit en album vir Afrikaanse musieklegende!

Met musiekstyle en –tendense wat konstant verander, vat dit ’n merkwaardige musikant om relevant te …