Woensdag , Desember 12 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Afrikaanse duo se nuwe musiekvideo raak die hartsnare!

Afrikaanse duo se nuwe musiekvideo raak die hartsnare!

Dit is geen geheim dat die manne van die duo-sanggroep, DZL, ‘n groot liefde vir die diereryk en die natuur het nie. Dit het hulle al vele kere bewys deur die ongelooflike werk wat hulle binne die privaatsektor doen om renosterbewaring te verseker. Met die vrystelling van hulle nuwe musiekvideo Die hele wêreld’, wys die manne hulle passie behoorlik. Die video was ook 16 Desember 2017 op Kyknet se Jukebox bekendgestel.

Kyk hier: 

Tydens ‘n onlangse reis na Kenia het die manne ook die Lewa Conservancy besoek wat wêreldbekend is vir die werk wat hulle doen om bedreigde spesies soos renosters en gravy zebras te beskerm. Dit was tydens hierdie besoek dat Andries en Wiaan die geleentheid van ‘n leeftyd meegemaak het.

‘Ons was op die punt om terug te ry na ons lodge wat sowat 4 ure van Lewa is toe die plaaslike veearts ons vra om hom by te staan met ‘n olifant wat ‘n stroperspoging oorleef het,’ vertel Andries.

Die manne saam met verteenwoordigers van die NPO, Rhino Connect, waarvan DZL ook direkteurs en ambassadeure is, het hulle na die toneel gehaas waar hulle saam met ‘n span veeartse die beseerde olifant behandel het.

‘Dit was een van die beste ondervindings ooit en so onverwags! Ons het gehelp om die olifant te monitor en sy ore met water te lawe terwyl die veearts die medisyne toedoen. Daar was natuurlik ook ‘n bietjie sports want die olifant het gesukkel om op te staan en ons het hom toe met ‘n tou om die tand en ‘n bakkie op die voete gekry maar toe moes ons hardloop want daardie meneer was reg om te wys wie baas is,’lag Wiaan.

Die olifant ondervinding het die basis gevorm van die nuwe enkelsnit wat ook op DZL se nuwe album, ‘Realiteit’ beskikbaar gaan wees. Die album gaan in Maart/April 2018 op die rakke wees. Die enkelsnit is enkele weke gelede na radiostasies gestuur en vaar tans baie goed op verskeie radiostasies se trefferparades. Dit is deur die talentvolle Rouxan Cloete geskryf en deur bekroonde vervaardiger, Christie Schutte, vervaardig. Die liedjie is inspirenrend en moedig die luisteraar aan om nie op te hou droom nie.

‘Teen hierdie tyd is ons almal al moeg en uitgeput van die uitdagings wat 2017 voor ons deur gelê het. Baie keer verloor ons onself en ons drome wanneer dinge moeilik gaan. Hierdie liedjie moedig ons aan om te besef ons is besig met ‘n lewenspad wat dalk vol gate gaan wees maar ons moet nooit sig van ons doelwitte en drome verloor nie,’vertel Andries.

Die musiekvideo besoek ook een van Suid-Afrika se mooiste landskappe naamlik God’s Window net buite Graskop. Die asemrowende tonele is deur die lens van vervaardiger, Jaun Buys, vasgevang.

‘Ek dink nie daar is al ‘n video by God’s Window gemaak nie en ons wou juis die asem- wegslaan tonele by die video inbring. Ons was gelukkig om die eerste middag ‘n paar tonele te skiet terwyl daar geen mis was nie en jy kon tot in die wildtuin sien. Die volgende oggend het ons weer met die gewone mistigheid te doen gehad waarvoor daardie gedeelte van die land bekend is,’sê Wiaan.

Die DZL-manne is baie opgewonde oor die nuwe jaar wat voorlê na ‘n baie suksesvolle 2017 wat agter die rug is. Hulle debuutalbum was vir twee Ghoema-toekennings benoem en die hoop is dat die nuwe album net so goed sal vaar.

Volg DZL op:
Facebook
Twitter: @Dzl_Band
Instagram: dzl_band

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Hammie se musiekvideo is hier!

Hammie se heel eerste musiekvideo is hier! Gaan Bruce Lee vir Bibi red…? Kyk die …

Jo Black maak groot nuus bekend!

Kersfees het vroeg gekom hierdie jaar vir Jo Black!  Na die weghol sukses van sy …