Dinsdag , September 25 2018
Home / Afrikaanse Musiek / Adam Tas & Stella verower harte met nuwe enkelsnit!

Adam Tas & Stella verower harte met nuwe enkelsnit!

Wanneer twee van die mees talentvolle musikante in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besluit om kragte saam te span om ’n baie spesiale en sielvolle liedjie met luisteraars te deel, kan die eindresultaat nie anders as perfek wees nie!

Adam Tas en Stella, wie beide bekend is vir hulle diep lirieke en uitsonderlike stemme, het pas saam ’n duet vrygestel wat beloof om die harte van musiekliefhebbers uit die staanspoor te verower en radio-treffersparades te oorheers.

EK IS RYK is ’n volwasse kontemporêre snit uit Stella se pen, en gaan oor iemand wat moedeloos is oor die lewe en omstandighede, maar wanneer die persoon saam met ’n geliefde is, daal die besef neer dat die liefde ’n mens skatryk maak, en dit bring vrede.

Ek het dit komponeer in die tyd toe dit erg droog was, veral in die Kaap. Ek’t myself in die boere se skoene probeer sit. Op ’n plaas is daar nie wegkom van die droogte af as dit jou tref nie. Alles, die diere; damme; windpomp; veld en lande, herinner jou heeltyd aan hoe droog dit is en dat hulle dringend water nodig het. Dit was die inspirasie vir die eerste twee verse,” vertel die sangeres wat bekend is in Gospelkringe as deel van die Ghoema-bekroonde groep, Duis:Lig. “Die res van die liedjie gaan oor ware liefde, wat gegrond is in God se liefde, liefde wat altyd hoop het en weet dat die Vader sal sorg, al is dit nie soos jy dink dit moet wees nie. Liefde wat vrede bring wanneer dit nie sin maak nie.”

Stella, wat self ’n boervrou is, het geweet dat Adam Tas die perfekte persoon sou wees om hierdie enkelsnit mee op te neem, omdat dit hom so na aan die hart lê. “Die musiek en die storie is diep en mooi! Ons kan almalidentifiseer met ’n gevoel van moedeloosheid en smagting na daai liefde wat vir ons vrede bring. Miskien is dit selfs vir die luisteraars ’n inspirasie om die fokus in hulle lewens te verskuif na dit wat regtig jou lewe verryk naamlik jou verhoudings,” sê sy.

’n Musiekvideo van hierdie hoendervleismooi enkelsnit is deur Loopgraaf Films (Adam se maatskappy) op Acorn Guest Farm geskiet. Dit vertel die storie van ’n ouer boer, Hendrik Combrink, wat op sy sterfbed lê en terugdinkaan die lewe wat hy saam met sy vrou, Elria Stynberg, gebou het op die plaas. In die terugflitse vertolk Johan Combrink en Caren van der Merwe die rolle van die jonger paartjie, terwyl Stella en Adam se eie kinders, Ellie en Klara-belle, ook in die video te sien is.

Adam Tas, met sy rasperstem en nostalgiese musiek, het beslis geen bekendstelling nodig nie. Met agt suksesvolle albums (Memories In ’n Menthol, Springbok Radio, Ben Bicycle, Storm van Liefde, Man van Stof, Want jy is Boer, ’n Tas vol Cash en Patatas en Pyptabak wat gouestatus bereik het) en verskeie radiotreffers op sy kerfstok, waaronder Gaan Sê Vir die Angels, ’n Man Soos My Pa, Draadloos Dae en vele meer, het hy een van die gewildste sangers in die land geword en al die verhoog gedeel met van die beste plaaslike talent. Adam het ook al opgetree by van die grootste konserte en feeste in die land, waaronder Huisgenoot Skouspel en was te sien in die fliek, Spook van Uniondale, saam met André Swartz, Ivan Zimmermann en Tobie Cronjé. Sy enkelsnit, So Verlief, was deel van die fliek, Vrou Soek Boer se klankbaan. Sy negende ateljee-album, Sit Kêrels, word in September 2018 vrygestel en gaan voortbou op die sielsmusiek waarvoor hy bekendheid verwerf het. Ek IS RYKsal ook op hierdie album verskyn.

Stella (Combrink) is deel van die Ghoema-bekroonde (Beste Gospelalbum), die gospelgroep Duis:Lig. Sy het 2017 haar eerste solo-album, Nuwe Môre, uitgereik. Die CD bestaan uit twaalf hoendervleismooi, oorpronklike kontemporêre snitte, wat haar gevoelvolle stem komplimenteer, en haar vaardigheid as liedjieskrywer ten toon stel. Die album het sover reeds drie treffers opgelewer, waaronder Deur Die Liefde en Die Seer, wat nommer een was op Maroela Media – kort nadat dit vrygestel is. Die titelsnit, asook Hoop In Liefde word steeds gereeld oor die radio gehoor en word baie goed ontvang. Net soos haar uitsonderlike, veelsydige stem, is die dame ook ’n vrou van vele talente en met baie hooi op haar vurk. Wanneer sy nie haar lyf musikant hou nie, is sy ook boervrou op hulle plaas in Carolina en ma van ’n agtmaande oue dogtertjie. Sy is ook mede-bestuurder van hulle gastehuis en trou-venue, Acorn Guest Farm.

Die strelende growwigheid van Adam Tas se rasperstem, is die perfekte pasmaat vir Stella se sielvolle soete, en elke noot en liriek van Ek IS RYK tref diep, bly in jou kop maal en jou laat besin oor die lewe en die liefde. Die snit is nie net ’n bewys van die twee musikante se talent nie, maar is een van daardie liedjies wat nog vir baie jare op almal se lippe gaan wees.

VOLG HOM OP

Facebook

Twitter: @adamtasmusiek

Instagram: @adamtasmusiek

Webblad

VOLG HAAR OP

Facebook

Twitter: @StellaCombrink

Instagram: @stellacombrink

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

[Kyk] Refentse bederf met ‘n nuwe musiekvideo!

Reisiger is die eerste enkelsnit vanaf sy splinternuwe album Liefdegenerasie wat 28 Sep vrystel. Akteurs …

DIE GELOFTE vir die eerste keer in Afrikaans!

Johan Vorster en Christoph Kotzé het kragte saamgesnoer en DIE GELOFTE vir die eerste keer …