Woensdag , November 14 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Almero reik eerste vollengte album uit!

Almero reik eerste vollengte album uit!

Almero het lank nie meer enige bekendstelling nodig nie. Vanjaar is sy tweede in die musiekbedryf en sedertdien was daar al baie hoogtepunte, waaronder ’n duet saam met Bouwer Bosch, Nul Is Nie Niks Nie, wat gebruik is as temalied van die jeugfliek met dieselfde naam.  Hy het ook die voorreg gehad om die verhoog met Bouwer te deel by die OppiKoppi-musiekfees in 2017.

Hy is nog net een-en-twintig jaar oud en spog reeds met sy eie kortverhaal, digbundel en twee enkelsnitte, wat almal baie goed ontvang is. Met sy mees onlangse kragballade, Monochromie, het hy sy plek ferm in die musiekbedryf ingeneem, maar nou het die tyd aangebreek om se eerste vollengte album, MAANDAG, bekend te stel. Saam met die bekendstelling van sy album, reik hy ook nog ’n enkelsnit getiteld Vloedverlief ft. Reënwolf uit. Vloedverlief is geskryf deur Almero en Danie du Toit (Reënwolf). Dié liedjie is in Danie se woonstel in Stellenbosch geskryf, te same met nog drie ander liedjies vir die album. Albei het gedink dit sal goed wees as hy saam sing op die lied. Danie het ook gehelp met die vervaardiging van al vier hierdie liedjies.

“Vloedverlief is ’n gesprek tussen twee mense. Die een wil opgee en die ander een wil die wêreld ingaan en baklei vir oorlewing. Albei het twyfel, maar die een is bereid om te probeer. Ek en Danie het albei ’n liefde vir die vloedverhaal en die ark, en die liedjie spreek daarvan. Ons almal woon soms in arke, maar dit is nie waarvoor ons gemaak is nie. Ons moet die branders in”, vertel Almero oor hierdie besonderse lied.

Die album, MAANDAG, het nie ’n duidelike oorsprong nie, maar Maandag was nog altyd vir Almero ’n dag met ’n baie duidelike gevoel en karakter. ’n Begin en ook potensiaal. Die eerste lied op die album se naam is Maandagoggend en die laaste lied se naam is Maandagaand.

My nuwe album is vir my ontsaglik spesiaal en persoonlik. Elke lied het ’n belangrike storie van my lewe en die verhale het my en die mense om my gevorm. Baie van my vriende en familie se stories is ook te vinde in die liedjies”, sê Almero.

Buiten vir Almero en sy broer, Nico Welgemoed, het verskeie musikante gehelp met die album se musiek en vervaardiging, onder andere:  Bouwer Bosch, Danie du Toit, Ruan Graaff en Peach van Pletzen.  Die album word versprei deur Kanada Records.

Oor sy samewerking met Danie du Toit van Spoegwolf sê Almero: “Ek is ’n baie groot aanhanger van Spoegwolf en van Danie, weens hulle uniek klank en lirieke. Ek het ’n kans gevat om hom te vra of hy sal wil help my my album. Hy was baie gretig en ons het ’n week saam gewerk in Stellenbosch. Dit was wonderlik om hom as mens en musikant te leer ken. Sy bydrae tot die album is ongelooflike groot”.

SNITTE OP DIE ALBUM:

  1. Maandagoggend
  2. Blou
  3. Vloedverlief ft. Reënwolf
  4. Mosselbaai
  5. Monochromie
  6. Hartoorplanting
  7. Donnerse lag
  8. Bedonnerd
  9. Flikkerligritmes
  10. Doolhof
  11. Noem my
  12. Maandagaand

Sing is egter nie Almero se enigste talent nie. Buiten vir die feit dat hy ’n diep denker en slimkop is, wat nog altyd ’n sjirurg wou word, is hy ook ’n uitsonderlike skrywer en digter. Hy is tans besig om sy boek, Donderweer Gedagtes, te bemark en het in 2017 saam met Bouwer Bosch die digbundel, Liefde Wen, vrygestel. “Die bundel handel oor die liefde en al die verskillende vorme daarvan. Mense en hulle verhoudings met mekaar inspireer my. Dit het begin as ’n digkompetisie. Ons het oor die 400 inskrywings ontvang en het ons gunstelinge gekies om deel uit te maak van die bundel,” sê hy.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter: @AlmeroWel

Instagram: @almero_welgemoed

SoundCloud

Web

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

2ndLife stel splinternuwe enkelsnit en musiekvideo bekend!

Hou vas jou hart!  2ndLife het pas ‘n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, WIE EK IS, …

David Fourie se liedjie “Jy soen soos ’n engel” in Nederlands

Wat dink jy van Jaimy se weergawe van David Fourie se liedjie? Deel jou kommentaar …