Dinsdag , Mei 21 2019
Home / Afrikaanse Musiek / Afrikaans is Groot is terug en dié konsert is jóúne.

Afrikaans is Groot is terug en dié konsert is jóúne.

Die gesogte Afrikaans is Groot-konserte, wat vanjaar sy agste bestaansjaar vier, is terug en gehore kan uitsien na ’n selfs meer fenomenale tentoonstelling van ons land se grootste Afrikaanse kunstenaars wat gehore se asems met hul grootste liedjies wegslaan. Afrikaans is Groot is die hoogtepunt van Afrikaanse musiekliefhebbers se jaar. 

Beplanning vir vanjaar se konsertreeks is reeds in volle swang en Barry Pretorius, een van die vervaardigers en regisseur van dié konsert, en die produksiespan, het reeds met die opening van kaartjieverkope konsertgangers se ervaring ’n prioriteit gemaak.

“Ons gaan seker maak dat jou 2019-ondervinding iets besonders gaan wees. Moenie vergeet: Afrikaans is Groot is jóú konsert, dis jóú musiek en jóú kunstenaars en ons is tot jóú diens,” is Pretorius se boodskap aan Afrikaans is Groot-liefhebbers.

Vanjaar het kaartjieverkope ietwat anders as vorige jare verloop. Elke jaar is daar probleme met kaartjiestelsels wat nie die hoë lading van unieke besoekers op een slag kan hanteer wanneer die kaartjieverkope oopmaak nie, en juis daarom is dit vanjaar opgedeel in sarsies. Kaartjiehouers van 2018 se konserte het die geleentheid gehad om van 27 Februarie tot 3 Maart eerste kaartjies vir die konserte te koop. Kaartjieverkope vir die konserte open amptelik om 5 Maart om 10:00 en organiseerders vertrou dat dié proses suksesvol sal verloop. 

Daar kan weer uitgesien word na van die land se grootste kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Jay, Corlea, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Elvis Blue, Tarryn Lamb en Demi Lee Moore. ’n Volledige lys van al die kunstenaars sal binnekort bekend gemaak word.

Afrikaans is Groot 2019 vind op 22 November om 19:30, 23 November om 13:00 en 19:30, 24 November om 13:00, 29 November om 19:30, 30 November om 13:00 en 19:30 en 1 Desember om 13:00, by die Sun Arena by Time Square in Pretoria, plaas. Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Opkomende musikante kan by kundiges leer tydens nuwe musiekwerkswinkel!

Daar is baie talentvolle musikante, beide ervare en onervare, wat sukkel om musiekdrome te verwesenlik …

Dewald Wasserfall se nuwe album is hier! En dis elektries!!

Aanhangers van Dewald Wasserfall sal verheug wees om te hoor dat die gewilde sanger se …