Woensdag , Desember 12 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Almal het daai één pel… !

Almal het daai één pel… !

Almal het daai één pel… ‘n vreemde karakter wat ‘n bietjie “gevaarlik” is om na ‘n kuier te nooi – iemand wat nie volgens die reëls speel nie, maar wat groter as die lewe self leef en die vibe neem na waarookal hulle is… ‘n risiko, maar op al die regte maniere!

Daai iemand is Hammie en hy, sy snor, sy sweetpak en sy splinternuwe enkelsnit is hier om jou partytjie op sy kop te draai! “Bruce Lee” is ‘n elektroniese, tong in die kies danssnit met meer skop as die konkoksie wat die oom van die mampoerstalletjie in sy agterplaas aanmekaarslaan – iets wat die partytjie-ninja in selfs die mees konserwatiewe siel sal losskud en enige kuier in een vir die boeke sal omskep.

Daar’s tonne ritme, aansteeklike techno-klanke en effekte, lekker lirieke met ‘n onblusbare energie en polsende bas wat jou tot in jou diepste binneste sal roer en jou agterkwart spontaan aan’t beweeg sal sit! Die snit, soos ander wat ons binnekort van Hammie te wagte kan wees, het ontstaan uit sy liefde vir goeie songs, stories en komedie – ‘n idee wat êrens by ‘n epiese, ietwat onverantwoordelike laataand-kuier begin het en gegroei het tot iets wat al wat ‘n dansvloer wat sy sout werd is gaan verower: van dansplekke, tot rampartytjies, skoolsokkies, matriekvakansies, braaie wat tot na 12uur loop en enige iets tussenin!

Hammie beskryf homself as ‘n optimistiese kêrel met ’n positiewe uitkyk oor die lewe – hier om sy lewe te geniet en nie te veel te stres oor goed buite sy beheer nie. Hy hou daarvan om die goeie in mense raak te sien, positief te wees, te lag en ander te laat lag… al is dit met ‘n goeie dosis corny. En oor wanneer hy nie besig is om vuurwarm treffers te maak nie, sê hy: “Ek dans graag in my vrye tyd alleen by die huis, en as ek nie dans nie maak ek nes ek wil, tot my vrou my bel en se ek’s besig om twak aan te jaag, dan maak ek soos sy sê!”

Oor planne vir sy loopbaan verklap hy vir nou min, maar sê dat, wanneer hy ‘n idee kry en daarin glo, hy dit met volle vaart aangryp, so aanhangers van hierdie snit kan uitsien na nog baie meer! “Bruce Lee” is ‘n snit wat elke beskikbare radiogolf, luidspreker, oorfoon en verhoog gaan pap speel, want, in sy eie woorde, is daar net een groep wat waarskynlik nie regtig van Hammie se musiek gaan hou nie: dooie mense!

Sy liedjie is binnekort op alle platforms beskikbaar!

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Hammie se musiekvideo is hier!

Hammie se heel eerste musiekvideo is hier! Gaan Bruce Lee vir Bibi red…? Kyk die …

Jo Black maak groot nuus bekend!

Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar vir Jo Black!  Na die weghol sukses van sy …