Afrika my verlange / Afrique mon désir produksie op die planke!

205

Afrika my verlange / Afrique mon désir is `n 90minute multi-media, wêreldmusiek-produksie met David Kramer as regisseur, en met musikante Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en die Afrique mon désir Ensemble. Dit word aangebied deur die Cape Town Music Academy (CTMA).

Tesame met ‘n wêreldklas ensemble bestaande uit Wes-Afrikaanse sangers en musikante, ontdek hulle n skatkis van Afrika poësie vanuit Franssprekende lande soos Madagaskar, Ivoorkus, Kameroen, Mauritanië, en Tsjaad, asook terug op eie bodem in die werke van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Eugene Marais. Hierdie literêre fees word gekombineer met Afrika geinspireerde melodië om `n energieke, multi-media produksie, Afrique mon désir, voort te bring.

Laurinda Hofmeyr is in 2016 deur Nico McLachlan, uitvoerende hoof van CTMA genader om dit te oorweeg om gedigte vir die Afrique mon désir projek in Frans te toonset. Hofmeyr sê: “Hierdie projek was vir my ‘n groot uitdaging. Ek was laas op Universiteit aktief besig met Frans! Maar die waagstuk het my so baie laat wen. Ek het wonderskone gedigte ontdek en wonderlike mense leer ken. Afrique mon désir het n klomp temas in my lewe by mekaar laat kom. Dit voel of alles saamgewerk het om dit te laat gebeur, asof dit eenvoudig moes gebeur.”

Afrique mon désir ondersoek temas van verplasing en verlange, asook n diep gedeelde konneksie tussen die Afrika kontinent en sy bewoners.

Meesleurende animasie films deur gevierde Suid Afrikaanse kunstenaar, Diek Grobler, vergesel die musiekuitvoering om hierdie ‘n unieke, sensoriese oudio- en visuele ervaring te maak. In hierdie veeltalige produksie word Frans en Afrikaans, asook Lingala, Swahili, Tshiluba en Kikongo gehoor.

CTMA is ‘n nie-vir-profyt maatskappy (NPC) wat daarna streef om geleenthede te ontwikkel vir plaaslike gevestigde en opkomende musikante en kunstenaars in die Wes-Kaap. Die doelwit van die CTMA is ‘n openbare weldaadsaktiwiteit wat programme en projekte skep wat die werk van plaaslike musikante en die ontwikkelling van werksgeleenthede in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie bewerkstellig. Vicky Davis, CTMA se programbestuurder sê: “In SA is daar heelwat ondersteuning vir klassieke musiek, maar kontemporêre musiek word dikwels agtergelaat. Tog het ons van die beste kontemporêre musiektalent en kan ons musikante met wêreldstandaarde meeding as hulle net die geleentheid kan kry. Daarom wil die CTMA graag die gaping aanspreek deur geleenthede te skep vir kontemporêre musikante, beide opkomend en gevestig. Ons idee is om ons plaaslike musiektalent meer opvoer- en opneemgeleenthede te bied en om ons musikante deur internasionale uitruilprogramme op wêreldplatforms te kry waar hulle hoort. En dit is presies wat die projek, Afrique mon désir / Afrika my Verlange regkry: Die Afrique mon désir produksie word in Maart en April by die Woordfees en KKNK uitgevoer en sal ook in Junie vanjaar in Frankryk, Nederland en België aangebied word.”

Musiek videos:

“Die Dans van die Rëen” – Laurinda Hofmeyr, Afrique mon désir Ensemble & Regis Gizavo:

“Sous la Terre” – Laurinda Hofmeyr, Afrique mon désir Ensemble & Regis Gizavo:

Afrique mon désir produksie by @ Prince Albert Lees Festival 2017:

Web en sosiale media:

www.ctma.co.za

www.laurindahofmeyr.co.za

Facebook

Twitter: @LaurindaHofmeyr

Instagram: @afriquemondesir

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Advertensie